Êrens in Clarens

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Êrens in Clarens

DEBORAH STEINMAIR praat van Mandjie en Kaartjie se bydraes om van ons eerste Clarens-boekefees so ’n sukses te gemaak het, WILLEM KEMPEN dink Space Karen sit Twitter se pot mis, en soos altyd is daar sewe dinge wat jy vandag wil weet.

Ons sit voor skerms en tik in die hoop dat ons woorde lesers vind. En soms kry ons die kans om lesers van aangesig tot aangesig te ontmoet.

Die pas afgelope naweek het ek party van julle onder oog gehad. Vrye Weekblad se eerste Clarens-boekefees was ’n dawerende sukses. Mense het gesê dit gaan te koud wees, dis te ver, dis slegs ’n week ná die Vryfees in Bloemfontein. En tog. Skares het opgedaag, tougestaan en staande ovasies gegee. Om ’n see van geïnteresseerde, meelewende, waarderende gesigte voor jou te sien is ’n onbeskryflike ervaring.

Dis onmoontlik om te praat van hoogtepunte, want die lug het regdeur die fees geknetter van energie. Vir my persoonlik, ’n versvraat, was Antjie Krog, wat haar gedigte met soveel gevoel en ritme voorlees, en Jolyn Phillips, wat haar betowerende woorde sing en onweer met ’n handgemaakte instrument voortbring, hoendervelwekkend en meer – snot en trane, geruk tot in die vesels. Ook Dianne du Toit Albertze wat in ’n rooi rok dans en die Vrystaatse gehoor konfronteer met trans kinders en moffies – dit alles met ’n roerende weerloosheid.

Die saal was Vrydagaand reeds stampvol vir die redaksionele gesprek. Ons praat van 200 stoele. Wat ’n briljante liefie is prof. Francis Petersen nie! En natuurlik my gewaardeerde kollegas wat ’n hond uit ’n bos kan praat en immer bly glo in ’n nuwe begin.

Saterdagoggend het 'n horde mense die koue trotseer om jeugboekskrywers te beleef. Zelda Nel Bezuidenhout is ’n besonder sprankelende gasvrou en skrywers soos Fanie Viljoen het die gehoor met nuwe oë na jeugboeke laat kyk.

Daarna het Ihette Senekal met twee Vrystaatse romansiers gesels; Sidney Gilroy met sy radiostem en bedaarde baard het liries geraak oor die provinsie se landskappe, en die rustige, insigryke Francois Smith se skryfwerk is ook stewig gewortel in die vaal gras en vlaktes, die heuwels van die Vrystaat.

“Takseer hom op sy baadjie”, ’n gesprek oor die impak van boekomslae, het opslae gemaak. Gasvrou Diane de Beer het hier en daar ’n woord ingekry. Die weergalose Angela Tuck, VWB se kunsredakteur, en Hanli Deysel, Protea Boekhuis se geheime wapen, het die gehoor omgeboul met hulle passie vir kuns en ontwerp, vir kleur, uitleg en font. Dit was ’n lewendige, wilde gesprek.

Ek het met Pieter P. Fourie en Lucinda Hooley oor hulle heel uiteenlopende boeke gesels en vele raakpunte gevind. Hulle is empaties, pittig en passievol.

Daarna was dit Antjie, oor wie se sessie daar al hier geskryf is. Sy is ’n nasionale skat, anderkant woorde.

As Max en Antjie ’n paartjie was, was hulle couple name Mandjie. So het ek gehoor Karen Meiring en Saartjie Botha s’n is Kaartjie. Max en Antjie het die Vrystaat aan die brand gepraat en nasionale turksvye kaalhand aangepak.

Sondagoggend was die plaaslike bibliofiele aan die woord, ’n halfdosyn van hulle, gemodereer deur die geartikuleerde, beheersde Louis Gaigher. Die sessie was in Engels en dis duidelik dat groot geeste op Clarens woon, soos Rodney Moffett, Peter Badcock, Brenda Shepherd, Debra Stewart, Natalie Dell en Johrné van Huyssteen.

Die laaste sessie was ’n hoogtepunt, as jy my vra. Vier digters en nie ’n droë oog in die saal nie.

Ons maak volgende jaar weer so. Dankie, Clarens, dit was intens. En baie dankie aan dié van julle wat daar was. Julle is voortreflike mense vol geesdrif en nuuskierigheid, presies soos ek my Vrye Weekblad se lesers voorgestel het.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.