Aanspreeklikheid en onaantasbaarheid is waar ons moet begin

MAANDAG MET MAX

Aanspreeklikheid en onaantasbaarheid is waar ons moet begin

Veiligheid, aanspreeklikheid en die oppergesag van die reg is waar ons moet begin as ons ’n Nuwe Republiek wil begin bou, skryf MAX DU PREEZ.

My huis en my kantoor is halfpad teen die berg op in Simonstad. Ons het dit vier jaar gelede gekoop vanweë die pragtige uitsig oor die hele Valsbaai en die nabyheid aan die natuur en wildlewe – pikkewyne, bokkies, dassies, ystervarke, troppe tarentale en selfs rooikatte. Die bobbejane kom elke week ’n draai in my tuin en op my dak maak.

Van my stoep af sien ek van Hangklip af na Gordonsbaai, Strand, Somerset-Wes, Khayelitsha, Muizenberg, St. James, Kalkbaai, Vishoek en Glencairn. Ek sien ook gereeld walvisse en dolfyne, so nou en dan selfs orkas.

Maar ek kyk ook uit oor die hawe en die vlootbasis. Daar gebeur niks in die basis wat ek nie raaksien nie, soos die aankoms en aktiwiteite van die Russiese vragskip Lady R.

As ek in die oggend wakker word en my kop oplig, is dit die eerste wat ek sien. Die ou voorraadskip wat nie meer seewaardig is nie, drie fregatte, waarvan net een dit so nou en dan uit die hawe waag, ’n paar kuspatrolliebote wat oproes en ’n enkele duikboot wat nou net ’n boot is, want dit kan nie meer duik nie.

Maar soggens vroeg is daar ’n verkeersknoop soos min wanneer honderde Vlootwerknemers in hulle karre na die basis toe ry, en smiddae van halfvier af weer as hulle huis toe ry.

Dit breek ’n mens se hart.

Ek het al ’n slag of wat met dienende en afgetrede vlootoffisiere gesels. Van hulle is kwaad, ander weer na aan trane. Goeie mense. “Ons is seemense; ons is beroepsoldate,” sê die een vir my. “Maar nou kom ons soggens op kantoor aan, speel Solitaire of praat twak of skuif dokumente rond die hele dag, en dan gaan ons huis toe. Daar is nie eens genoeg diesel vir die paar vaartuie wat nog kan vaar om die hawe te verlaat nie.”

Met ’n geknypte ekonomie is dit korrek dat die begrotingsprioriteite van verdediging af wegbeweeg. Maar dit is nie die hele storie nie.

Gister lees ek in die Sunday Times dat die militêre polisie al vyf jaar lank aanklagte van korrupsie en bedrog van meer as R100 miljoen teen twee maatskappye ondersoek wat van die vlootvaartuie in Simonstad moes herstel en onderhou. Die tenders was glo korrup en senior offisiere is glo betrokke.

Dié R100 miljoen sou ver gekom het om die vloot aktief en trots te kon gehou het en hulle toegelaat het om hulle mandaat uit te voer. Hier op my dorp is daar nog vele skinderstories van ander korrupsie en diefstal by die vlootbasis, so dalk is daar nog ’n R100 miljoen wat verkwis is.

Ek sien ’n oudredakteur skryf gister in Rapport oor die vergrype en wanbestuur van die gesondheidstelsel en kom tot dié konklusie: “Dis die ou, ou lied van Afrika.”

Dit klink vir my al te veel na ’n sagte manier om te sê: Die swartes fok alles op.

Ag nee, man.

As daar nie effektiewe polisiëring en vervolging is nie, gaan geen ander hervorming veel effek hê nie.

Die meeste Afrikastate sukkel, ja, en baie is korrup. Daar is geen verskonings daarvoor nie, maar daar is verduidelikings hoekom dit die geval is. Dit is nié omdat die leierskap in dié lande swart velle het nie.

My ou kollega kan gerus met van die jong intelligentsia, entrepreneurs en beroepsmense van lande soos Kenia, Ghana en Senegal gaan kennis maak. Of sommer met plaaslike wyses soos Malegapuru Makgoba, Barney Pityana, Mamphela Ramphele, Dikgang Moseneke en Njabulo Ndebele gaan sit en gesels.

Dit gaan nie oor ras nie, dit gaan oor geskiedenis, politieke kultuur en leierskap.

Dit beteken noodwendig die wanbestuur en korrupsie wat tans hier by ons hoogty vier, is nie onafwendbaar nie.

As mense met ’n swart vel inderdaad inherent korrup en onbekwaam was, sou daar geen hoop vir ons en vir Afrika wees nie.

Ons as Suid-Afrikaners kan wel die politieke kultuur en leierskap verander – ons het sommer volgende jaar al ’n goeie kans om dit te doen.

Die eerste faset van ons nasionale lewe wat ingrypend sal moet verander, en gou, is wetstoepassing: die polisie en die hele strafregstelsel.

As daar nie effektiewe polisiëring en vervolging is nie, gaan geen ander hervorming veel effek hê nie.

Elke liewe een van ons vele probleme het wetteloosheid – korrupsie, bedrog en diefstal – en ’n gebrek aan aanspreeklikheid as wortel: ons hospitale en klinieke, ons vervoerstelsels, Eskom en ander staatsondernemings, waterverskaffing, munisipaliteite, die uitreik van dokumente deur binnelandse sake, en duidelik ook die Suid-Afrikaanse Vloot.

Geen wonderlike beleid, plan of projek kan regtig slaag nie, want tenders word bekook, baantjies gaan aan boeties, geld word gesteel en bedrog word gepleeg.

Suid-Afrika sit vandag met konstruksie-, steenkool- en ander mafias, georganiseerde misdaadsindikate wat die ekonomie en entrepreneurskap kwaai ondermyn en weens politieke konneksies byna onaantasbaar geword het.

Skelms en misdadigers gedy, want daar is nie gevolge vir hulle dade nie.

Op ’n meer basiese vlak word almal van ons se gehalte van lewe weggekalwe omdat ons onveilig voel.

Veiligheid, skoon regering, aanspreeklikheid en die oppergesag van die reg is waar ons moet begin as ons ’n Nuwe Republiek wil begin bou.

Sterkte
Max


Klein fuga

Waarom het Jehova Sy volk kasty?
Net die lydendes weet hoe ander ly.

Verneder, verminder, verdwaas van wee?
Net die minstes kan medelye gee.

Waarom het Hy ons uit ons land ontslaan?
Dat ons onder die volke in sou gaan.

Vader en Moeder en seun verspreid?
Om die mense te maan tot broederlikheid.

– Olga Kirsch

(Uit: Nou spreek ek weer bekendes aan)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.