Die lewe gaan aan

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Die lewe gaan aan

ANNELIESE BURGESS vertel van haar gewaarwording oor die fyn, fyn draad tussen die lewe en die dood.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Die bougainvillea-heining gloei soos vuur in die laatmiddagson. 'n Swerm neushoringvoëls sit in die broodboom en trek versigtig, korrel vir korrel, die yslike oranje vrug uitmekaar. Die reuk van die eerste jasmyn van die seisoen hang in die lug.

My ma is dood. 

WhatsApp-groepe pieng. Fone lui. Kinders moet by die skool gaan haal word. Dit is Donderdag. Saktyd.

My ma is dood. En die lewe gaan aan.

Ek bel die begrafnisondernemer in Queenstown. Dit is minder as 'n jaar sedert ons hom van dieselfde stoep gebel het om my pa te kom haal. Hy het nog my nommer op sy foon. Ek weet nie hoekom hy met my Afrikaans praat nie. Hy is Engelssprekend. Dit is die vierde keer dat ons hom bel. Oupa. Emma. Dad. Ma. Hy kan onmiddellik 'n reëling tref. Ek vra dat hy eers in die oggend kom. My broer Don sê hy gaan maar sy kind se hokkiewedstryd kyk.

My ma is dood. En die lewe gaan aan.

My broer Chris gaan koop hout en tjops. Ek pluk roosmaryn in my tuin. Trek die blare van die stingels af. Maak 'n hopie. Kap fyn. Olyfolie. Sout. Peper. Dik skywe eiervrug en patat. Stap-vir-selfde-stap. Soos soveel keer vantevore. By my pa se ou skaapskeertafel. In my kombuis. Met die uitsig oor die see. 

My ma is dood. En die lewe gaan aan.

Ons maak 'n vuur. Ons drink whisky uit bekers, want ons het nooit tyd gekry om ordentlike glase van die plaas af te bring nie. Ons sit op regop eetkamerstoele, want ons het ook net twee van die rottangtuinstoele opgelaai.

My ma is dood. En die lewe gaan aan.

Ek maak twee bekers koffie en dra dit oor die nat grasperk na my ouers se huis oorkant die pad. Chris het daar geslaap. In die kamer langs my ma. Die kerse wat ons aangesteek het, brand nog.

Die wind het gedraai. Die see het geen klank nie. In die verte rol die branders geruisloos in, soos ’n fliek sonder klankbaan. Garth arriveer in sy pofferbaadjie. Russell & Son op sy bors geborduur. Ek maak nog koffie. Garth raak nie aan syne nie.

My ma lyk nog soos my ma. Ek druk my gesig vir oulaas in haar hare. Dit ruik soos bokmelkseep. Op die trollie draai ons haar toe in 'n deken. Gespe haar vas. En stap met haar uit. Ek en my broers aan weerskante.

Garth se formele korrektheid is 'n balsem. Die lykswa trek stadig uit die oprit. Die gevaarligte flits statig. Op met die bult en dan om die draai. Weg.

Don moet terugry plaas toe. Daar is mielies om te oes. 

My ma is weg. En die lewe gaan aan.

Op die sitkamertafel lê die sokkies wat sy besig was om te brei voor sy siek geword het. En die oranje boekie waarvoor sy gevra het in die hospitaal. Gebore in Schlesien. Oorgegaan in Sunrise-on-Sea. Van noord na suid. Haar kring is voltooi. 

Salige Sondag. Die lewe gaan aan.

Anneliese


A Thousand Mornings

All night my heart makes its way
however it can over the rough ground
of uncertainties, but only until night
meets and then is overwhelmed by
morning, the light deepening, the
wind easing and just waiting, as I
too wait (and when have I ever been
disappointed?) for redbird to sing.

– Mary Oliver

(Uit: A Thousand Mornings)

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.