Magiese woorde van herbesinning en waansin

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Magiese woorde van herbesinning en waansin

ANNELIESE BURGESS ry van die Wes- na die Oos-Kaap met die stem van Joan Didion as metgesel.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek ry huis toe van die Kaap af.

Paarl. Worcester. Robertson. Montagu.

Die berge lyk soos Jenga-blokkies wat omgeval het. Spekboom-tapyte vou om skewe klipsome. Wit waaigras op die rand van die pad. 

Ek luister na Joan Didion wat haar meesterstuk, The Year of Magical Thinking, voorlees.

“Life changes fast. Life changes in the instant. You sit down to dinner and life as you know it ends."

Didion se enigste dogter en haar man van 40 jaar is binne die bestek van twee jaar uit mekaar oorlede. Eers word Quintana in 2003 so siek dat dokters haar in ’n geïnduseerde koma plaas. Een aand nadat Didion en Dunne van die hospitaal in New York teruggekeer het waar hulle dogter lê, kry Dunne 'n noodlottige hartaanval (terwyl Didion besig is om aandete te maak). 

“It was in fact the ordinary nature of everything preceding the event that prevented me from truly believing it had happened, absorbing it, incorporating it, getting past it. I recognize now that there was nothing unusual in this: confronted with sudden disaster we all focus on how unremarkable the circumstances were in which the unthinkable occurred, the clear blue sky from which the plane fell, the routine errand that ended on the shoulder with the car in flames, the swings where the children were playing as usual when the rattlesnake struck from the ivy.”

Barrydale. Ladysmith. Calitzdorp. Didion se woorde vloei deur die gestroopte winterlandskap.

Dunne is dood. Quintana herstel betyds om haar pa se begrafnisrede te kan maak. ’n Paar maande later kry sy bloeding op die brein en sterf twee (traumatiese) jare later.

The Year of Magical Thinking is Didion se poging om sin te maak van die weke, en dan maande, en uiteindelik jare wat volg op haar man en kind se dood. Sy moet herbesin oor elke vaste idee wat sy nog ooit gehad het oor die dood, oor siekte … oor die huwelik, kinders, oor die lewe self. Sy praat van hoe sy besef “hoe vlak waansin kan lê”.

En sy doen dit deur te skryf. Sy sny die banaliteit van die dood weg met hoe sy haar vertelling laat ontplooi. Soos met 'n perd se stang hou sy, deur die presiese manier waarop sy haar woorde kies, die sentimentaliteit rondom die dood in toom. 

“Long before what I wrote began to be published, I developed a sense that meaning itself was resident in the rhythms of words and sentences and paragraphs...The way I write is who I am or have become ...”

Ek sal in my wildste drome nooit soos Didion kan skryf nie, maar ek verstaan so goed wat sy bedoel. Vir my is skryf makliker as praat. 

“Grief has no distance. Grief comes in waves, paroxysms, sudden apprehensions that weaken the knees and blind the eyes and obliterate the dailiness of life.”

Ek ry die Langkloof binne. Misgund. Louterwater. Joubertina. Daar is 'n reënboog wat my volg. Die ongesnoeide vrugteboorde lyk soos pienk mis.

Wat the Year of Magical Thinking vir my so verbysterend maak, is hoe Didion die finaliteit van 'n geliefde se heengaan vervleg met die lewe wat voortgaan. 

“I could not count the times during the average day when something would come up that I needed to tell him. This impulse did not end with his death. What ended was the possibility of response.”

Ek staan vandag vroeg op om hierdie brief klaar te kry, want gister het ek gesukkel om my gedagtes te rangskik. Dit is donker en koud. Ek kry die houtstofie aan die gang. Maak koffie. Die bloekombome buite probeer die woeste wind tem. Daar is vir my geen meer weemoedige klank nie.

Salige Sondag
Anneliese


Sleeping With You

Is there anything more wonderful? 
After we have floundered
through our separate pain

we come to this. I bind myself to you, 
like otters wrapped in kelp, so the current
will not steal us as we sleep.

Through the night we turn together,
rocked in the shallow surf,
pebbles polished by the sea.

– Ellen Bass
(Uit: From Mules of Love)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.