En sê nou dis net die EFF wat sal verstaan?

WOENSDAG MET WILLEM

En sê nou dis net die EFF wat sal verstaan?

WILLEM KEMPEN skryf oor die frustrasie van arm studente.

Ek moes eergister versigtig tussen die smeulende as in die straat deur ry om by die hoofingang van die NWU se Potch-kampus uit te kom. Teen daai tyd was daar geen ander tekens meer van die studente wat vroeër daar betoog het nie.

By die toegangshek is 'n man besig om vies by die veiligheidsmense te wil weet hoekom die gemors op die pad nog nie skoongemaak is nie. Hulle verduidelik: Dit was deel van die ooreenkoms met die oproermakers; in ruil vir een of ander toegewing sou die betogers self die pad skoonmaak waar hulle die vure gemaak het, maar dit was al 'n rukkie terug en nou lyk dit nie of dit gaan gebeur nie. Maar die man is kwaad en trap die mense by die hek uit asof dit húlle skuld is.

Op die kampus gekom, gaan laai ek my vrou by haar kantoor op. Was dit die EFF, wil ek weet oor wie betoog het, gedagtig aan Malema se dinge oor die naweek. Nee, sê sy, dit was studente wat kwaad is oor hulle NSFAS-geld nog nie inbetaal is nie. En met reg, sê sy; sy sou óók betoog het as sy in daardie posisie was. Baie van daardie studente kan letterlik nie 'n bord kos bekostig as die geld nie betyds inbetaal is nie.

Wat maak mens dan nou ook anders as jy klaar gekla het by almal wat dalk iets daaraan kan doen, en steeds gebeur niks nie?

Dalk is daar niemand wat iets daaraan kan doen nie, in elk geval nie dadelik nie, want die NSFAS-proses is op die beste maar 'n burokratiese nagmerrie. En tog, daarsonder sou derduisende studente glad nie op universiteit kon gewees het nie, en waarskynlik ook geen ander heenkome gehad het nie.

Ek wonder hoeveel mense beland in tersiêre studies nie omdat dit die beste opsie is gegewe hulle eie aanleg en talente nie, maar omdat dit die enigste hoop is wat hulle het om hulleself en dalk selfs ook die familie by die huis aan die lewe te hou.

Image: ANGELA TUCK

As jy so desperaat is, help dit nie iemand probeer verduidelik dat dié of daai individu binne “die stelsel" by die universiteit of by NSFAS besig is om alles moontlik te doen om die geld oorbetaal te kry nie. Al wat jy sien, is dat “die stelsel" jou in die steek laat. En dan soek jy iemand buite daardie stelsel om namens jou te baklei vir 'n oplossing, selfs al is daar geen oplossing nie. Iemand wat nie dadelik gaan sê “dis maar soos die stelsel werk", of “wees net geduldig" nie.

Ek was effens verbaas om te hoor dat die EFF nie die betoging by die universiteit se hek gereël het nie, maar ek sal ewe verbaas wees as hulle heeltemal niks daarmee te doen gehad het nie. Want die EFF is omtrent die enigste “iemand" wat na jou sal luister as niemand anders wil nie. Die EFF sal na jou luister selfs al het jy sélf ook nie dinge reg hanteer nie, of as die stelsel glad nie te blameer is nie.

En dis presies ook waarom 90 000 mense Saterdag in die FNB-stadion was om die EFF se tiende bestaansjaar te vier.


Sonder wortels

Deur Kirliaanse fotografie word bewys:
selfs al verloor die roos 'n blaar,
word die verlore ledemaat op film bewaar.

So ook die verminkte:
'n arm of been jare reeds uit sy plek
word deur die filmplaat van geheue ontdek

Ek klem my kake ná jare nog
om pyn met pyn te besweer oor jou:
herinnerings lê toegegroei maar skiet
deur onsigbare wortels na bo,
na verskuilde teenwoordigheid van 'n niet.

– H.J. Pieterse

(Uit: Die burg van hertog Bloubaard)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.