Gee mekaar darem kans om te vra

DONDERDAG MET MERCY

Gee mekaar darem kans om te vra

MERCY KANNEMEYER dink die kinders is dalk nie orraait nie.

Image: ANGELA TUCK

Oor die afgelope maand het ek heel per ongeluk met ’n paar Gen Z’s te doen gekry. Volgens verskeie bronne is mense gebore tussen 1981 en 1996 millenniërs, en mense gebore van 1997 tot 2012 is Gen Z. Sommige bronne sê mense gebore tussen 1995 en 2010 is Gen Z. Die navorsing stem nog nie heeltemal ooreen nie, maar kom ons besluit argumentsonthalwe dat Gen Z’s tussen die ouderdomme van 13 en 25 is.

Die Z staan glo vir “Zoomer”, want dié groep word groot met die internet en is geneig om die internet te “zoom”. Hulle kry álles op die internet. Resepte. Rigtings. Inspirational quotes vir hulle fake-deep Instagram posts. En die internet sê ook vir hulle hoe om te voel.

Ek is nie veel ouer as 25 nie, maar ek beskou myself as ’n ouer millenniër. Ek hou van die goed waarvan die ouer generasies hou – gesels, lees, dink, tolletjiebrei, blokkiesraaisels, en uitsien na die koerant op ’n Sondag (en natuurlik Vrye Weekblad op ’n Vrydag!). Maar hierdie Generasie Z’s?! O donner, leser. Ek het die skok van my lewe gekry.

Leser. Ek wil jou nie nog lank besig hou vandag nie, want ek wil jou eerder die rillings spaar wat ek die laaste paar weke ervaar het.

Hiermee ’n paar scenario’s.

Ontmoet ’n 22-jarige. Die 22-jarige se pronouns is “it”, “its” en “itself”. Uit die staanspoor weet ek toe nou nie hoe om die 22-jarige aan te spreek nie, en kies om dit eerder net te vermy. Die 22-jarige vra my wat ek vir ’n lewe doen. Ek voel toe so half stokoud toe ek sê ek is ’n skrywer, regisseur en produksiebestuurder. Jy sal nooit raai wat die 22-jarige vir ’n lewe doen nie. It, its, itself is ’n REALITY TV STAR. Ek wou weet wat presies ’n reality TV star vir ’n lewe doen. Die 22-jarige lag my uit: “So you don’t have a TV?” (Leser, ek het nie ’n TV nie.)

Nog ’n ontmoeting. ’n Meisie (ek mag hulle seker nie ’n meisie noem nie); ek skat haar so 24. Ek was reg. Pronouns? Die ene het geen pronouns nie en kies dat mense haar (ag fok!) ... en kies dat mense Meisie (there we go) eerder net op Meisie se naam aanspreek. ’n Naam wat Meisie vir hulleself gekies het, want die naam wat die ouers by geboorte gegee het, pas nie in met hoe Meisie identifiseer nie. Ek wil by Meisie weet of ons nie maar eintlik ons name word nie, in die sin dat wat ook al jou ouers jou mag noem, jy later in jou lewe jou eie betekenisse aan jou naam gee soos wat jy ouer word en lewenservaringe opbou … Meisie was nie lus vir hierdie gratis filosofiekafee wat ek aangebied het nie.

Ander scenario. Ek en ’n pel loop mense raak. Die groep mense is vriende met my pel, nie met my nie. Ek, ewe opgewonde later die aand: “Hey guys, would you like to join us?” (Ons het ’n bordspeletjie gespeel en het nog deelnemers nodig gehad.) Die een draai na my toe. Did you just call me a guy? Ek, onmiddellik angstig, begin oorverduidelik en oor-jammer-sê. “I meant guys as in ‘hey julle!’, as in a gender-neutral way. You know?! Die een val my in die rede. “I am not a guy. And you just misgendered me. Your cis privilege is showing.” Ek vra weereens groot en nederig om verskoning. Dis glad nie my bedoeling nie. Die een draai weg en gee my nie kans om verder te praat nie.

Julle. Die kinders is regtig nie orraait nie. Die doelpaal van “wokeness”, die seks- en gender-gesprekke beweeg teen ’n stinkspoed. Vinniger as lig dalk. En ek wil nou glad nie oorkom soos ’n konserwatiewe ou berg wat nie bereid is om saam met die tye te beweeg nie.

Die Gen Z’s (veral vanuit die queer-gemeenskap) kom onverdraagsaam oor. Jy gaan óf op hulle bus moet klim, óf jy’s ’n vyand. Jy gaan óf met hulle moet saamstem, óf jy’s ’n “hater” soos hulle sê.

Ek wil leer. Maar my magtig! Ons moet ten minste vir mekaar kans gee om te gesels. Te vra. En om verward te wees. Anders gaan ons nie wen nie.

Ek sidder sidder sidder om te dink wat van hierdie generasie woke-es gaan word.


As die jare vlieg

Ek loop daagliks maar op dun ys
al is ek ook hoe wêreldwys:
My brood word met trane gesmeer
en my skaaf deur van al die verweer;
dag en nag smaak ek soet en suur:
soms al byna oor die muur.
Tog glo ek in God, vrees sy gebod.
Jesus min my, salig lot.

– Cas Vos

(Uit: Die afdruk van ons hande)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.