Om te behoort

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Om te behoort

ANNELIESE BURGESS vertel oor 'n gewaarwording van behoort aan 'n plek en sy mense en deel 'n gedig wat haar laat dink het.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek het die laaste paar weke gedink aan wat dit beteken om iewers te behoort – aan 'n plek en sy mense.

Ek gaan haal die storie met 'n draai.

Dinsdagoggende laai ek my dogter om 06:30 by die skool af vir “Otter”. Dis deel van die skool se avontuurprogram wat daarop gemik is om veerkragtigheid te bou. Baie verskillende sulke aktiwiteite vind plaas, maar dié een behels 'n swemmery in die modderdam. Dis vet pret in die somer, maar vat guts op 'n ysige, donker wintersoggend en groot deursettingsvermoë om dit jaar in en jaar uit te doen. Wat natuurlik die punt is.

Otter
Otter

Gewoonlik gaan hulle sommer direk klas toe ná Otter, maar dié Dinsdag is 'n eksamenblokdag en so wag ek en 'n klomp ander ouers dat die kinders klaar swem. Dis snerpend koud. Ons gesels deur ons motorvensters terwyl die kinders tussen die riete gil en die dag soos 'n botterige omelet oor die horison begin smelt.

Ek raak bewus van die gemaklike kameraderie tussen ons wie se kinders nou al so lank saamkom. En ek besef dis eintlik die gevoel van om iewers te behoort. Toe ek 'n dekade gelede met 'n snaakse, lang ompad hier aangeland het, het ek nie 'n siel geken nie. Nou voel hierdie kolletjie Oos-Kaap soos my behoortplek.

Oggend by Yellows.
Oggend by Yellows.

Die digter David Whyte sê: “We are the one part of creation that knows what it’s like to live in exile, and that the ability to turn your face towards home is one of the great human endeavours and the great human stories."

Ek kry dié gevoel weer en weer die laaste paar weke. Miskien is daar 'n  spesiale magic daaraan om presies 10 jaar op 'n plek woon? 

Die apteker wat my nou die dag op my voornaam aanspreek. Die Spar-bestuurder wat R200 vir my leen toe my bankkaart om een of ander rede nie wou werk nie. Die slagter wat presies weet hoe ek tjops gesny wil hê (al was die laaste keer maande gelede). Die bure wat inval vir 'n glas wyn. Menslike verbindings wat deur saamwees in 'n plek en bakstene van tyd gebou is.

Ek hou van die gevoel van behoort aan die plek.

Die landskap van my behoort.
Die landskap van my behoort.

Een van my gunsteling-staproetes is na die uitmonding van die Kwelerarivier (wat die locals “Yellows" noem). Dit is die naaste wat ons hier aan 'n gemeenskapsaal kom. Daar is altyd mense en karre en bakkies by Yellows. Branderplankryers. Vissermanne (die elwe loop op die oomblik). Mense wat stap en swem. Bote wat in die riviermond te water gelaat word. Mense wat sommer net sit en na die see tuur. Naweke is daar altyd 'n paar pieknieks of paarties aan die gang, word laatmiddag biere en sundowners uit koelbokse op die rotse uitgepak of skottelbraaie by die slipway staangemaak. Almal “howzit, bru” mekaar. Ek is mal oor Yellows, en die gevoel van community.

Maar my heel gunstelingtyd by Yellows is vroeg-vroeg as die son opkom. Op die oomblik is dit hier net ná sewe. Ek mik om soveel as moontlik so naby aan sewe as moontlik met my fles koffie by die rivier te wees. Daar is vir my geen beter manier om die dag te begin nie: om in die koue tot daar te stap en dan te sien hoe 'n dag oor die oseaan gebore word.

Die son sak, en kom weer op. Jordy se bakkie (regs).
Die son sak, en kom weer op. Jordy se bakkie (regs).

Die meeste oggende is Jordy die loodgieter ook daar. Sy wit bakkie met sy gereedskapskiste en lere (en branderplank) is nou al vir my 'n bekende gesig. Sy swart staffie wat op die voorste sitplek sit en hy wat langs die oop kardeur staan en koffie drink. Ons waai altyd vir mekaar, maar maak nie eintlik geselsies nie, want my koffieklip is verder af, teen die water.

Nou die dag kry ek vir Jordy in die hardewarewinkel. Hy is 'n vreeslike mooi man met 'n wilde kop krulhare en dra wit en rooi krale om sy nek. Surfer shorts. Groen Havaiana-plakkies. En praat die allerlieflikste, rollende Oos-Kaap-Engels. “Missed you at Yellas this morning, mate. Surf was pretty radical after the storm, and the sunrise is not the same without ya."

Ek kry sommer 'n warm gevoel in my hart.

Salige Sondag.

Anneliese 


For M

The number
of hours 
we have 
together is
actually not
so large. 
Please linger
near the 
door uncomfortably
instead of
just leaving. 
Please forget
your scarf
in my
life and
come back
later for it.

Mikko Harvey

(Uit die bundel Let the World Have You)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.