Goeiemôre
Ek en Piet Croucamp, een van ons bydraende redakteurs, vat Vrydagoggend die pad na Vrye Weekblad se vierde boekefees, dié keer in Clarens. Die landskap tussen Johannesburg en Vanderbijlpark is triestig, weemoedig. Eers die suidelike voorstede: wintergras en rommel en Vibracrete-heinings. Aan die rand van die stad begin mens die afgebreekte plaashuise en vaal vleilande sien. Geel en pienk HOP-huise en informele woonbuurte bloei tot teenaan die pad. 'n Perdekar met yslike boomstompe staan onder 'n klompie bloekoms. Manne probeer van die hoër takke met toue afruk.
Anderkant Vanderbijl se stomende industriële torings begin die wonde op die landskap herstel. Landerye. Plaasingange (hoeveel Grootfonteine is daar in Suid-Afrika?). Opstalle tussen klosse dennebome.
Op Reitz koop ons kaas-en-tamatie-toebroodjies en eet dit terwyl ons deur die witgebleikte winterlandskap rol. 'n Trop wit Charolais-beeste smelt weg in die veld. Rivierlope, bebaard met wilgers.
En dan, uiteindelik, begin die Oos-Vrystaat asemhaal. Rooigras en sandsteenheuwels met diepgegleufde glimlagkranse.
Ons arriveer net betyds in Clarens vir 'n sjerrie voor die boekefees se eerste sessie, wat afskop met 'n redaksiegesprek tussen my, Max en Piet. (By ons boekefees in die Kaap is ons ander bydraende redakteur, Anastasia de Vries, ook altyd by.) Ons het hierdie keer ook 'n spesiale gas – die rektor van die Universiteit van die Vrystaat, Francis Petersen – wat kom saamgesels. Die saal is stampvol. En die gesprek kronkel tussen die rol van universiteite, politiek, intelligentsia, die stand van die land en 'n passievolle gesprek oor taal (en hoe anders ons verstaan van mekaar sou wees as elkeen van ons nóg 'n inheemse taal, buiten Afrikaans, magtig was).
Saterdag se gespreksessie met die “Vrystaatse Romansiers", die skrywers Sidney Gilroy (Middernag, Vlam, Klikbek) en Francois Smith (Die Getuienis, Die kleinste ramp denkbaar, Kamphoer), was vir my wonderlik omdat dit so 'n eggo is van die beelde waardeur ons die vorige dag gery het. Albei is diep in die Vrystaatse landskap gewortel. En albei se skryfwerk is in die landskap geanker.
“Skrywers moet skryf waaroor hulle weet," sê Gilroy. “En ek ken die Vrystaat. Ek ken die Vrystaat se mense. Met Vrystaatse families waai die wind hulle saad nie baie ver nie. En elkeen het 'n storie. En die vlaktes. Verlate. Leeg. Jy hoef net af te draai na die eerste plaashuis en met mense te begin gesels om te besef dat Vrystaters baie diep lewens lei."
Hy skryf verhoudingsromans, sê Gilroy. “En in elkeen is die landskap ook 'n karakter ... die sandsteen wat in die son glim. Gros swartwattels. Wilgers."
In sy verstommende debuutroman, Kamphoer, vertel Francois Smith die verhaal van Susan Nell, wat gedurende die Anglo-Boereoorlog in die Winburg-konsentrasiekamp verkrag en vir dood agtergelaat is.
En vir hom ook, vertel Smith, is die Vrystaatse landskap 'n belangrike anker waarin hy sy skryfwerk ontplooi. “Die landskap. Die lig. Die gras. 'n Karakter se eksistensiële reis deur hierdie landskap."
Hy vertel van die pad tussen Rouxville en die familieplaas waarop hy groot geword het, en sy pa wat nou in sy 90's is en die pad honderde kere in sy lewe gery het. Hy vra 'n diepsinnige vraag: “Wat sien jy as jy lank genoeg na 'n landskap kyk?"
In Smith se roman Die kleinste ramp denkbaar is een van die hoofkarakters die plattelandse dokter Gustav van Aardt. En die karakter ry daardie pad. “Terug plaas toe. Die hek. Die lewe aan die kant. Die dood aan daai."
Elke sessie by die boekefees was besonders. En volgepak. (Max sal môre in sy brief, en Deborah in die week se uitgawe, in meer diepte oor van die ander wonderlike sessies skryf).
Maar mag ek net vir 'n oomblik vashaak by die twee laaste sessies van die dag? Antjie Krog lees voor uit haar jongste digbundel, Plunder.
Daar is nie plek vir al die mense wat opdaag nie. Mense sit naderhand op die grond. En dit is grafstil toe Antjie begin voorlees.
Dit was een van die mees merkwaardige ervarings. Haar woorde vloei soos 'n rivier. Met 'n ritme. Sag en hard.
Ek vind myself in 'n stadium in trane. Ek besef dit eers toe ek sout in my mond proe. Hier is 'n greep uit die gedig “dit spuls die aarde vol":
die gestewelde voet storm die voet in klip die voet
die knie storm
die knie die voet bars haar milt
want hy wil slag hy wil haar hy wil haar slag
hy sien haar as niks hy sien haar as
dat sy vleis is
dat sy vleis vir sy woede is dat sy poes is poes vir sy murgbitter niksheid sy niksheid sy wrede angs vir sy niksheid haar kop klap haar voetsole bloei
Met die laaste gedig wat Antjie voorlees, 'n mis aan die aarde, is dit asof die hele saal asem ophou:
en so verstik ons die strande, vergiftig die riviere
beskyt die see, lê die akwifere droog
moor mekaar om in te breek in die gasvate
en die aardmantel se olieborrels leeg te suig
ons vat en vat en vat en vat en vat en vat en vat
vat en vat en vat en vat en vat en vat en vat
dit is die dag van wraak
die dag van vergelding en angs
die dag van aardbewings en orkane
die dag van virus en alarm maak
dit is die dag van wraak
Lacrimosa dies illa
ek kreun as die skuldige een
o kyk, my gesig bloos van skuld;
spaar die pleiteraar, o God, onse Son, onse liewe
Aarde en Heilige Water
spaar ons
Daar is stilte. En dan 'n staande ovasie.
In die volgende sessie, ná Antjie se asembenemende voorlesing, tree sy in gesprek met Max.
Hy vra haar oor 'n oomblik wat hy waargeneem het tydens haar voorlesing. Die verstomming, die stilte, die trane.
“Klank is die oerwortel van poësie," sê Antjie.
“As 'n gedig reg voorgelees word, verstaan jou binnekant die gedig nog voor jou breingange dit verwerk. Dit praat met 'n wese, nie met jou intellek nie. Dit lê in die klank. Jy moet dit met jou lyf ervaar. "
Ek só het ek dit ervaar.
Salige Sondag
Anneliese
Ns. Ek hou my aanbevelings hierdie week kort. Ek is volgende week terug met 'n vol spens goetertjies.
Thank You
If you find yourself half naked
and barefoot in the frosty grass, hearing,
again, the earth's great, sonorous moan that says
you are the air of the now and gone, that says
all you love will turn to dust,
and will meet you there, do not
raise your fist. Do not raise
your small voice against it. And do not
take cover. Instead, curl your toes
into the grass, watch the cloud
ascending from your lips. Walk
through the garden's dormant splendor.
Say only, thank you.
Thank you.
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.