Te kort jou skoonheidsduur, roos van my hof ...

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Te kort jou skoonheidsduur, roos van my hof ...

Alles wat in hulle tuintjie groei, gedy omdat dit tuis voel en nie soseer omdat sy graag wil hê dit moet gebeur nie, vertel ANESCA SMITH.

Dagsê

Image: ANGELA TUCK

Verlede somer kom ek een aand tuis en ontdek my man het die oranje rose wat ons net ’n paar kort maande tevore geplant het, uitgeruk.

Ek bars onmiddellik in trane uit en verval in diep snikke. My man kyk my verbaas aan. Skynbaar het nie een van ons besef hoeveel vreugde daardie klein lappie rose my verskaf het nie. As ek soggens wakker word, kyk ek eers deur die slaapkamervenster om te sien hoe dit met al die plante gaan. Ek loop vroegoggend op my eentjie daar rond, bekyk, vertroetel en moedig hulle aan in my gedagtes.

Ek is nie ’n watwonderse tuinier nie en my man doen die meeste van die heavy lifting in ons ommuurde balkontuintjie wat op die suidoostelike deel van die stad uitkyk. Hy voer al maande ’n stryd teen die bladluise en was nou behoorlik sat daarvoor. Einde van die rose dus.

In die eerste paar jaar van saamwoon het ons weinig aan die balkon gedoen behalwe om dit skoon te hou. Ons was verlief en die lewe was ’n wonderwêreld. Daar is veel gereis en daar was veel om daar buite en van mekaar te ontdek.

’n Jaar ná die dood van ons dogter gaan koop ons die eerste plante by die kwekery. Ek koop veral plante wat my aan my familietuin in die suide herinner – jasmyn, bougainvillea en rose. Van hulle aard nie in die grond nie – miskien is die klimaat, die val van die lig of wat ook al nie goed nie – en die meeste kwyn al in daardie eerste jaar.

Image: ANESCA SMITH

Tog gee ons nie moed op met daardie onwillige klein tuintjie nie. As daar dinge is wat nie werk nie, probeer ons die volgende jaar iets anders. Ons spits ons ook langsaam toe op groen plante en die kontinuïteit wat hulle meebring, pleks van ’n ontploffing van kleur.

Ek droom van daardie uitgestrekte, weelderige soort tuine wat jy op die Engelse platteland sien, maar weet dít sal dit waarskynlik nooit word nie. Buitendien word die tuine rondom ons woonstelgebou goed in stand gehou en dis ’n plesier om in die somer tussen die vorstelike, hemelhoë krismisrose (hortensia) rond te loop al weet ek in my agterkop dit is nie ons eie nie. Jy hoef nie iets te besit om dit te geniet nie.

Die plante wat dit wel op ons balkon oorleef – die jasmynplant, leeubekkies, ’n groenblywende lourierboom, dahlias en laventel – leer my ’n belangrike les: Alles wat in ons tuintjie groei, gedy omdat hulle hier tuis voel en nie soseer omdat ek graag wil hê dit moet gebeur nie.

Wat betref my oranje rose en al die ander plantjies wat nie die wenstreep gehaal het nie: Mislukking is ook deel van tuinmaak. Of dit nou bladluise is of die feit dat sommige dinge eenvoudig  nie in sommige grondsoorte aard nie.

Mooi naweek

Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.