’n Geheime wapen teen die alledaagse

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

’n Geheime wapen teen die alledaagse

DEBORAH STEINMAIR sê poësie is ’n geheime wapen wat revolusies kan laat opvlam; 'n dwelm wat benewel.

Image: ANGELA TUCK

Uitgewers publiseer al hoe minder digbundels, want dit verkoop so treurig. Selfs ’n oplaag van 500 is moeilik om van die hand te sit. Ons lees te min poësie. Ek weet nie hoekom nie, want dis ’n geheime wapen wat revolusies kan laat opvlam, ’n dwelm wat benewel. Dis subversief, gevaarlik en hoogs verslawend. Almal kla dat hulle nie tyd kry om te lees nie. Gedigte is kort en kan in teetyd of op die trein ingeneem word. Vensters waai oop in jou kop en jou dag verkry die ritme van ’n sensuele skuifeldans.

Ek het onlangs oor Tom Dreyer se Nou in infrarooi geskryf wat my oorrompel het. Nog ’n klein bundel met groot skop het kom aantree op die rak: Pieter Odendaal se Ontaard. Pieter het van jongs af aandag getrek. Hierdie is sy tweede bundel. Sy debuutbundel, Asof geen berge ooit hier gewoon het nie, handel oor die politiek van verskil en uiteindelik vra hy die vraag: Re mang? Wie is ons? En wie is hulle?

Ontaard is meer persoonlik, en ook betrokke. Hy skryf oor sy voorsaat, ’n VOC-soldaat wat op ’n skip hier aangeland het: “’n ontmoeting van waters is ek / ’n samevloei van sout en vars / waar oestervangers meeue mense / deur getye stroom ...”

Hy dig oor sy tweelingbroer wat in die baarmoeder dood is: “al die heilige klippe weet van jou / en jou ma en broer wat jou nooit sien mens word het nie.”

Besonder aangrypend vir my is die gedig “Scenes from a gay childhood” wat hard moker en só eindig:

ek hol terug huis toe
my tas sny deur my sleutelbene
iemand het moffie in die laaste klas geproes
ek vra vir jesus om vergifnis
fokken kak! fokken kak fok fokken kaaaak!          skree ek
vir die eerste keer in my lewe

die wind slinger my krete
en die seuns se frozen harte
in die straat vol leë bome af
waar jy my nie kom soek nie

ek trek die streepdas styf om my nek      
          lag van die huil
vir die vryheid in my mond

Sy gedigte is grinterig, oor onmooi dinge soos mynhope, en gestroop, eenvoudig, vol gravitas en ’n gelate ennui, soos:

dit is winter of somer
alles gebeur gelyk
en kruie vir ewig aan

ons bly op ’n plot
vol hadidas en hase
tamaties, aarbeie en uie

Die digter scroll dating apps op soek na muses:

ek message ’n kwatryn vol klanke en beelde
groen middae, sypaadjies, stof en sweet
slaapkamervensters knetter in die wind
lywe commune tussen lakens in die goue uur

ek stort en was die droewe dag weg
wag vir my muse om sy location te stuur

Daar is verse oor reise en intieme ontmoetings met vreemdelinge, en verlange:

gisteraand het ek my afgedroog
en kaal in die badkamer bly staan
want die man in die bed was nie jy nie
en ek was nie sy eks nie

“as ek opstaan voor ek sterf” eindig só:

terugstap huis toe
onder die ver blou duvet inkruip
en my skelet by die hitte
van jou vel ontdooi

In “die sorgvryste droom oor pa in jare” daal ’n skare hadidas, flaminke, papegaaie neer:

hulle land soos ’n kweer kwilt om ons
vou hul vlerke saam soos tuiskoms

Hier is lieflike, sterk homo-erotiese verse en gedigte oor ontheemding, verlies en verlange. Dit maak ’n geweldige aanspraak. Koop die bundel.


hasepad
vir X

Jy’t die apokalips voor die res van ons gesien
en koekgesny deur die stil gras huis toe

– Pieter Odendaal

(Uit: Ontaard)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.