Stockholm nie net die hoofstad van Swede

MAANDAG MET MAX

Stockholm nie net die hoofstad van Swede

MAX DU PREEZ sê ons het nie ’n revolusie nodig om die land ’n baie beter plek vir almal te maak nie, net eerlike, harde werk.

Ek vang myself gister dat ek amper-amper lus is en spring terug op die Thuma Mina-bus.

Elke oggend wanneer ek wakker word, kyk ek gou wat die beurtkragskedule vir die dag is. Hier waar ek bly, was ons ’n hele week lank net twee uur sonder elektrisiteit. Wat ’n bonus. Vyf sterretjies vir Eskom.

Ek is dankbaar en trots as daar water in my krane is en die vullislorrie kom op skedule in my straat aan. Ek ry ’n draai om die slaggat op my weeklikse roete en dink, ag, dit kon baie erger gewees het.

Ek kyk na die woeste tonele op televisie oor die gewelddadige, vernielende proteste in Frankryk nadat ’n polisieman ’n tienderjarige sonder provokasie doodgeskiet het.

Toe ons twee jaar gelede plundering en anargie in veral KZN ervaar het, het die Westerse wêreld gesê dit dui op gevaarlike onstabiliteit en het hulle burgers gewaarsku om nie hierheen te reis nie.

Ons politici lyk nie veel vrotter as die lot in Trump-Amerika en Johnson-Brittanje nie, dink ek stilletjies.

Jy sien, sê ek vir myself, dit gaan maar oral sleg; die wêreld is ’n omgekrapte plek. Ons moet dalk nie so hard op onsself wees hier aan die suidpunt nie.

Dis nou presies wat ’n mens Stockholm-sindroom noem.

Dié verskynsel het sy oorsprong in die vreemde gedrag van gyselaars tydens ’n uitgerekte bankroof in die Sweedse hoofstad in 1973 waar hulle die rowers begin vertrou en ondersteun het.

Dit word nou algemeen gebruik vir die sielkundige verdedigingsmeganisme om trauma te hanteer. Mense ontwikkel positiewe gevoelens, selfs toegeneentheid, met dié wat hulle gevange hou of mishandel. Dis ’n coping mechanism.

Ly die miljoene swart landgenote wat meestal weens ANC-wanbestuur en korrupsie in haglike omstandighede leef en werkloos is, maar steeds vir die ANC stem, dalk aan ’n akute vorm van Stockholm-sindroom?

Dit is natuurlik waar dat ons nie die enigste land met ’n vrot regering, verkrummelende infrastruktuur en erge armoede is nie.

Dit is ook so dat daar sogenaamde Eerste Wêreldlande is met weergawes van ons eie Mbalulas, Nxesi’s, Zulu’s, Malemas en selfs Zumas.

Ons moet ons seëninge inderdaad tel en nie ’n selfbejammerende moangat-nasie word nie.

Maar as ons die verval en wanbestuur in Suid-Afrika as normaal of onafwendbaar begin aanvaar, gaan dit net erger raak.

Image: ANGELA TUCK

Ek het die ander dag ’n Vrye Weekblad-leser wat die ANC-regering aangeprys het, teen die “soft bigotry of lowered expectations” gewaarsku – waar jy mindere verwagtings van iemand of ’n groep mense het weens hulle etniese of ander status.

Ons nasionale rugby- en krieketspanne is meestal in die topvyf in die wêreld. Daar is baie meer sokker- as rugby- en krieketspelers in die land. Maar Bafana Bafana staan op nommer 12 in Afrika en 67 in die wêreld. Kleiner, armer lande soos Marokko, Colombia, Senegal, Ecuador, Tunisië en Kameroen is almal in die top-50; selfs ’n verarmde, sukkelende staat soos Burkina Faso is 12 plekke hoër as Bafana Bafana op die ranglys.

Die enigste verklaring is patetiese bestuur van die sport, en visieloosheid. En ons aanvaar dit maar en borrel oor van patriotisme as Bafana vir Lesotho 1-0 wen.

Ons blameer die swak onderwysuitslae op apartheid en armoede, maar daar is ’n dosyn of so skole in van die heel armste gemeenskappe in ons land wat uitstekend vaar omdat daar ’n ywerige, besielende skoolhoof, onderwysers en ouervereniging is.

Daar is ’n hele klomp staatshospitale en klinieke, en nie net in die Wes-Kaap nie, wat baie goeie, menswaardige diens aan pasiënte verskaf. Maar die grootste gros, met dieselfde begrotings en hulpmiddele as die suksesvolles, is afgryslike plekke.

Laas week was daar weer nuus van nóg ’n eens suksesvolle plaas of landbou-onderneming wat weens wanbestuur ná die oordrag aan opkomende boere ineengestort het. Die ANC dreig bloot om méér kommersiële boere van die grond af te dwing.

Kortom, die ANC het lankal uit verskonings geraak om hulle mislukkings op die verlede en armoede te blameer.

Suid-Afrika kan ’n baie meer suksesvolle, funksionerende land wees sonder dat ons die middelklas en die rykes meer belasting laat betaal of by die Weste gaan bakhand staan.

Elke amptenaar moet net sy/haar werk goed doen, bestuurders moet behoorlik bestuur en die regerings op nasionale, provinsiale en plaaslike vlak moet sorg dat dit gebeur. En ophou mors en steel.

Ons moet hulle almal beter op hulle tone hou, en nie net met ’n gekerm op Facebook of Twitter of om die braaivleisvuur nie.

Ons het nie ’n revolusie nodig om Suid-Afrika ’n baie beter plek vir almal te maak nie. Net eerlike, harde werk.

Don’t get mad, get even.


I Married You 

I married you
for all the wrong reasons,
charmed by your dangerous family history,
by the innocent muscles, bulging
like hidden weapons under your shirt,
by your naive ties, the colors
of painted scraps of sunset.

I was charmed too
by your assumptions
about me: my serenity –
that mirror waiting to be cracked,
my flashy acrobatics with knives
in the kitchen.
How wrong we both were
about each other,
and how happy we have been.

– Linda Pastan

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.