Dis nie wát jy sê nie, maar hóé jy dit sê

DONDERDAG MET MERCY

Dis nie wát jy sê nie, maar hóé jy dit sê

MERCY KANNEMEYER sê protes is goed en wel, maar dit maak saak hóé dit gedoen word.

Image: ANGELA TUCK

Millenniërproteskultuur is so irriterend. En hierby sluit ek myself natuurlik in. Party van julle dink nou seker ugh, hoe geweldig lastig om mense se manier van protes aanteken aan te val. Wel, hier is ek. En sommige punte sal duideliker gedryf kan word as ons kyk na hóé ons kies om iets sê. It’s mos not what you say, it’s how you say it, my bru …

So vaagweg onthou ek… ek was in graad 9. Niks van wiskunde gehou nie. Die juffrou het ook hopeloos te veel huiswerk gegee. Dis toe my idee dat die hele klas moet bank. Ons het nie ver weggeloop of enigiets werklik rebels gedoen nie. Ons het bloot buite die klaskamer onder die vensterbank weggekruip. My klein protesaksie het gewerk, want toe die juffrou in die klas aankom en ons is nie daar nie, hoor ons so ’n paar oomblikke later oor die interkom: “Graad 9Sc, graad 9Sc, meld asseblief vir julle wiskundeklas by Juffrou Odendaal aan.” Ons het so gelag. Ek kekkel natuurlik mos toe nou die hardste. Gelukkig het niemand geglo dat ék, onskuldige jong Mercy, die baasbrein agter ’n wiskunde-gedrossery was nie.

’n Jong groep protesteerders wat die laaste paar maande heelwat (oorsese) nuusopskrifte gehaal het, is Just Stop Oil, ’n Britse groep omgewingsaktiviste. Hulle is in Februarie 2022 gestig en word gekenmerk deur oranje verf wat hulle op regerings- en ander geboue gooi. Vir hierdie groep is daar nie ’n Planeet B nie, en geniet klimaatskwessies deur die bank nie genoeg aandag nie.

Die groep probeer bewusmaking deur middel van protes, burgerlike onrus en vandalisme skep. Hulle voer aan hulle is nie-gewelddadig.

In November verlede jaar is bevind dat twee Just Stop Oil-aktiviste, Louis McKechnie en Emily Brocklebank, ’n misdaad gepleeg het toe hulle hulleself in ’n Londense kunsgalery aan ’n Van Gogh-skildery vasgegom en dit sodoende beskadig het. Sop is ook glo op ’n Van Gogh uitgegooi. McKechnie het homself ook ’n maand voor die Van Gogh-voorval tydens ’n premierliga-sokkerwedstryd met kabelbinders aan ’n doelpaal vasgemaak. Vir laasgenoemde protesaksie het hy ses weke tronkstraf ontvang. McKechnie, net soos ander protesteerders, hou egter voet by stuk dat ekstreme bewusmaking nodig is vir mense om aan Just Stop Oil se klagtes gehoor te gee.

As jy ’n climate denialist is, sal jy dalk met Just Stop Oil verskil wanneer hulle sê dat mense, en veral groot besighede, nie genoeg doen om hulle koolstofvoetspoor te verminder nie. Die groep wil veral ook die produksie van nuwe olie stopsit.

Image: ANGELA TUCK

Kyk, dis alles goed en wel. Ja, die aarde word warmer. Die osoonlaag is in sy moer. Maar is daar nie ’n ander manier om dinge te sê nie? Protes is natuurlik nie nuut nie, maar hoekom op dees aarde sal jy Wimbledon-wedstryde ontwrig omdat mense nie na jou luister nie? In plaas daarvan dat jy nou jou punt suksesvol gemaak het, is mense net geïrriteerd met jou. En gaan hulle hulle gatte afvee aan wat ook al jy besig was om voor te protesteer.

Ja, jy’s dalk beroemd vir so 15 sekondes as jy jou gat nou aan ’n Van Gogh vasgegom het, maar mense se aandagspan is deesdae net 10 sekondes lank.

Ha-a, man.


Otters

in a documentary
they dove in
into the burble
of river, braiding
around each other
their combed fur
shining in the sun
their eyes twinkling
watching them
I wished my hearing siblings
had been more like them
always pulling me in
to cavort with them

– Raymond Luczak

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.