Die toekoms lê in jóú hande – ja, joune!

DONDERDAG MET MERCY

Die toekoms lê in jóú hande – ja, joune!

MERCY KANNEMEYER sê dis hoog tyd dat die klappe van ons almal se oë afval sodat ons ingeligte besluite by die stembus kan neem.

Image: ANGELA TUCK

Het julle vandeesweek julle 67 minute van liefdadigheid in die naam van Nelson Mandela gedoen? Iets vreemds was aan die gang hierdie Mandela-dag. Gewoonlik is 18 Julie gevul met foto’s en video’s van sopkombuise, toebroodjies, klerebanke, rommel wat opgetel word, strate wat gepolitoer word, geboue wat nuwe lae verf kry en dies meer. Maar vanjaar was hierdie gebeure minder sigbaar. Ek is seker daar is nog daai paar goeie Samaritane wat hulle landsplig voltooi het. Ongelukkig het dit my laatmiddag bygeval dat dit 18 Julie was …

Vir diegene wat soos ek nie geweet het wat om op hierdie dag te doen nie, Daily Maverick bied ’n omvattende lys van liefdadigheidsorganisasies of instansies waar jy betrokke kan raak. Hulle skryf onder meer dat jy ’n skoonmaakdag in jou gemeenskap kan reël, broodjies vir haweloses kan uitdeel, bloed skenk, of ’n bed vir iemand in ’n shelter kan koop.

Image: ANGELA TUCK

Die tema vir vanjaar se Mandela-dag was “it is in your hands”. Heelwat gepas, veral hier naby aan die verkiesing. Die toekoms van ons land lê in gewone burgers se hande. Die gewone burgers wat uit hulle eie uit ’n goeie daad sal doen.

Adj.pres. (toekomstige president dalk?) Paul Mashatile was glo Dinsdag heelwat besig in Soweto met sy Mandela-dagaktiwiteite. Mashatile het ook, volgens EWN, gesê elke dag moet ’n liefdadigheidsdag wees. Ons moet nie vir een dag uit die jaar uit wag om goeie dade vir ons medemens te doen nie. Hy klink nou soos daai mense wat pessimisties is oor Valentynsdag: “Elke dag is liefdesdag bla bla bla.”

Oor die algemeen ervaar ek dat daar ’n mate van politieke ontnugtering onder menige Suid-Afrikaner heers. Dis natuurlik nie nodig om hier alles te lys wat nié in hierdie land van ons werk nie. Regdeur die bank voel landsburgers dit aan hulle basse en hulle beursies. Dis ’n goeie ding.

Dis hoog tyd dat die klappe van ons almal se oë afval sodat ons ingeligte besluite by die stembus kan neem. In hierdie stadium – ek moet bieg – het ek steeds geen idee vir wie ek gaan stem nie. Dit kan vir seker nie die ANC wees nie, want – ongeag enige gevoelens oor Mandela – dis nie meer dieselfde party wat vir vryheid, gelykheid en regverdigheid geveg het nie. Aan die opposisiekant van sake lyk dit asof die DA net alles wat die ANC verkeerd doen, uitwys sonder om wérklik iets te doen. Die ACDP is homofobies. Die PA is xenofobies. Almal is iets! So, vir wie stem ’n mens? Dit voel asof ons maar sal moet kies tussen the lesser of several evils.

Op daardie sombere noot, tot volgende keer. Ek sal bietjie gaan dink oor vir wie ’n mens kan stem en volgende week aan julle terugrapporteer.

Mooi bly
MK (dit staan vir Mercy Kannemeyer, nie uMkhonto we Sizwe nie)


OM HEEL TE WORD

Openbaring 6

ek het vanaand gaan loop
wind-af
verby die botsing in Maitland
verby die prediker op Hoffmanplein
verby die 10c maan teen Navalhill
en daar was weerlig in die noorde

en 'n wit perd

– Antjie Krog

(Uit: Januarie-suite)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.