Ai, die kiesers is darem maar domonnosel

MAANDAG MET MAX

Ai, die kiesers is darem maar domonnosel

Daar is meer aan die demokrasie as net verkiesings, meen MAX DU PREEZ.

The best argument against democracy is a five-minute conversation with the average voter. – Winston Churchill

Daar is ’n goue draad deur al die kommentare oor ons nasionale politiek onderaan nuuswebwerwe, in briewe aan koerante en gesprekke in die kantoor se koffiekamer of om die vleisbraaivuur: Hoe onnosel is die Suid-Afrikaanse kieserskorps om oor en oor vir ’n korrupte, onbevoegde party te stem wat hulle daagliks in die steek laat?

En baie van hulle haal dan die ou gesegde van Albert Einstein aan: “The definition of insanity is doing the same thing over and over and expecting different results.”

Vir die meeste van dié kommentators, en hulle is meestal bleek van vel, is die onderliggende betekenis duidelik: Swart Afrikane is nog nie ryp vir ’n demokratiese proses nie.

Dit is inderdaad nie vreemd nie om te wonder hoe, volgens onlangse meningspeilings, sowat die helfte of net meer as die helfte van die kiesers steeds lojaal teenoor die ANC is. Ek stem saam dat die ANC van 2023 in sy wese korrup is met swak leierskap en bitter min visie.

Van waar ek of jy sit, kan dit lyk asof mense wat ander politieke keuses as ons maak, dom is.

Soos die derde van die wittes wat in die wit referendum van 1992 “nee” gesê het en aan apartheid wou vasklou. Hoe kon hulle nie gesien het nie dat hulle keuse ook een was vir ineenstorting en bloedvergieting, selfs ’n burgeroorlog?

Soos die kastige gesofistikeerde Britte wat vir Brexit gestem het (en dit nou berou).

Soos rondom die helfte van die kiesers van Zimbabwe wat Zanu-PF aan die bewind gehou het, selfs nadat hulle die ekonomie heeltemal verwoes het.

Soos die meerderheid Russe wat nog agter die outoritêre, oorlogsugtige megalomaniak Vladimir Putin staan.

Soos die meer as ’n miljoen Suid-Afrikaners wat Julius Malema verafgod, al is hy ’n korrupte diktator met ’n uitspattige lewenstyl wat vasberade is om al Zanu-PF se foute te maak.

Maar die heel beste voorbeeld is die magtige Amerika.

Image: ANGELA TUCK

Soos dinge vandag staan, is daar ’n baie sterk moontlikheid dat Donald Trump die Republikeinse Party se presidensiële kandidaat in volgende November se verkiesing gaan wees. As Joe Biden wel die Demokratiese Party se kandidaat gaan wees, het Trump seker ’n goeie kans om weer president te word.

As die spesiale ondersoeker Jack Smith sy sin kry, gaan Trump vóór die verkiesing op vier federale aanklagte tereg staan. Hy gaan dus dalk in die tronk wees of ’n veroordeelde misdadiger wees as hy verkies word. As die saak eers ná die verkiesing voor die hof kom, gaan die president van die grootste wêreldmoondheid weke of maande lank Beskuldigde Nommer Een in die bank wees. (Daar is ’n groot debat in Amerika of ’n president aan homself ’n presidensiële kwytskelding mag toeken – Trump sal sekerlik probeer.)

Trump gaan waarskynlik daaraan skuldig bevind word dat hy sy presidensiële mag misbruik het om die verkiesing, waarin hy deur Biden verslaan is, te korrupteer of die uitslag omver te werp en dat hy hoogs geheime dokumente wederregtelik in sy besit gehad en daaroor gelieg het.

Elke keer as ’n nuwe saak teen Trump in die hof gebring word, styg sy gewildheid in sy party. Hy het heelwat meer steun as naaste teenstander in sy party, Ron DeSantis, en al die ander kandidate saam.

Twee-derdes van die Republikeine glo steeds, teen alle bewese feite en dosyne hofuitsprake in, dat Trump eintlik die 2020-verkiesing gewen het. Ondanks sy morsige privaat lewe en sy bewese immoraliteit staan die fundamentalistiese Christene steeds agter hom.

En mense noem swart Suid-Afrikaanse kiesers dom omdat hulle aanhou om die ANC te steun?

Dit is maar hoe dit in die demokrasie werk: Kiesers word beweeg deur ander oorwegings as net beleid, ’n rekord van goeie regering of die integriteit van politieke leiers.

Dit gaan vir baie oor identiteit, geskiedenis en vrese, hoe irrasioneel ook al.

Om weer vir Winston Churchill aan te haal: “Democracy is the worst form of government, except all those other forms that have been tried from time to time.”

A, maar die demokrasie is veel meer as net verkiesings elke vier of vyf jaar.

Image: ANGELA TUCK

’n Behoorlike demokrasie beteken ’n oop gemeenskap, vryheid van spraak en assosiasie, die verskansing van menseregte, ’n onafhanklike regbank en die oppergesag van die reg.

Overgeset synde, ten minste in Suid-Afrika: Grondwetlikheid – al dié beginsels is in ons Grondwet vasgesement. Ons is boonop ’n konstitusionele demokrasie, wat beteken die Grondwet is ’n hoër gesag as die wetgewende of uitvoerende gesag.

Ek en jy kan seker nie veel doen om miljoene mense so ver te kry om die vrot ANC volgende jaar uit die kussings te lig nie, maar met wakker burgerlike aktivisme kan ons die demokratiese aard van ons nasie in stand hou.

Wakker slaap, kamerade.

Max


The Trees

The trees are coming into leaf
Like something almost being said;
The recent buds relax and spread,
Their greenness is a kind of grief.
Is it that they are born again
And we grow old? No, they die too,
Their yearly trick of looking new
Is written down in rings of grain.
Yet still the unresting castles thresh
In fullgrown thickness every May.
Last year is dead, they seem to say,
Begin afresh, afresh, afresh.

– Philip Larkin

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.