Anyone here been raped and speaks English?
Volgens die Britse oorlogskorrespondent Edward Behr het ’n TV-verslaggewer dit geskreeu aan ’n versamelde menigte vlugtelinge wat in die chaos en geweld van Zaïre se onafhanklikwording in 1960 vasgevang is. Dit is ook die titel van sy 1978-memoires.
Meer as 400 mense, heelwat van hulle kinders, het 13 dae gelede ’n aaklige dood gesterf toe hulle boot aan die suidelike kus van Griekeland omgeslaan het.
Hoeveel het jy daarvan gelees/gehoor in die media wat jy gebruik?
Wat ek wel met min twyfel kan konstateer, is dat seker elke mens wat hier lees deeglik kennis dra van die mini-duikboot met vyf mense wat laas week na die wrak van die Titanic aan die kus by Newfoundland op pad was en deur die waterdruk vermorsel is.
Wanneer Rusland missiele en bomme op Oekraïniese dorpe en stede laat reën, neem ons deeglik kennis, selfs as net een of twee mense sterf. Sowat 9 000 burgerlikes het die afgelope 16 maande in dié konflik gesterf.
Ons kyk byna daagliks na tonele van die gevegte in Oekraïne en pres. Volodymyr Zelensky voel soos ’n ou bekende.
In Soedan is sowat 5 000 mense net in die afgelope drie maande in die gevegte tussen die magte van twee krygshere dood en is meer as 2 miljoen mense ontheem. Honderdduisende ly honger. Weet jy enigiets van dié oorlog?
Die meer as 700 mense op die vissersboot wat by Griekeland omgeslaan het, was vlugtelinge, meestal van Pakistan, Egipte en Sirië. Net 104 is gered.
Die mans op die Titan-duikboot was skatryk Amerikaners.
Dis nogal skreiend, nie waar nie?
Maar dit is ook nie so eenvoudig nie.
Dit is dalk ’n goeie tyd om te besin hoe ons in die media namens die publiek besluit wat is nuus en wat is nie, waarvan behoort jy te weet en wat is onbelangrik.
Dalk moet ons sommer ook besin oor die vraag of vermaak en verkoopbaarheid vir die media belangriker is as om die openbare mening behoorlik ingelig te hou.
Dis die ou vraag waarmee ons meer ernstige joernaliste deurentyd worstel: The public interest or the interest of the public?
Dis die ou vraag waarmee ons meer ernstige joernaliste deurentyd worstel: The public interest or the interest of the public?
Is die gesondheid van ’n oudrugbyspeler in die waakeenheid werklik groot voorblad-hoofopskrifte en daaglikse opdatering werd? Hoe belangrik is ’n deelnemer aan Die Housewives van die Wynlande se skinderstories oor haar kollegas?
A, skinder.
Ek was nog altyd ’n “ernstige” joernalis. Ek het nog nooit oor celebrities of mense se privaat skandes geskryf nie, tensy dit ’n politieke relevansie het. Maar laat ek my nie hier hoogheilig hou nie. Ek skinder self ook maar en geniet soms ander se sappige skinderstories.
Die evolusionêre sielkundige Robin Dunbar skryf in ’n insiggewende referaat, “Gossip in Evolutionary Perspective”, dat skinder, of geselsies oor sosiale onderwerpe, Homo sapiens se weergawe van primate se grooming van mekaar is en ’n belangrike evolusionêre rol speel.
“Were we not able to engage in discussions of these [social and personal] issues, we would not be able to sustain the kinds of societies that we do. Gossip in this broad sense plays a number of different roles in the maintenance of socially functional groups through time,” skryf sy. Ander navorsers praat weer van skinder as “cultural learning”.
As skinder so ’n belangrike deel van ons as mense se daaglikse lewe is, dan kan ons seker nie die media kwalik neem dat hulle hulle ook soms daaraan skuldig maak nie?
Ek sou egter wou redeneer dat ons in die media versigtig moet wees om nie sommer net skinderstories oor bekendes of belangrikes as belangrike nuus aan te bied nie.
Terug by oorloë en rampe.
Die aanhaling van Edward Behr hier bo wys iets uit wat gewone verbruikers van media nie altyd goed verstaan nie. As ’n joernalis nie toegang tot ’n nuustoneel het nie, as jy nie die mense op so ’n toneel verstaan of met hulle kan kommunikeer nie, kan jy nie regtig behoorlik verslag daaroor doen nie.
Die onlangse bloedige oorloë of konflikte in lande soos Ethiopië, Soedan, die DRK, Iran, Haiti en Jemen is grootliks ontoeganklik vir joernaliste, in kontras met Oekraïne, waar ’n joernalis in relatiewe veiligheid en uit ’n vyfsterhotel verslag kan doen.
Maar ons mag dit nie as verskoning gebruik om nie ons allerbeste te doen om dié konflikte onder lesers/kykers se aandag te bring nie. Al Jazeera het byvoorbeeld ’n span in Soedan wat waardevolle verslagwerk doen, terwyl die meeste Westerse (en Suid-Afrikaanse) media dit grotendeels ignoreer.
Ons as joernaliste moet alewig iemand soek wat ’n storie ’n mens se gesig kan gee, ’n persoonlike verhaal wat die groter storie uitbeeld, anders word dit ’n stuk met syfers en verklarings waarin min mense gaan belangstel. En dié mens moet verkieslik fotogenies wees en ’n taal praat wat die joernalis en/of gehoor kan verstaan. Dit klink kru, maar in die praktyk werk dit so. Verbruikers van media moet dit verstaan en verreken wanneer hulle iets lees.
’n Relevante faktor is dat die taksering van hoe nuuswaardig iets is, beïnvloed word deur hoe onverwags of ongewoon dit is. In Sydney of Stockholm is ’n enkele moord nuuswaardig; in Suid-Afrika word gemiddeld 80 mense elke dag vermoor.
Wat myns insiens belangrik is, is dat ons as joernaliste altyd moet besef dat ons keuses van berigte en die prominensie daarvan ’n groot invloed op die openbare mening het.
’n Voorblad-hoofberig stuur die boodskap dat die storie baie belangrik is, veel belangriker as die storie op bladsy 2 of 17. ’n Sportster se gesondheid of manewales is dus belangriker as ’n konflik of ’n probleem wat vele mense se welsyn aanraak.
As ons beriggewing die indruk skep dat vyf skatryk Amerikaners se lewens belangriker is as honderde vlugtelinge s’n of dat mense wat in Soedan sterf minder werd was as mense in Oekraïne, versterk ons vooroordele en ondermyn ons ’n gebalanseerde openbare lewens- en wêreldbeskouing.
Dit het my ’n paar maande gelede opgeval dat die meeste van ons plaaslike media veel groter prominensie verleen het aan ’n berig oor ’n massaskietery in Amerika waarin agt mense dood is as aan ’n skietery in ’n township-sjebeen in Suid-Afrika waarin ses mense afgemaai is.
Ons as joernaliste kan nie maklik die verskoning gebruik dat ons lesers/kykers meer in gebeure in die Weste as in die globale suide belang stel nie – dit is grotendeels weens óns toedoen dat dit die geval is. As jy daagliks van Donald Trump en Joe Biden en van Boris Johnson en Rishi Sunak lees, stel jy outomaties meer daarin belang as in die staatkunde van ons vasteland, Asië of Suid-Amerika waarvan jy nooit iets te lese kry nie.
Ons mediamense se daaglikse keuses bepaal in ’n groot mate waaroor ons gemeenskappe praat en dink.
Ons moet dié verantwoordelikheid baie ernstiger opneem.
– until the sea shall free them
by gladdeklip staan ons na 'n see
wat voor ons hier was en ná ons sal sloer
'n see sonder opinies oor sonsopkomste
of -ondergange of drywende sakke
'n see wat vere voel vir vlae
of stuurmanne of rampsalige passasiers
'n see wat onophoudelik beduie
met rooi en wit anemone
maar soos my pa verseg om enigiets te sê
– Tom Dreyer
(Uit: Nou in Infrarooi)
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.