Oor boelies en skaapstertjies

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Oor boelies en skaapstertjies

ANNELIESE BURGESS vertel van 'n kuier in die Riebeekvallei en 'n vroeë middagete van skaapstertjies op polenta.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek groet uit die lieflike Riebeekvallei waar ek gisteraand by oudkollega Annelize Visser gekuier het. Michélle Meyer, 'n  Vrye Weekblad-bydraer, was ook by.

Annelize het, soos gewoonlik, die allerheerlikste kos gemaak. 'n Uie-olyf-en-ansjovistert (waarvan ek en Michélle die laaste stukkies vanoggend skelm uit die bak geëet het toe ons vir ons tee gemaak het), 'n absoluut verruklike beet-en-kokosneutkerrie, asook sitruspoeding, Japie se Gunsteling, 'n wenner uit Kook en Geniet.

Image: ANNELIESE BURGESS

Maar die eintlike lekker ding van sulke kuiers met ou vriende is die lang draaie gesels. Dit was vrekkoud. Ek en Annelize het letterlik binne-in die groot vuurherd gesit, Michélle op 'n stoeltjie teenaan die vuur. Ek besef elke keer as ek tyd met my hartsvriendinne deurbring hoe anders dié soort gesprekke is as wanneer mens iewers in 'n groot bondel kuier – iets wat ek al hoe minder geniet. Daai doellose getjommel rondom gemeenplasighede verveel my deesdae.

Ons gesels gisteraand onder meer oor boelies. En wat dit beteken om 'n sterk mens te wees. 

Hoeveel keer moes ek al aanhoor dat ek “bang is vir konfrontasie" – asof dit 'n aanklag is. Terwyl mense wat nie skroom om ander mense te kwets met hulle woorde en stemtoon nie, as “reguitpraters" beskou word – blykbaar 'n ideaal om na te streef.

Ons kom in die laatnag tot die slotsom dat daar 'n inherente swakheid is in die karakter van kwetsende reguitpraters. Dat baie daarvan te doen het met 'n gebrek aan selfinsig en 'n onvermoë om jouself in 'n ander se skoene te plaas.

Image: ANNELIESE BURGESS

Soos my pa altyd gesê het: “The measure of good character is a person's ability to give the other person the benefit of the doubt." Mens hoef nie ander te kwets om jou standpunt te stel nie. Jy hoef nie ander af te kraak om jou punt te maak nie. En mens hoef nie altyd reg te wees nie.

Die Engelse woord “courage" kom van die ou Franse woord “coeur", wat “hart" beteken. Vir my beteken dapperheid – en hier praat ek nie van hoe jy reageer as iemand by jou huis inbreek nie – hoeveel jy bereid is om jou hart op die spel te sit in jou omgang met ander.  

Vanoggend is die son uit. Ons ry vroegoggend van Riebeek-Wes na Riebeek-Kasteel op soek na koffie. Die vallei lê onder 'n wit deken dik mis. 

Image: ANNELIESE BURGESS

Ek en Annelize en Michélle wandel deur die Saterdagmark op die plein en drink (Illy)-koffie in Short Street.

Image: ANNELIESE BURGESS

Annelize kondig aan dat 11:30 glad nie te vroeg is vir 'n glas wyn nie. Ons gaan lunch. Die Babylon's Peak-chenin is spotgoedkoop. En heerlik. Ons eet skaapstertjies op polenta.

Viskoekie (links). Heerlik! Skaapstertjie (regs) - ongelooflik lekker.
Viskoekie (links). Heerlik! Skaapstertjie (regs) - ongelooflik lekker.
Image: ANNELIESE BURGESS

En ons gaan maak 'n draai by Anton Espost, eienaar van The Wine Kollective, my gunsteling-wynwinkel in Suid-Afrika. Ek koop vir my 'n kis Babylon's Peak. En soos altyd gee hy vir my 'n pasella bottel wyn for old times' sake. Die bottel is dik ge-tjap met die pryse. Villa Esposto se 2022 Chenin Blanc.

Image: ANNELIESE BURGESS

Anton verkoop nie slegte wyn nie. Elke bottel in sy winkel is fantasties. Gaan loer na sy aanbieding by thewinekollective – hy lewer oor die hele Suid-Afrika af.

Salige Sondag
Anneliese


Anniversary,

Didn’t I stand there once,
white-knuckled, gripping the just-lit taper,
swearing I’d never go back?
And hadn’t you kissed the rain from my mouth?
And weren’t we gentle and awed and afraid,
knowing we’d stepped from the room of desire
into the further room of love?
And wasn’t it sacred, the sweetness
we licked from each other’s hands?
And were we not lovely, then, were we not
as lovely as thunder, and damp grass, and flame?

Cecilia Woloch

 

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.