Goeiemôre
My pa het 'n ding vir voëls gehad. En al vier van ons kinders het die obsessie by hom geërf. Ons het grootgeword met “The Roberts" (The Birds of South Africa) en 'n verkyker in elke bakkie, op die stoep, in die mandjie op pieknieks in die veld, in die rugsak as ons in die berge of langs die Wildekus gestap het. En in elkeen van ons se huise is dit steeds die geval. Ons is almal bietjie getik met voëls. (En ek dink die volgende generasie ook. My dogter was vyf toe sy op 'n dag aankondig dat sy verstaan wat voëls sê.)
My pa was mal oor alle voëls, maar swaeltjies was spesiaal. Ek onthou hoe ons een Kersfees die feestafel van die stoep af grasperk toe moes dra, want my pa het gesê ons ontsenu sy swaeltjies in hulle nessie. En hy het ook gehou van 'n janfrederik omdat dié voëltjie volgens hom die eerste is wat soggens groet, en die laaste een wat saans “goodnight" sê.
Maar sy gunsteling was die swartkopwielewaal. Dié skelgeel voëltjie met sy swart kop en rooi snawel was nog altyd “Dad's bird". Terwyl ek hier skryf, hoor ek een in die koejawelboom buite my venster. Sasol se Voëls van Suider Afrika verwys na sy kenmerkende “helder, vloeiende fluit", maar dit is heeltemal ontoereikend om die lieflike klanke van dié voëltjie vas te vang. “The Roberts" se definisie is 'n bietjie nader aan die werklikheid: “a liquid-sounding warble, accompanied by imitations and whistles".
Daar is 'n storie oor die swartkopwielewaal. En my pa.
Toe die demensie te erg aan my pa begin torring het, het hy en my ma hier oorkant my kom woon. Dit wemel van die voëls hier. Bruinkopvisvangers, loeries en boskraaie. Suikerbekkies, streepswaeltjies, tiptolle, muisvoëls, kwikstertjies, bokmakieries, paradysvlieëvangers, suidelike waterfiskale, kanaries, rooibeksysies, dikbekfrette, bonthoutkappers en olyflysters. En so dan en wan is daar 'n aggressiewe koningrooibekkie ook wat die ander voëls met sy afknouende maniere kom terroriseer. En dan natuurlik die hordes hadidas wat tydens Covid grootkop gekry het en nou so voor op die wa geraak het dat hulle dink hulle is almal se baas.
Maar een van die voëls wat ons nog nooit hier by ons gesien het nie, was die swartkopwielewaal. Tot op 'n dag.
Ek sit saam met my pa op die stoep. En daar voor ons, in die koraalboom, sit een ewe skielik. En begin gesels. Ek sal nooit die uitdrukking op my pa se gesig vergeet nie. Ek kan dit nie heeltemal verduidelik nie, maar ek is oortuig daardie voël het agter my pa aangevlieg van die plaas af. Tot en met my pa se dood, bietjie meer as 'n jaar later, het daardie voël vanuit daardie boom by die stoep saam met my pa gekuier.
My jonger broer vertel my gisteraand 'n storie wat my hoendervel gegee het. Hulle het 'n paar jaar gelede hulle pragtige dogtertjie aan die dood afgestaan. Sy was mal oor die suikerbekkies wat om die aalwyne in hulle tuin gekloek het. Die oggend nadat sy in die hospitaal oorlede is, het Mike-hulle 'n suikerbekkie in Emma se kamer gekry. Toe hulle die voëltjie by die venster uitlaat, het hy eers buite op die vensterbank gaan sit en 'n paar keer aan die venster gepik voordat hy weggevlieg het.
Die suikerbekkie is Emma se voëltjie. En Dad s'n is die swartkopwielewaal. Dié, lyk my, het besluit om aan te bly. Ek weet dit is lekker in my tuin met die koejawelboom en appelliefiestruike. En saadballe en blomme en waterbakke. Maar soms wonder ek of dit nie my pa is wat wil aanhou geselsies maak met my nie.
Ek het al geskryf oor bome wat my kerk is. Voëls is vir my spirituele wesens.
Salige Sondag.
Anneliese
Ns.: Luister hier na die swartkopwielewaal.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.