Beleefd en belese: Ons groet Dan Sleigh

DINSDAG MET DEBORAH STEINMAIR

Beleefd en belese: Ons groet Dan Sleigh

JOAN HAMBIDGE bring hulde aan die literêre reus en geskiedkundige Dan Sleigh.

Image: ANGELA TUCK

Daniel Sleigh: 1938-2023. Sy vriend Wium van Zyl het oor hom geskryf: “Mense sê altyd wanneer iemand sterf, is dit soos 'n biblioteek wat afbrand. In Sleigh se geval is dit soos 20 biblioteke wat afgebrand het."

Ek het Joan Hambidge, wat hom geken het, gevra om iets oor hierdie literêre reus te skryf.

Image: ANGELA TUCK

Ode aan ’n jintelman

My taal is kuns én gereedskap: my tjello, my palet, al my fyn beiteltjies, ek word bang wanneer dom mense daarmee speel …
(Uit: Wals met Matilda, 2011)

Hoewel Dan Sleigh vertrek het, sal lesers nog vir baie jare sy historiese navorsing en historiografiese romans kan lees. Soos dié van Gabriel García Márquez en Hilary Mantel.

Jare gelede is ons saam by die Vrystaatse Kunstefees en hierdie leser was geïmponeer met sy kennis en hoe hy fiksie en geskiedenis kan navigeer met ’n komplekse verteller.

Tydens hierdie fees help hy my vriendelik reg oor Leipoldt. Op RSG, een middag, praat hy oor feitefoute in ’n skrywer se beskrywing van skepe uit ’n vergange era. Maar respekvol en akademies.

Gesiene literatore het deur die jare sy werk bespreek en bekroon. Die verskillende registers van sy werk as romanskrywer is opvallend.

Wars was hy van politiek korrekte interpretasies van die geskiedenis. As hy gemeen het die argiewe is nie besoek nie, was hy vinnig om daarop te wys.

Digter en romanskrywer. Kenner van die geskiedenis. Besoeker van argiewe. In 2004 word die gesogte Helgaard Steyn-prys aan hom oorhandig.

Ander bekronings sluit in:

  • Sanlam/Insig/Kwela Groot Romanwedstryd 2001
  • W.A. Hofmeyr-prys 2003
  • RAU-prys vir Skeppende Skryfwerk 2003
  • M-Net-prys vir Skeppende Werk in Afrikaans 2004
  • Akademie-medalje 2007
  • Wenner: Sanlam Groot Romanwedstryd 2009
  • W.A. Hofmeyr-prys 2012
  • Universiteit van Johannesburg-prys 2012
  • ATKV-prosaprys 2012
  • K. Sello Duiker-prys 2012
  • SALA-prys 2018

Hy skryf ook jeugverhale: Tussen twee vlae (1974), Onder die bittervaan (1975) en Anselm en die jut (1976).

Vir sy digbundel Duif oor water ontvang hy in 1971 die C. Louis Leipoldt-prys.

’n Veelkantige skrywer wat veral lof verdien het vir Eilande (2002) en Afstande (2010). Ook 1795 (2016) is belangrik.

Op ’n keer het hy opgemerk dat hy eers geskiedkundige is en dan skrywer. Tog verweef hy die twee uitstekend.

Buitelands is hy ook erken. Eilande is in 2004 deur André P. Brink vertaal as Islands en dit haal selfs die lys van 10 beste boeke van die Seattle Times in 2005. Selfs die Booklist het dit in die VSA uitgesonder as uitmuntend en Stemmen uit zee het eweneens lof in Nederland ontlok.

Michael Pye se uitspraak in The Scotsman (2004) kan op al sy historiese tekste van toepassing gemaak word:

“I can only beg you: make time for this brisk, dense and entirely fascinating book. Its scale is exhilarating, not exhausting. Dan Sleigh has made a whole history dance and has defied time to bring back, like some sorcerer, the beat and blood of lives that would otherwise be only traces in the documents of an old colony.”

Hy was een van min skrywers en navorsers wat nog die dokumente in die oorspronklike taal van die VOC kon lees. Elke roman lewer bewys van hóé belangrik dit is om hierdie soort optekening in romans te lees waarvan die meeste lesers beskamend min weet, soos oor rouborde en wapens. Van “fraaije gestreepte woudezels” (kwaggas) en Van Steelant se joernaal. Of die oorsprong of bron van die 1713-pokke-epidemie.

’n Mens deel sy sentimente oor die verwaarlosing van die Kasteel en die verloedering van Kaapstad.

Oor die ontstaan van Afrikaans kon hy gesaghebbend praat: Hy het immers argiewe besoek.

Hy was ’n jintelman wat my altyd as “u” aangespreek het ondanks mý versoek om informeel te wees.

Dis die einde van ’n era. 

– Joan Hambidge


Johannesburg

Die seisoen se eerste reën
het vanmiddag blitsend geval
die lug was onweersblou
en die jakarandas bewerig en nou
kort ná skemer sweer ek ek hoor
katjiepieringknoppe konkel:
Watter een gaan die eerste
welriekende karbonkel
die nag in stuur?

– Johan Myburg

(Uit: Uittogboek)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.