Dis tyd vir vars vrouestemme in die Suid-Afrikaanse politiek

ANDERKANT MET ANESCA SMITH

Dis tyd vir vars vrouestemme in die Suid-Afrikaanse politiek

Met Nederland se soeke na ’n nuwe premier, waar daar vele vrouekandidate is, spreek ANESCA SMITH haar spyt uit dat daar nie in haar geboorteland meer vooruitstrewende vroue in die politiek is nie, maar dat die verstoktes vasklou aan vergane glorie.

Dagsê

Image: ANGELA TUCK

Nederland is aan die shop vir ’n nuwe premier.

Die land moet oor ’n paar maande onverwags weer na die stembus omdat die huidige kabinet vroeër die maand geval het. Die partye van die samewerkingsregering kon nie ’n ooreenkoms bereik oor wat om te maak met al die vlugtelinge wat maar bly stroom na dié piepklein landjie nie. Dit skyn uiteindelik tot die bewindshouers deur te gedring het dat die land ’n veels te aantreklike asielbeleid handhaaf in vergelyking met die lande rondom hom soos Duitsland en Denemarke.

Wat my as Suid-Afrikaner met verbasing – en ’n tikkie jaloesie – na die hele stemproses laat kyk, is hoeveel vroue hier óf reeds aan die leierskap van politieke partye staan óf hulle beskikbaar gestel het vir die pos van premier. Aan die linker- sowel as die regterkant van die politieke spektrum.

Image: ANGELA TUCK

En as die een faal, ontmoedig dit die ander nie om ’n sprong te waag in die volgende verkiesing nie. En dít kos moed, want selfs in Nederland krioel dit nog van vrouehaters wat bakke dreigemente op vroue-politici laat reën.

Boonop is talle van hulle jong vroue in plaas van die bejaardes waarmee ons in die Suid-Afrikaanse politiek opgeskeep sit. En daarmee bedoel ek nie noodwendig bejaard in jare nie – jy kan oud wees met ’n jong, vooruitstrewende gees – maar mense met verstokte idees wat al veels te lank aan hul pos en vergane glorie vasklou.

Neem byvoorbeeld die ANC-vroueliga met hul uit-die-oude-doos-uniform. Groen is my gunstelingkleur – dit staan immers as simbool vir groei (hoe ironies in die geval van die ANC) – maar as ek ANC-vroueliga-groen sien, kry ek hoofpyn.

Ek onthou toe ek doerie jare gelede as politieke joernalis in die parlement gewerk het, was daar altyd veel gewag gemaak van die feit dat die vroulike verteenwoordiging in die Suid-Afrikaanse parlement so hoog is. Maar so what?

Wat baat dit as die vertoonvenster goed lyk, maar die vroueliga bloot ’n verlengstuk is van die nasionale beweging en hulle maar weinig bemoei om seker te maak dat die ware kwessies wat Suid-Afrikaanse vroue in die gesig staar soos geweld, werkloosheid, armoede en die gevolge van korrupsie hoog op die agenda staan? Waar is die gees van die eerste parlement wat ’n hele string vrou-vriendelike wetgewing deurgevoer het rondom huislike geweld en aborsie, wetgewing wat mans wat nie kinderonderhoud betaal nie, vasgevat het?

En die huidige toestand is jammer, want Suid-Afrika is geseën met soveel jong vroue-aktiviste in nieregeringsorganisasies, die akademie, in die kunste en in die ondernemingswêreld. Vroue wat die interseksionele aard van feminisme in Afrika begryp.

Ek het groot bewondering vir Suid-Afrikaanse vroue. Hulle vermoë om staande te bly in moeilike omstandighede, hulle kreatiwiteit, hulle sin vir humor.

In die 2019- nasionale verkiesing het meer vroue as mans gestem. Dis tyd dat hulle dié meerderheidstem gebruik om hulle kwessies op die nasionale agenda te kry.

Mooi naweek
Anesca

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op die bladsy om op hierdie nuusbrief kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.