Dis 9 Augustus 2023 om 07:10. Ek het so pas vir my ’n koppie koffie gemaak. Twee skeppies koffie en ’n titseltjie laktosevrye melk. Buite is een of ander voëltjie besig om geraas te maak. Die wind kap saggies teen die vensters. Ek hoef nie vandag in te gaan vir my 9-5 nie. So, ek het vanoggend bietjie meer dinkspasie. Breinspasie.
Pieng. Pieng. WhatsApps wat deurkom van mense met goeie bedoelings wat my ’n gelukkige Vrouedag toewens. Amper vergeet.
Daar is heelwat wat ’n mens nog oor vrouwees kan sê. (By nabetragting besef ek dat ek oor elkeen van hierdie dinge ’n mini-tesis kan skryf.)
In Suid-Afrika is die viering van Vrouedag so erg geproblematiseer en verpolitiseer weens die menigte uitdagings waarmee vroue hier te kampe het. Met goeie rede voel mense dat hulle op Vrouedag niks het om te vier nie, want ons susters, ma’s, oumas, dogters en niggies lê in hulle grafte weens hierdie regering se onvermoë om geweld teen vroue en kinders as ’n nasionale ramp te verklaar.
Diegene met ’n ideologiese uitkyk sal heel moontlik gesprekke voer oor male privilege, manspreading, mansplaining (lol, ek het al heelwat rubrieke daaroor geskryf; dankie tog ek is verlos, amen), salarisgapings tussen mans en vroue, en ’n klomp ander onderwerpe wat van Amerika af tot in ons binnekamers oorgespoel het.
Kom ons haal gou vir JK Rowling, allerhande feministiese teorieë, die Fox News- transfobiese geraas, die Amerikaanse Hooggeregshof en Roe v Wade uit die gesprek uit. Die trajek van Amerikaanse wokeness het gemaak dat ons anderste tipe gesprekke hier voer. En dis so lastig. Suid-Afrika se situasie is uniek – ons Grondwet maak voorsiening vir die beskerming van álle mense. Die meeste Suid-Afrikaners is ook christene. Sê Jesus nie iewers dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself nie? Jy hoef nie ver te soek na jou naaste nie. Die punt is: Hou op judge.
Iemand het my op ’n keer gevra wat is ’n vrou. Wat ’n simpel vraag, dink ek. ’n Vrou is enigiemand wat identifiseer as ’n vrou. Ek staan steeds by hierdie antwoord. This is the hill I am willing to die on.
Wat my verstand totaal en al te bowe gaan, is wanneer mense van die bergtoppe af gil dat nie álmal (lees transgendervroue) tog werklik kan verstaan wat dit beteken om ’n vrou te wees nie. And look, ek is nou al amper 30 jaar lank ’n vrou, en ék verstaan ook nie aldag wat dit beteken om ’n vrou te wees nie. So, as daar vroue met ander insig is wat lig op die saak kan werp, verwelkom ek dit met ope arms.
Hoe mense identifiseer, moet ons nie pla nie. Liberation is collective. Dit vat absoluut niks van my vrouwees af weg om iemand wat nie soos ek as cis-vrou gebore is, te omhels en te aanvaar nie.
As jy Vrouedag gevier het, hoop ek jy het dit geniet. Ek simpatiseer met almal wat voel daar’s niks om te vier nie. Wat my en my huis betref – ons streef na bevryding.
Jaargety
Witstinkhout trek haar kantrok aan,
heuningbye besoek alom,
die eerste blare oophand in die son.
Ooppitjie tros sy sade rooi,
boslelies vinger-in-die-lug,
jasmyn strooi haar geur.
My oor aan die huilboerboon se stam
sê vir my
hoeveel lente
vir hom en my oorbly.
– Dolf van Niekerk
(Uit: Portrette in my gang)
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou!
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.