Die skobbejak se laaste uitweg

MAANDAG MET MAX

Die skobbejak se laaste uitweg

MAX DU PREEZ mymer oor landverlaat, moederlandsliefde en sy voorvaders wat Boesmans gejag het.

Twee dinge het dié week met my gebeur wat my laat nadink het. Eers het twee jare lange vriende aangekondig dat hulle en hulle gesinne die land gaan verlaat. En toe, Saterdag, vind ek trane in my eie oë waar ek voor die televisiestel op aandag staan toe Nkosi Sikelel’ iAfrika voor die Springbokke se toets teen die All Blacks gesing word.

Patriotisme is ’n begrip wat deur die eeue veel misbruik is, onder meer deur ’n verskeidenheid diktators die wêreld oor.

Dit was die Engelse skrywer Samuel Johnson wat in 1775 gesê het: “Patriotism is the last refuge of a scoundrel.”

Die oudminister van verdediging Magnus Malan het my in 1989 in die openbaar daarvan beskuldig dat ek onpatrioties is – en oor die jare was hy nie die enigste een nie, van die ou Afrikanernasionaliste tot die ANC en die EFF.

As patriotisme beteken “my land, reg of verkeerd”, is ek dalk nie ’n patriot nie.

Dié stelling is die eerste keer op rekord geplaas deur ’n Amerikaanse vlootoffisier, kommodoor Stephen Decatur, ’n nasionale held in die vroeë 1800’s. In 1816 het hy by ’n banket in sy eer ’n heildronk ingestel: “Our country! In her intercourse with foreign nations may she always be in the right; but our country, right or wrong!”

Dit is eerder jingoïsme: dweepsieke, nasionalistiese chauvinisme.

(Waar kom die woord jingo vandaan? Die woord self is in ou Engels ’n eufemisme vir Jesus, maar die moderne gebruik kom uit ’n gewilde liedjie wat daar in 1880 rond gesing is om Britse aggressie teen Rusland aan te wakker: “We don’t want to fight, but by Jingo! if we do, we’ve got the ships, we’ve got the men, we’ve got the money too.”)

My patriotisme is eerder vaderlandsliefde, lojaliteit en toegewydheid teenoor die mense van die land van my geboorte.

My eie siening is nader aan dié van die welsprekende Amerikaanse senator Carl Schurz, wat die slagkreet in 1871 effens gewysig het: “My country, right or wrong; if right, to be kept right; and if wrong, to be set right.”

My patriotisme is eerder vaderlandsliefde, lojaliteit en toegewydheid teenoor die mense van die land van my geboorte.

Hoekom vaderlandsliefde en nie moederlandsliefde nie? Die Franse en Spanjaarde praat tog van die moederland en die Russe verwys na Moeder Rusland. Afrikaans volg die Germaanse voorbeeld, soos in Duits, Nederlands en Noorweegs.

Die woord “patriotisme” se wortel is die Latynse pater (vader) en patria beteken dan vaderland. Die Grieks patriotes verwys na ’n landgenoot.

Miskien moet ek myself eerder ’n moederlandsliewende noem.

Soldate word in die geskiedenis as die voorste patriotte gesien. Die oeroue Latynse spreuk lui dan ook dulce et decorum est pro patria mori (dit is soet en reg om vir jou land te sterf).

Magnus Malan en Kie het vele Pro Patria-medaljes om soldate se nekke gehang wat op “die grens” teen swart landgenote en vryheidsvegters van buurstate geveg het of binnelands op ANC-aktiviste jag gemaak het.

Umkhonto we Sizwe en Swapo het hulle soldate ook patriotte genoem.

Net voor die MK-vegter Solomon Mahlangu op 6 April 1979 as “terroris” gehang is, het hy gesê: “Tell my people that I love them and that they must continue the fight; my blood will nourish the tree that will bear the fruits of freedom.” Hy word deur die ANC as een van ons land se grootste patriotte geëer.

Ek dwaal af, soos ek graag op ’n Sondagmiddag doen.

My emosionele reaksie by die aanhoor van ons nasionale lied (as die strofes uit Die Stem begin, hou ek op sing en gaan sit) laat my telkens wonder wat dié sentiment beteken.

Ek het in my lewe al baie tyd in baie lande op al die vastelande (buiten Antarktika) en groot eilande deurgebring. Daar is nie een nasie waar ek nie wonderlike mense en kulture teëgekom het nie. Ek het geen renons in enige ander nasionaliteit nie. (Ek het selfs Saterdag so op my eentjie hande geklap vir die briljante rugby wat die All Blacks gespeel het, al het ek die Springbokke se nederlaag pynlik gevind.)

Maar ek is nogal ’n vurige en trotse Suid-Afrikaner. Ek reageer skerp as mense my land beledig of verkleineer.

Ek vermoed as iemand sy/haar eie land (let wel, nie regering of staatsbestel nie) minag, is dit meer ’n refleksie op dié persoon as op die land.

Ek neem nie my twee vriende (of enigiemand anders) kwalik wat nou emigreer nie. Die een het ’n baie senior internasionale pos gekry en die ander een is bang vir sy kinders se veiligheid en wil hulle aan Europese universiteite laat studeer.

Ek dink nie dit is outomaties “onpatrioties” om Suid-Afrika te wil verlaat nie. Dit is van die vroegste tye in die mens se natuur om te wil swerf. As dit nie so was nie, sou alle lede van die spesie Homo sapiens nog in Afrika gebly het, sou my vroeë Franse, Duitse en Hollandse voorsate nie meer as 300 jaar gelede na die suidpunt getrek het nie, sou Amerika nie vandag ’n supermoondheid gewees het nie.

Dit is baiekeer die dapperstes en avontuurlustigstes wat emigreer, want dit vat nogal guts. Van die beste talent in plekke soos Noord-Amerika en Brittanje is eerste- of tweedegeslag-immigrante – soos Brittanje se eerste minister.

As ek regtig gedink het Suid-Afrika is gedoem en ek en my gesin het geen toekoms hier nie, sou ek dit seker ook oorweeg het. Ek glo dit vir geen oomblik nie, en ek is g’n Pollyanna nie.

Ek het 14 jaar gelede ’n baie aanloklike aanbod van ’n pos in Nederland van die hand gewys, sonder om veel daaroor na te dink.

My baie persoonlike gevoel hieroor is in my sterk bewussyn van geskiedenis gewortel.

My Europese voorsate alhier was slawe-eienaars en gronddiewe, en in die geval van die Kruger-kant, ook voorste uitwissers van Boesmans in die Tankwa-Karoo.

Maar ek het ook die bloed van slawe uit Oos-Asië en van die Khoekhoen in my are.

Dit voel so half vir my as ek nou sou oppak en trek, wys ek ’n middelvinger vir die geskiedenis.

My Afrikaner-voorvaders het baie en verskriklike onregte gepleeg, maar hulle het ook op soms indrukwekkende maniere ons land ontwikkel en opgebou.

Dit voel so half vir my as ek nou sou oppak en trek, wys ek ’n middelvinger vir die geskiedenis.

Ek noem myself twee keer na my vasteland: Afrikaner en Afrikaan.

Ek het in my 2009-memoires, Dwars (die Engelse titel is Pale Native), geskryf: “As jy ’n 50 jaar oue kameeldoringboom wil uithaal en elders oorplant, sal dit beslis stadigaan kwyn en uiteindelik vrek.”

Ek het van my destydse bergplaas in die Oos-Vrystaat af geskryf dat ek nie ’n bywoner of halfgebakte setlaar is nie, maar inheems is: “Die energie wat ek hier op die berg deur my voetsole voel bruis, sê vir my wie ek is. Die oeroue berge en valleie om my fluister vir my dat ek is waar ek behoort te wees. Kragte veel sterker as grootbek-politici en my eie vrese en onsekerhede het my nou juis hier geplaas. Ek is wie ek behoort te wees en ek is waar ek behoort te wees. Dis nie ’n straf nie, dis ’n voorreg.”

Plus: Jy kan mos nie soveel geraas gemaak en kak aangejaag het soos ek in die jare voor (en ná) 1994 en dan die pad vat as die bestel waarvoor jy baklei het, begin skeefloop nie?

Of hoe sê ek?

Groetnis van huis tot huis.

A luta continua.

Max


Oregon State Hospital

Wandering in the museum
I came across a woman’s story.

Let us conjure her up
in the form of a fist.

First, they knocked her head
and they said, Tsk-tsk.

Next, they zapped her
and they said, Huh.

Next, they shone lights in her face
and they said, Phooey.

Finally, they bored a hole here
and another here.

Her head tilted gently to the side
and they said, Aha.

– Roberto Cabrera

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.