Die sterkste konsensus: Jy moet jou hande skoon hou

WOENSDAG MET WILLEM

Die sterkste konsensus: Jy moet jou hande skoon hou

WILLEM KEMPEN wonder of die wêreld die volgende pandemie anders sal hanteer as die vorige een.

Image: ANGELA TUCK

WANNEER laas het jy iemand hulle hande sien skoonmaak voor hulle by 'n winkel ingaan?

Hier en daar sien jy nog by 'n ingang een van daai handewas-kontrepsies wat nie so lank gelede nie met Covid nog verpligtend was, maar die meeste van hulle lyk deesdae of hulle eintlik nog net daar staan as 'n soort monument aan ons verlossing van die pandemie. As 'n herinnering aan die tyd toe jy dit nie van die een kant van die mall tot by die ander kon gemaak het sonder om 17 keer te moet “saniteer" nie.

Maar, agterna beskou, was dít nie die enkele sinvolste van al die openbare maatreëls teen die coronavirus nie? Ek raai kiemvrye hande het meer mense gesond gehou as minstens daai vuil stukkies lap wat sommige siele as “maskers" so skuins oor die helfte van een neusgat gedra het.

(En skoon hande gaan jou vandag nog beskerm teen al die ander kieme wat nog steeds oral om ons is.)

Een van die gevaarlikste verskynsels van die pandemie was die gaping wat ontstaan het (of dalk net sigbaarder geword het) tussen een of ander vae en vloeibare “konsensus" aan die een kant, en aan die ander kant 'n hele spektrum van opinies wat gebou is op enigiets van ingeligte skeptisisme tot by volslae kranksinnigheid.

Dis die ander ding van Covid: Ons is van die begin af in kampies ingedwing. Eers was dit óf 'n regte krisis, óf dit was glad nie 'n krisis nie en als net een groot komplot. Mettertyd het die vrae komplekser geword, maar die kampies het min gebly. En hoe meer verwoesting die virus gesaai het, hoe moeiliker het dit geword om soms toe te gee dat 'n ander kamp dalk ook 'n punt beet het.

Wat my laat wonder: As die volgende pandemie môre sou uitbreek, hoe gaan ons – en ek bedoel die hele wêreld – dit anders hanteer? Gaan dit volgende keer gouer duidelik wees na wie om te luister, of wat die beste manier is om 'n pasiënt te behandel, of hoe om 'n sinvolle balans tussen mediese en ekonomiese realiteite te vind?

Of gaan ons weer maande en jare deurbring met 'n gestry oor die Sweedse versus die Italiaanse model of presies hoe immuniteit werk of watter soort masker die beste is of wie se skuld alles was om mee te begin? Of oor die geloofwaardigheid van Donald Trump of Antony Fauci of Bill Gates of die Wêreldgesondheidsorganisasie of die Chinese Kommunisteparty? Gaan selfs net een kenner van openbare gesondheid iewers in die wêreld erken dat hulle verkeerd was oor hoe die pandemie hanteer moet word?

Die grootste ironie van Covid is dat dit nog net in einste China is waar die siekte steeds 'n probleem is – dieselfde land wat die res van die wêreld help oortuig het dat inperkings 'n noodsaaklike deel van die oplossing was, is steeds nie self ontslae van die probleem nie.

En tot vandag toe weet die publiek nie vir seker hoe die virus daai eerste keer die sprong gemaak en 'n mens geïnfekteer het nie. Dalk, as ons dít eers weet, gaan daar volgende keer minder agterdog en vinniger oplossings wees.

En ons weet mos daar gáán 'n volgende keer wees.


It was deep April, and the morn

It was deep April, and the morn       
Shakespeare was born;
The world was on us, pressing sore;
My Love and I took hands and swore,  
Against the world, to be
Poets and lovers ever more,
To laugh and dream on Lethe’s shore,
To sing to Charon in his boat,
Heartening the timid souls afloat;
Of judgment never to take heed,
But to those fast-locked souls to speed,
Who never from Apollo fled,
Who spent no hour among the dead;         
Continually
          
With them to dwell,
Indifferent to heaven and hell.

– Michael Field

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.