SlimWim kort ’n bruin vrou met ’n lekker bek en ’n vuil kyk...

DONDERDAG MET MERCY

SlimWim kort ’n bruin vrou met ’n lekker bek en ’n vuil kyk as sy nuwe adviseur

Die ding met Maties se rektor voel soos ’n onder-die-bus-gooi-situasie, as jy haar vra, sê MERCY KANNEMEYER.

Image: ANGELA TUCK

My alma mater – die Universiteit Stellenbosch – sorg vir gereelde vermaak.

Op Dinsdag 4 Julie reik die rektor en visekanselier, prof. Wim de Villiers, ’n verklaring uit ná afloop van die Lewiskomitee se bevindings rakende die rektor se diskresionêre plasings. Vir diegene wat vergeet het: nefiegate. Dit het vroeër vanjaar aan die lig gekom dat SlimWim, soos die rektor in sommige kringe bekendstaan, familielede van sy vrou vir mediese studies aan die US gekeur het … Klink omtrent na ’n telenovela!

Die kort van die lank is dat Wim van alle aanklagte vrygespreek is.

Wim skryf in sy verklaring: “Ek is innig spyt oor die omstandighede en gebeure wat tot dié vergadering gelei het. Ek erken openlik dat ons universiteit ’n besonder uitdagende tyd beleef het weens die aantygings teen my. Dit was ’n baie moeilike, spanningsvolle tydperk vir almal wat die beste belange van die Universiteit op die hart dra; ek besef alte goed watter enorme hoeveelheid tyd, moeite en energie dit geverg het.”

Die “enorme hoeveelheid tyd, moeite, en energie” is natuurlik aangepor deur al die media-aandag wat nefiegate ontvang het. Die media het “wyd berig”, soos Wim skryf.

Toe Wim se verklaring in my inboks beland, het ek verwag om weereens vermaak te word. Maar nie hierdie keer nie. Hierdie keer sien ek, soos wat die Lewiskomitee ook gesien het, dat Wim ’n eerlike en betroubare man is. Die paar kere wat ek vir Wim al op die universiteitsterrein raakgeloop het, was hy vriendelik en gereed om geselsies aan te knoop. He’s not a bad guy.

Ek onthou daai jaar toe aangekondig is dat Wim ons nuwe rektor en visekanselier gaan word, hoe opgewonde menige student was. ’n Foto van Wim in sy wit doktersjassie het op sosiale media die rondte gedoen, en studente het so ewe gespot dat hulle nou nie weer met hulle vervalste doktersbriewe sal kan wegkom nie.

Wim aanvaar volle verantwoordelikheid vir die foute wat met nefiegate gemaak is, en hy vra om verskoning. Sy verskoning lees werklik asof dit uit die hart uit kom. In die era waarin ons nou leef waar universiteite brand, is dit werklik ’n ligpunt om te sien dat ’n rektor verantwoordelikheid vir sy foute neem, en dat daar planne in werking gestel word vir soortgelyke foute om nie weer gemaak te word nie.

Wim gaan nou op sy healing journey. “Ek aanvaar verantwoordelikheid hiervoor en verbind my voluit daartoe om aan die helingsproses mee te werk. Dit sal nie weer gebeur nie – minstens nie solank ek in beheer is nie – want hierdie beleide sal óf afgeskaf óf hersien word volgens die toepaslike wigte en teenwigte wat geld”.

’n Paar belangrike punte uit die verslag wat Wim ook in sy verklaring aanhaal, is die volgende:

  • Wat bewerings van oneerlikheid betref: Die Rektor het sy verbintenis met die twee kandidate aan ’n senior kollega verklaar voordat plekke aan hulle toegeken is. Die advies aan hom was dat hy op grond van die diskresie wat aan hom verleen is, wel die plasings kon maak. Daar is geen bewys – ook nie op ’n oorwig van waarskynlikheid nie – dat die Rektor oneerlik opgetree het met die bedoeling om te mislei of ’n wanvoorstelling van ’n posisie te maak nie.
  • Die feit dat die Rektor nie kon voorsien dat enige diskresionêre plasing van 'n familielid kon of sou lyk soos gunsbetoon nie, is bejammerenswaardig en dui op ’n gebrek aan etiese insig.
  • Die plasing van die twee familielede van sy vrou en die Rektor se hantering van die plasings, asook die aandag wat hierdie aangeleentheid gelok het, het kollegas se vertroue in hom geskaad. Die Rektor het bevestig hy sal daaraan werk om die vertroue te herstel.

Hierdie hele situasie is amper-amper perfek. Ja, Wim is vrygespreek, betroubaar, nederig en hy neem verantwoordelikheid. Ek het net ’n paar vrae. Wie is die senior kollega aan wie Wim alles verklap het? Is dit die registrateur Ronel Retief? En hoekom is die senior kollega dan stil? Voel soos ’n onder-die-bus-gooi-situasie, as jy my vra. Ek glo nie die “gebrek aan etiese insig” nie. Die man is ’n mediese dokter! Hy’s ’n navorser! Hy ken van etiek, man! Of vlieg etiek by die venster uit wanneer familie betrokke raak? Twyfel. Wim het sy kollegas se vertroue in hom skade gedoen. Dis vir seker.

In menige opsig verskil ek van Wim se visie vir die Universiteit Stellenbosch. Maar hey, ek is g’n rektor nie. Ek is bloot passievol. Ek wens Wim wou Afrikaans en moedertaalonderrig aan die US werklik prioritiseer. Ek wens Wim wou bietjie meer raakvat met kwessies wat met diskriminasie en rassisme en ongelykheid verband hou. Ek wens Wim kon ’n fermer hand hê op politieke belangegroepe wat hulle stempel so kwaai op die universiteit afdruk.

Hopelik is Wim se nuwe senior regsadviseur (dis op aandrang van die Lewiskomitee dat hy een kry) ’n bruin vrou met ’n lekker bek en ’n vuil kyk. Die toekoms van ons universiteite lê myns insiens in die anties wie se hande vir niks verkeerd staan nie.


die keiser sonder klere

die keiser sonder klere
gaan soek sy heil in groot gewere
soos die man wat sonder onderbroek
sy redding in geweld gaan soek

– Emma Bekker

(Uit: Skryn)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.