Reguit praat en politieke selfbewustheid

MAANDAG MET MAX

Reguit praat en politieke selfbewustheid

MAX DU PREEZ sê dis nie nou die tyd om oorsensitief te wees nie, en deel opwindende nuus oor VWB 3.0.

Ek skryf dié brief van Clarens in die yskoue Vrystaat af waar ons pas ’n heerlike, baie suksesvolle boekefees gehou het.

Dit het my laat nadink oor wie en wat Vrye Weekblad nou eintlik is en waarheen ons gaan.

Ons het nie vir Kurt Darren of Nicholis Louw gehuur om by ons fees te sing nie. Ons het ook nie ’n biertent met sokkie-sokkie-boeredans aangebied nie.

Ons feeste – Stilbaai, Cullinan en nou Clarens – is gemik op Vrye Weekblad-lesers en potensiële lesers wat in boeke, skrywers en aktuele gesprekke belangstel.

Gister was daar ’n bespreking oor die ontwerp van boek-omslagte. By watter groot nasionale kunstefees in enige taal sou dit meer as 100 mense getrek en ’n lewendige gesprek ontlok het?

Ons rock star is nie Bok van Blerk nie. Dit is Antjie Krog.

Waar in Suid-Afrika – die wêreld – kry jy ’n geesdriftige, oorvol saal mense wat ’n gedigvoorlesing met ’n staande ovasie begroet?

Max du Preez en Antjie Krog gesels by VWB se Clarens-boekefees.
Max du Preez en Antjie Krog gesels by VWB se Clarens-boekefees.

Ons idee is om aan mense iets te gee wat ander nie aanbied nie. En mag ek byvoeg: die effens meer kieskeurige mense; mense wat nie net hulle vooroordele bevestig wil hê nie, wat kultureel dieper as TV-sepies en celebrity-skinder wil ploeg.

Dit is wat ons koerant ook probeer doen. Ek hoop julle lees almal Huisgenoot, Sarie en Netwerk24 of selfs Maroela Media, maar by ons kry jy ’n effens meer substantiewe dieet van betroubare inligting, ontleding, menings, boeke en leefstyl wat niemand anders op so ’n goed geskrewe en goed ontwerpte manier aanbied nie.

En ons het nie ’n internasionale korporasie of ’n drukgroep wat oor ons skouer loer nie.

Ons is soos daardie bottel onverwags goeie wyn wat jy ontdek het en nou hoef jy nie meer middelmatige bokswyn te drink nie.

Dit werk. Sedert ons 10 maande gelede op ons eie bene begin staan het, het Vrye Weekblad 3.0 beduidend gegroei; in die getal lesers, maar ook in aansien in die mark en die samelewing en in die gehalte van ons produk.

Daar is nou in die mediabedryf geen twyfel meer nie: Vrye Weekblad het sy staanplek gekry en is ’n gesaghebbende, vrye, nugter stem in ’n wêreld vol lawaai, disinformasie, propaganda, kulturele oorloë en vooroordeel. Dit is sonder twyfel ook ’n kommersieel lewensvatbare produk.

Ons het onlangs begin om ons volledige uitgawe ook in Engels beskikbaar te maak vir dié Suid-Afrikaners (en waarnemers van Suid-Afrika) wat nie Afrikaans kan lees nie. Dit werk ook.

Ons moes eers ons merk behoorlik maak en ons voetspoor verbreed, in Afrikaans en Engels, voor ons lesers kon vra om te betaal om Vrye Weekblad te lees.

Dié oomblik breek binnekort aan: in Oktober, wanneer Vrye Weekblad 3.0 sy eerste verjaardag vier. Ons sal in die weke wat kom, jou volledig daaroor inlig.

Ek kan net nou al sê ons hou die intekengeld so laag as moontlik – julle gaan verras wees dat ’n hele uitgawe minder as ’n cappuccino by jou geliefkoosde koffieplek gaan kos.

Maar ons gaan ook vir lesers die geleentheid gee om premium-intekenaars te word. Dit gaan ’n bietjie meer kos, maar bring ook vele ander voordele.

Vrye Weekblad word vandag nie net meer gelees deur ’n klompie mense wat hulleself as ‘progressief’ of dalk ‘linkserig’ beskou nie.

Vrye Weekblad 1.0 van die rowwe laat-80’s het ’n relatief klein maar toegewyde leserskorps gehad. Ons eerste aanlyn weergawe in 2019 het dié leserstal gesien groei, maar dit was 3.0 wat die deurbraak was, toe ons ’n eie houermaatskappy gestig het.

Vrye Weekblad word vandag nie net meer gelees deur ’n klompie mense wat hulleself as “progressief” of dalk “linkserig” beskou nie. Mense van oor die hele politieke, sosiale, kulturele en ekonomiese spektrum het ons as voorkeur-lees op Vrydae en naweke aangegryp. Ons het ook ’n groot aantal lesers in die diaspora.

Die lekker daarvan is dat ons redaksionele inhoud nou meer gereeld gekritiseer word, van “links” en van “regs”.

Ons verwelkom dit en publiseer graag dié kritiese menings.

Ek het al hier geskryf dat ons nie ideologies ingestel is nie; dat ons ’n markplein vir idees wil wees; dat ons geen ander agenda het nie as om in te lig, te help sin maak en te verryk. Moenie verbaas wees as jy stemme uit die Vryheidsfront Plus-, EFF-, Solidariteit- of ANC-kamp op ons blaaie raakloop nie.

Ons basiese beginsels wat vanaf Vrye Weekblad 1.0 in 1988 gegeld het, bly steeds ons DNS: menseregte en menswaardigheid, demokrasie, ’n oop gemeenskap, vrye spraak, skoon en verantwoordbare regering en ’n onverdraagsaamheid teenoor rassisme, seksisme en homofobie.

Maar die vele krisisse waarin ons land haar bevind, is te ernstig vir politieke korrektheid en oorversigtigheid. Dis tyd vir reguit praat; sit alles op die tafel en dink dan vir jouself.

Ons gaan nié, soos een leser ons dié week en verlede week aangeraai het, Cyril Ramaphosa se weeklikse elektroniese brief as ons handleiding gebruik oor hoe om ons land te verstaan nie.

Ek self gaan nié my teleurstelling in hom en sy party wegsteek omdat ek wit, Afrikaans, manlik en “progressief” is nie.

Ek verwag nie minder van Ramaphosa en die ANC omdat hulle swart is nie. Ek is daagliks bewus van die soft bigotry of low expectations.

En nee, swaer, ek het nie in my latere dekades skielik reaksionêr geword nie. Inteendeel, ek vind dat my denke vandag oper is, dat van my idees oor regstelling en gelykheid meer radikaal is as toe ek ’n angry young man en anti-apartheidaktivis was.

Ek kom ’n baie lang pad, so vier dekades al, saam met Ramaphosa en byna al sy senior ANC-kollegas en het steeds oop lyne van kommunikasie met die meeste van hulle.

Daarom is ek geseënd dat ek nie selfbewus hoef te wees om reguit te praat nie.

Ek kan ook nie anders nie.

Gegroet
Max


my ma in C-majeur

sy het net haar stem
wat uit haar hande sing
die nette stitch
do
re
mi
fa
never-ending
so
la
ti
do
sing sy uit haar hande
my ma laat my dink aan see-majeur
sonder sharps of flats
die maklikste die mooiste
omdat dit so skoon is
sy fluit die vis tot byt
haar vel gee ’n kernstemming op A vir die son
vir die golwe want haar seun fluit êrens
sy hoor sy do re mi fa woorde geskepe vir haar

– Jolyn Phillips

(Uit: Radbraak)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.