Hoekom kan sy nie ’n heldin wees nie?

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Hoekom kan sy nie ’n heldin wees nie?

ANESCA SMITH skryf oor die standbeeld van ’n ‘doodgewone, swart Rotterdamse vrou’ wat by dié stad se treinstasie opgerig is, en die uiteenlopende reaksies wat dit ontlok het.

Image: ANGELA TUCK

Dagsê

Tot die ergernis van heel rassisties Nederland staan sy al twee weke lank daar. Reg voor die ingang van Rotterdam se treinstasie. Met so ’n ek-is-reg-vir-jou-houding.

’n Vier meter hoë standbeeld van ’n swart vrou in ’n T-hemp, sweetpakbroek en Nike-loopskoene. Op die eerste blik kom sy nonchalant en ontspanne voor, maar gly jou oë verder, sien jy die gebalde vuiste in die sakke van haar broek.

Die beeld is die werk van die Britse kunstenaar Thomas J. Price, wat bekend is vir sy bronsbeelde van swart mans en vroue wat hy “everyman” en “everywoman” noem. Met ander woorde, geen spesifieke mense nie, maar beelde wat hy saamstel uit die gesigte en houdings van verskillende mense.

Toe ek Maandag in Rotterdam kom, sien ek haar net vlugtig, want ek is laat vir werk en moet my haas vir die tram. Uit die venster sien ek ’n samedromming van mense om die beeld. Almal wil op die foto met die meisie met die Nikes wees. Ek merk dat verbygangers bosse blomme om haar voete geplaas het. Soos wanneer iemand op ’n openbare plek gesterf het.

Ongelukkig is daar ook veel kotsmislike, rassistiese aanmerkings oor die beeld. ’n Vroulike rubriekskrywer in die dagblad NRC vra giftig: “Wat het sy gedoen om ’n beeld te verdien?”

Met die onthulling op TV die vorige week kon ek sien dat veral vroue deur die beeld geraak word. Sommige is selfs in trane. Een skryf op Twitter: “(Sy verteenwoordig) ’n doodgewone, swart Rotterdamse vrou. Nakomeling van ’n geskiedenis vol uitbuiting. Iemand wat nooit gesien, gehoor of geëer word nie. Hoekom kan sy nie ’n heldin wees nie?”

Die simboliese waarde van die beeld groei ook meteens. Skaars ’n week ná die onthulling kom mense dáár byeen om te protesteer oor die dood van Sanda Dia, ’n swart Belgiese ingenieurstudent wat sterf ná ’n dodelike ontgroeningsritueel deur wit rykmanseuns van ’n studentevereniging. Hy moes onder meer ’n lewende goudvis insluk, ure in yswater deurbring, en liters jenewer en visolie drink. En terwyl hy byna leweloos daar lê, is boonop op hom geürineer.

Toe die saak uiteindelik voor die hof beland, word die verdagtes (wie se identiteit beskerm word) gemeenskapsdiens en boetes van €400 as straf opgelê.

Bo: Jan Pieterszoon Coen. Onder van links: Cornelis Lely, Willem I, genl. Christiaan de Wet.
Bo: Jan Pieterszoon Coen. Onder van links: Cornelis Lely, Willem I, genl. Christiaan de Wet.

’n Ondersoek deur die Volkskrant ’n paar maande gelede het getoon dat, ten minste in Nederland, vroue weinig met standbeelde vereer word. Swart mense selfs minder. Uit meer as 5 000 beelde wat mense voorstel, is net 11 van hulle ’n swart of bruin persoon onder wie Nelson Mandela, Mahatma Gandhi en Martin Luther King.

Die vier mense met die meeste standbeelde in Nederland is koningin Wilhelmina (17), Rembrandt van Rijn (8), Vincent van Gogh (7) en Anne Frank (6). Sonder koninginne en prinsesse eer 90% van die land se standbeelde ’n man.

En gepraat van koninklikes, daar is natuurlik vele beelde van lede van die koninklike familie, die Oranjes, deur die eeue heen opgerig. Dieselfde familie, het eergister aan die lig gekom, wat ’n fortuin van €500 000 000 opgebou het uit hulle voormalige kolonies. Met ander woorde, oor die rug van slawe heen. Is dit mense wat standbeelde verdien?

Daar word gesê dat standbeelde ons nie net iets vertel oor die statuur van die persoon wat geëer word nie, maar ook oor die tyd waarin hulle opgerig is – watter waardes in dié tyd belangrik vir die samelewing was. As dít waar is, hoop ek die meisie met die Nikes sal simbool staan vir ’n tyd van herbesinning oor wie verdien om geëer te word.

Mooi naweek
Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.