’n Kennedy hier en ’n Alsiende Oog daar ...

WOENSDAG MET WILLEM

’n Kennedy hier en ’n Alsiende Oog daar ...

WILLEM KEMPEN skryf oor nog ’n Kennedy wie se kop Withuis toe staan.

Samesweringsteorieë kan nogal prettig wees. Die bestes betrek antieke geheime ordes met okkulte simbole, fabelagtige hoeveelhede geld en mag, en sinistere families of broederskappe wat al eeue lank heimlik oor ons almal regeer. En natuurlik een of ander Groot Geheim, wat die wêreld onderstebo sal keer as dit die dag uitkom.

Image: ANGELA TUCK

Die binnekring van ingeligtes sal nie huiwer om ’n sluipmoord te reël of ’n regering tot ’n val te bring of selfs ’n oorlog iewers te orkestreer om die Groot Geheim te help bewaak nie. Ten spyte hiervan hou hulle om onverstaanbare redes daarvan om oral gekodeerde leidrade oor hulle bestaan te plant sodat die Dan Browns van die wêreld dit vir ons almal kan ontsyfer. ’n Alsiende Oog hier en ’n kristalpiramide daar, en siedaar: Die storie leef voort tot aan die einde van tyd, of as die Ancient Aliens terugkeer (as hulle nie reeds hier is nie).

Die bewaking van die Groot Geheim noodsaak gewoonlik langs die pad ’n swetterjoel mindere geheimpies, en die beste samesweringsteorieë is dié wat die grotes en die kleintjies ewe maklik verklaar. Neem byvoorbeeld een van my eie gunstelinge: dat die ganse Rooms-Katolieke Kerk hoofsaaklik tot sy nou kwynende almagtigheid gegroei het danksy ’n ambisieuse projek van ’n paar invloedryke families uit die laaste reste van die antieke Romeinse era wat wou seker maak hulle rykdom en mag bly staan, kom wat wil.

Nou, my geloof in dié teorie is soos ’n mosterdsaadjie: klein en broos, maar dit gee nogtans ’n lekker smakie aan soveel dinge as jy dit in die regte sop saam in die pot gooi. In daai soort sop kan alles saamkook van die Cosa Nostra tot by die ontvoering van die Italiaanse premier Aldo Moro in 1978 tot by die bisarre dood van “God se bankier”, Roberto Calvi, in 1982. Met ’n paar eetlepels Mussolini en ’n skeut Berlusconi na smaak. En neem alles nodeloos om te sê met ’n knippie sout.

Die goue draad deur al dié dinge is geheimhouding. Hoe meer geheimhouding daar is, hoe makliker gaan die manne (en ook nie nét die manne nie) mekaar begin afdreig of beskerm as hulle mekaar se geheime begin deel. Hoeveel van die kindermolestering wat in die fliek Spotlight uitgebeeld word, sou byvoorbeeld moontlik gewees het as dit nie was vir daardie kultuur van geheimhouding nie?

Robert F. Kennedy junior
Robert F. Kennedy junior

Terselfdertyd kan mens dinge openbaar maak op so ’n manier dat dit eintlik net wys dat jy nog baie het om weg te steek. ’n Goeie voorbeeld is die tydsberekening verlede week – Vrydag om middernag – van die Amerikaanse regering se aankondiging dat sowat 1% van die amptelike dokumente oor die sluipmoord op John F. Kennedy in 1963 stééds nie openbaar gemaak gaan word nie.

Deels in reaksie op Oliver Stone se fliek JFK het die Amerikaanse Kongres in 1992 die John F. Kennedy Assassination Records Collection Act goedgekeur, waarvolgens alle inligting daaroor in die staat se besit teen Oktober 2017 vir die publiek toeganklik gemaak moes word. Tog het eers Donald Trump en sedertdien Joe Biden die wet heel teësinnig eerbiedig, en vrystellings van verdere dokumente (dikwels boonop met dele uitgehaal) is verskeie kere uitgestel op advies van die FBI, die CIA en ander nasionale veiligheidsagentskappe. Lees meer daaroor hier.

Een van die mense wat in reaksie hierop twee en twee bymekaargesit en die vierkantswortel van nul gekry het, is een van die vreemdste karakters in die Demokratiese party: Robert F. Kennedy junior. Einste hy wat al jare lank beweer die CIA het ’n hand gehad in die sluipmoord in 1968 op sy pa, die destydse prokureur-generaal wie se naam hy gekry het, én vyf jaar tevore op sy pa se broer in Dallas, Texas.

John F. Kennedy en sy vrou, Jackie.
John F. Kennedy en sy vrou, Jackie.

Goed en wel tot dusver, maar Robert junior glo ook in ’n paar ander sameswerings. Sy 2021-boek The Real Anthony Fauci: Bill Gates, Big Pharma, and the Global War on Democracy and Public Health het ’n miljoen kopieë in die VSA verkoop. Hy staan bekend as ’n “MAGA Democrat” en sy politiek is in verskeie opsigte veel nader aan dié van regses soos Roger Ailes en Steve Bannon as aan sy eie party. Boonop staan sy kop Withuis toe; minstens die vierde Kennedy met sulke ambisies.

Hy is waarskynlik nie gewild genoeg om die Ovaalkantoor te haal nie, maar hy kan dit dalk nou net dit vir die Demokrate moeiliker maak om Trump II of DeSantis I daaruit te hou. En sal dit nou nie ironies wees as ’n sameswering van meer as ses dekades gelede weer ’n rol speel in wie die volgende Amerikaanse president gaan wees nie?


Power out!

Power out! 
All dark and black ...
Fret not
Body bumps 
Hands gliding softly 
Feet and the floor 
Rug! Another rug! 
Body bumps into another 
We mesh and dance swiftly 
Away in the dark! 

– Hayley Broadway

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.