Vir talent en gehalte moet suinige klante maar uithaal en wys

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Vir talent en gehalte moet suinige klante maar uithaal en wys

Gelukkig is daar nog wel mense wat bereid is om die ware prys te betaal van wat iets werd is, skryf ANESCA SMITH.

Dagsê

Image: ANGELA TUCK

Dié week praat ek met ’n jong, vroulike ondernemer in Suid-Afrika oor die verskaffing van sierade aan my webwinkel in Nederland. Sy gebruik ’n hoëgehalte-silwer, wat beteken die prys van haar produkte is aansienlik hoër as die prysklas waarin ek gewoonlik werk.

Ek verduidelik dat Nederlanders van nature suiniger is as die res van Wes-Europa en op hul sentjies let. Ek kry gereeld klante wat vra of hulle korting kan kry op dit of dat. Boonop, in die winkels waar ek verkoop (’n gedeelde kollektief met ander ondernemers), word die kompetisie met goedkoop rommel uit China en ander Oosterse lande al hoe strawwer.

Ek kyk met verbasing hoe klante wat byvoorbeeld ’n goedkoop ring gekoop het, ’n week later terugkom, want die ding het verkleur. Sodra hulle vergoed word, koop hulle wragtig wéér so ’n ring! Dié produkte verkoop soos soetkoek. Die meeste klante doen nie eens moeite om die ou ring terug te bring nie, hulle koop net ’n ander en – neem ek aan – gooi die oue eenvoudig in die vullisdrom.

Image: ANGELA TUCK

Daar is ’n lopende band van ondernemers in die winkel wat vol trots en idealisme produkte wat hulle self gemaak het in die winkel begin verkoop. Die meeste hou nie vol nie, want die waarde van die geld, tyd en die arbeid wat dit kos om dinge self te maak, kan nie meeding met pryse uit Bangladesj en Nepal nie.

Ek self het aan die punte van my vingers vasgeklou tot ek algaande meer kennis opgedoen het oor hoe die vurk in die hef steek en aan ’n eie weg kon begin timmer sodat ek en my verskaffers uit Afrika nie net nouliks oorleef nie, maar (met ’n skoon gewete) ’n fatsoenlike bestaan kan voer van dinge wat ons maak of verhandel. Suid-Afrikaanse makers het hope talent en hulle werk verdien ’n regverdige prys. Om dié rede sal jy eintlik nooit iets op afslag by my te koop kry nie.

Intussen, in Amerika, gaan Republikeine nog ongehinderd voort met hul kultuuroorlog teen bedrywe wat verder wil kyk as net wins – dink aan ongelykhede rondom ras, geslag, minderhede of klimaatsverandering. Iets wat Republikeine en hul aanhangers “woke capitalism” noem. (Woke = die gewaarwording van maatskaplike onreg en vervolgens die verset daarteen.)

Image: ANGELA TUCK

Dus, in plaas van die Suid-Afrikaanse ondernemer te vra om haar pryse te verlaag, vra ek haar of sy voorlopig enige ander produkte het. Van vlekvrye staal, byvoorbeeld. Dít is 100% hernubaar en boonop kan jy uitstekende sierade daarvan maak wat lank mooi bly, nie-allergeen is en goed hou (behalwe as dit kom by chemikalieë – jy kan byvoorbeeld nie daarmee gaan swem nie weens die chloor in die water). Boonop, as die sierade mooi ontwerp en gemaak is kan jy dit vir ’n redelik goeie prys verkoop.

Intussen moet sy voortgaan om ’n mark te soek vir haar silwerprodukte, want gelukkig is daar nog wel mense wat bereid is om die ware prys te betaal van wat iets werd is. Dít is ook iets wat ek in die winkel sien. So spaar jouself die moeite om my vir ’n kortingsprys te vra.

Mooi naweek
Anesca


♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.