Die keer toe Laboesjaan die Mirage se noodlanding laat werk het

WOENSDAG MET WILLEM

Die keer toe Laboesjaan die Mirage se noodlanding laat werk het

WILLEM KEMPEN vertel die storie van sammajoor Von Münchhausen en die Mirage met net twee wiele.

Met die aanloopbaan reeds in die verte in sig, werk lt. Rocco de Wet soos altyd deur die stiplys om sy Dassault Mirage III vir 'n suksesvolle landing in te bring. Alles is in orde, totdat hy die onderstel wil laat sak. Die twee agterste wiele kom uit en sluit in posisie soos dit hoort, maar 'n waarskuwingsliggie in die kajuit wys dat die voorwiel steeds opgetrek is.

Dis nie die eerste keer dat die Mirage dié laai uithaal nie, en De Wet is dus nie dadelik bekommerd nie. Hy trek weer die onderstel in, en laat dit dan weer sak. Maar nee, selfde storie. Probeer nog 'n paar keer, sonder sukses. Hy gaan weer deur al die prosedures om seker te maak sy lugspoed is nie dalk nog te hoog nie, of dat hy iets anders gemis het. Steeds verseg die voorwiel om uit te kom, of minstens is dit wat sy instrumente vir hom sê.

Tyd om die noodprosedure in werking te stel, en De Wet laat weet die beheertoring van sy probleem.

Die toring laat weet: Doen 'n lae verbyvlug met jou onderstel uit sodat ons 'n visuele inspeksie kan doen om seker te maak daar is wel 'n probleem en dis nie net 'n fout met die instrumentasie nie.

'n Paar minute later laat dreun De Wet die Mirage so stadig as wat hy kan verby die toring, wat dadelik bevestig: Ons kan jou agterwiele sien, maar nie die voorwiel nie.

De Wet weet onmiddellik: Dis sulke tyd. Al opsie is 'n noodlanding met die onderstel opgetrek, want met slegs die agterwiele uit gaan die vliegtuig se neus dadelik in die grond duik die oomblik dat hy neerstryk.

Maar in die beheertoring besef sammajoor Lourens “Spekkies" Labuschagne – hy dring aan op die uitspraak “Laboesjaan" – daar is ook 'n ander opsie. Daar móét wees, want die kans is skraal dat De Wet 'n noodlanding sal oorleef. Met sy kalmste stem klim hy op die radio en sê vir die vlieënier wat sy plan is.

“Is. Jy. Van. Jou. Fokken. Kop. Af?" is De Wet se eerste reaksie, maar Spekkies laat hom nie afsit nie: “Het jy 'n beter idee, luitenant?"

De Wet is hierdie kant toe en daardie kant toe, en vra herhaaldelik of Labuschagne verstaan dat sy eie lewe ook met dié plan in gevaar is. Ja, sê Spekkies, hy verstaan dit maar te goed, maar hy is bereid om dit te waag. Dit kan nie anders nie.

'n Goeie 20 minute later, terwyl die Mirage steeds sirkels om die aanloopbaan vlieg en De Wet oor en oor kyk of die voorwiel nie tóg wil uitkom nie, stap Labuschagne met die radio oor sy skouer na waar sy bakkie 'n entjie van die beheertoring af geparkeer staan. Dis sy trots en sy kosbaarste besitting: Stouterd, sy roomkleurige 1978-model Nissan 1400, onberispelik skoon en beslaan met die nuutste Smith's Pro-White-wiele. Die Kanniedood, die Kampioen van Afrika.

Image: ANGELA TUCK

“Vandag gaan ons hulle wys, Pappie, vandag gaan ons hulle wys," fluister Spekkies in Stouterd se kantspieëltjie. Hy klim in en skakel die enjin aan, ry dan stadig verby die brandweerwaens wat nou reeds langs die aanloopbaan gereed staan. Hy sien uit die hoek van sy oog hoe van die brandweermanne vir hom hande klap, maar sy fokus is nou net op die taak wat voorlê.

Hy bring die bakkie tot stilstand aan die begin van die aanloopbaan en laat weet vir De Wet oor die radio: “Ek is in posisie, luitenant."

“As hierdie ding werk, is jy 'n hero, Spekkies, antwoord De Wet. “Ek kom nou in vir die landing. Jy kan wegtrek."

Die bakkie begin beweeg langs die aanloopbaan af. Deur die ratte tot in vierde, dan vyfde totdat Stouterd op sy vinnigste voortsnel. In sy truspieëltjie hou Labuschagne die naderende Mirage fyn dop; op net die regte oomblik haal hy vir Stouterd uit rat uit en hou dan die stuurwiel so styf vas as wat hy kan.

Met die voortsnellende Nissan nou net 'n paar honderd meter voor hom, sit De Wet eers die Mirage se agterwiele neer voor hy geleidelik ook die vliegtuig se neus laat sak. Hy verminder soveel spoed as wat hy kan teen die tyd dat hy die bakkie inhaal, laat sak dan die voorkant sta-a-a-a-dig totdat dit op Stouterd se bak tot rus kom.

'n Landende straalvegter op sy stadigste is nog steeds dramaties vinniger as 'n Kanniedood op topspoed, en dit vat al die sammajoor se bestuursvernuf om sy voertuig se wiele reguit te hou terwyl die vliegtuig se gewig nog boonop die bakkie se wielboë tot gevaarlik naby aan die tollende bande druk. En die einde van die aanloopbaan kom steeds heeltyd nader.

Labuschagne weet van beter as om die Nissan se remme te probeer gebruik, en laat dit aan De Wet oor om die twee voertuie saam geleidelik tot stilstand te bring, slegs meters van waar die teer van die aanloopbaan ophou.

Terwyl die straalmotore van die Mirage nog oorverdowend in sy ore raas, skakel Spekkies sy enjin af, klim uit en begin inspekteer die  voertuig vir skade.

En toe die eerste brandweerman by hom uitkom, wys hy trots na die bakkie se een voorwiel en sê:

“Wragtag, daai bearings makeer nog fokkol!"

* Hierdie verhaal is jare gelede as die reine waarheid aan my oorvertel, en ek het geen rede om 'n woord daarvan te betwyfel afgesien van die Münchhausiaanse sammajoor se pynlike rendisie van “Rhinestone Cowboy" wat ek by geleentheid moes aanhoor nie. Die rolspelers se name is wel fiktief.


Snow Globe of Denver

where disabled activists lived and loved
and fucked and fought and fucked again
after fighting and made all the public buses

across the nation accessible and were
arrested and were arrested again
this time for asking the question 

“May we speak to Senator Gardner?”
and were jailed for three days and three nights
and we stayed for three days and three nights 

and I was so in love with your brain
and we scissored and ate popsicles at dawn
and I lazed in the hotel bc you had work to do

important work, more important than —
damn, I have not forgiven you.

– The Cyborg Jillian Weise

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.