Wie weet wat ou wit mans kan doen?

DONDERDAG MET MERCY

Wie weet wat ou wit mans kan doen?

MERCY KANNEMEYER wonder wie presies dit is wat moet ‘terugkom' om die land te red.

Image: ANGELA TUCK

IDEOLOGIE en pragmatisme. Die rol van sogenaamde “ou wit mans” in Suid-Afrika vandag. Dit was die onderwerp van die afgelope Dinsdagaand se regstreekse uitsending van Prontuit op kykNET. Die gaste op die program was Andries Bezuidenhout, lektor in sosiologie aan die Universiteit van Fort Hare, die joernalis Echbert Boezak, en Flip Buys, die hoof van die Solidariteit Beweging.

Die gesprek is ingelei deur melding te maak van Carla Lewis se rubriek van 24 Mei op Netwerk24: “Vra ou wit mans om in SA te help”. In die rubriek skryf Lewis oor ’n ingenieursvriend wat langs die braai gesê het: “Ek wens hulle wil net ou wit mans terugbring.” Lewis skryf oor die gebrek aan institusionele kennis in staatsbeheerde groepe, en dat ’n moontlike oplossing vir die gebrek sal wees om ou wit mans in mentorsposisies te gebruik sodat jonger swart ingenieurs daardie kennis kan aanleer en toepas. Dis nou as ek Lewis se stuk reg verstaan.

Op Prontuit het Bezuidenhout onder meer gesê dat ideologie soms gebruik word om iemand op hulle plek te sit, en dat iemand wat hulleself nie as ideologies ervaar nie, kan aanvoer dat hulle die “norm” is.

Verfrissende punt. Veral omdat ek al in sommige kringe bestempel is as te ideologies, en te Stellenbosch, en te Afrikaans.

’n Mens kan maar sê dat Solidariteit ’n pragmatiese organisasie is. Hulle dóén. Buys het aangevoer dat ons dikwels op die verkeerde dinge fokus. “Ons moet die land regruk,” sê hy. Ek stem saam. Ons moet hierdie flippen land regruk! Die alewige gepolitiekery, polarisasie en ’n ander p-woord wat ek nie hier mag skryf nie, maak dat ons afdwaal van die probleme reg voor ons. Daarmee sê ek nie dat daar geen plek vir die bostaande p-woorde moet wees nie, maar ons moet op ’n manier ’n balans probeer vind.

Die hele witmansgesprek fassineer my. Wie is die ou wit mans van wie gepraat word? En gaan húlle die land kan regruk?

Image: ANGELA TUCK

Die gebruik van “wit mans” dui op ’n ideologiese sienswyse wat dikwels sonder konteks weergegee word. Dis so asof die ou wit mans die vorige bedeling verteenwoordig, en so asof die ou wit mans weet hoe die land werk, want hulle het immers hierdie land gebou.

Onwaar. Of dalk semi-waar. Hierdie land is deur my voorsate gebou. Die eerste mense. Ou wit mans het dalk stelsels geïmplementeer, maar om alles wat in hierdie land reggemaak moet word voor wit mans se deur te gooi, vat agency weg van die res van ons.

Daar is natuurlik ou wit mans wat in die vorige brutale regime 'n rol gespeel het. Menige van hulle loop ook nog hier tussen ons. Hiermee ontken ek ook nie wit bevoorregting nie. Die punt is: Ou wit mans is nie ons land se probleem nie. Ou wit mans wat in die apartheidstyd ou wit mans was, is byna almal nou al dood. Vandag se ou wit mans was daai tyd jong wit mans. Steeds wit, maar beslis nie daai tyd die besluitnemers en uitvoerende hoofde van groot maatskappye nie.

Ons moet wyer kyk en nie toelaat dat retoriek gesprekke oor identiteit en ons land eendimensioneel maak nie.

Dis laat in die dag as ons toelaat dat ideologie in die pad van nuanse staan.


Openbare besit

Die wye tuine van my kindertye
het tot 'n broeiende balkon gekrimp
waar g'n rose blom, g'n boontjie spruit
en katte sukkelende kruie kou.

Maar gaandeweg leer ek die grense
van die res publicae beproef:
groet daagliks al die bome van die stad
en eien elke park my toe.

– Martjie Bosman

(Uit: Landelik)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.