Die giertjies van sekere gardes

DONDERDAG MET MERCY

Die giertjies van sekere gardes

MERCY KANNEMEYER wil net nie ’n ‘dametjie’ genoem word nie.

Image: ANGELA TUCK

Haai. Laas week skryf ek toe mos oor ou wit mans. Maar weet julle wie moet ook na die gesprek toe nader skuif? Ouer bruin mans. Bruin mans moenie dink hulle kry ’n free pass nie. Hier sluit ek my pa en my broer en my oupa en ons hond Kleintjie in. Sien? Geen free passes nie.

Voordat ek wegval, herinner ek myself net dat veralgemening ’n dodelike siekte is. ’n Pes. So, ek waak daarteen. Maar ek sal my job baie swak doen as ek nie bietjie na ouer bruin mans ook kyk nie. Hulle is nie ’n homogene groep nie. Maar tog is daar ’n sekere tipe ouer bruin man wat gereeld my bors warm maak.

Kom ek wees spesifiek.

Toe ek op laerskool was, het ’n OBM-onderwyser ná afloop van ’n wiskundetoets in my oor kom fluister: “Jy’s toe after all nie so slim nie, nè, Kannemeyer ...” Ek kon sy drankasem ruik en ek het sulke koue rillings gekry. Ek het daai middag vir my ma gesê wat gebeur het. My ma sê toe sommige mense is maar net so venynig. Ek moes met die hele sak patats uitkom en aan my ma bieg dat hierdie spesifieke onderwyser my al byna die hele jaar boelie. Verbeel jou! ’n 50-something jaar oue man wat beef met ’n meisie van skaars 14?! Weird. My ma was nie lui nie en sy is skool toe om hom op sy plek te sit. Hy vra toe vir my ma hoekom het my pa nie eerder skool toe gekom nie, want my pa sou verstaan. Soos ek hierdie nou hier oorskryf, voel dit so bietjie soos ’n koorsdroom.

Image: ANGELA TUCK

En dan my eie pa. Julle. Ek is baie lief vir die man. Maar wow! Dit het my ure gevat om hom aan nuwe dinge voor te stel! Toe ek hom van homofobie vertel, het hy volgehou hy het ook fobies. Hy is bang vir spinnekoppe, so wat maak dit hom? ’n Spinnefobie?! En dan is daar net giertjies wat manne van daai garde nie maklik geskud kry nie. My pa kan nie sonder sy brille sien nie. Maar dra hy sy bril gereeld? Nee.

Dan is daar natuurlik die tipes wat ’n jong vrou “jong dametjie” noem, of die tipes wat jou gereeld sal onderbreek, gereeld jou intelligensie sal onderskat, gereeld jou sal herinner dat jy ’n sekere rol in die samelewing speel (gewoonlik sluit dit voortplanting in!), en daai tipes wat maak asof hulle aandele in die vorige bedeling gehad het, so almal moet tog net regop sit en luister wanneer hulle praat.

Ja ja ja. Dis dalk nie ’n raskwessie nie, dis dalk net chauvinisme. Dis dalk ook net ’n geval waar niemand al ooit vir sommige mans gesê het om bietjie stil te bly nie. Niemand het dalk al ooit vir die spanne gesê om bietjie wyer as hulle adamsappels te dink nie. Die onus rus op ons almal om die mense in ons lewe gereeld op te voed. Moet my net nie “dametjie” noem nie.


Spinnekoppie

'n Soetrissie-rooi stippie
snel oor die boek op agt wimpertjies
ongehinderd deur die wind.
Amper-nie raak ek hom aan
en sien 'n pienk smeerseltjie
op die jammer papier.

– Sheila Cussons

(Uit: die asem wat ekstase is)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.