Bharat lyk gereed om die wêreld aan te vat

WOENSDAG MET WILLEM

Bharat lyk gereed om die wêreld aan te vat

WILLEM KEMPEN wonder of nog 'n land dalk op die punt is om 'n nuwe naam te kry.

As jy my tot onlangs gevra het watter beelde in my kop kom as ek aan Indië dink, sou ek mooi moes nadink as ek verder wou kom as Gandhi en Salman Rushdie, tikka masala, oorvol treine, Sachin Tendulkar en MS Dhoni, en daai funky blou olifantkop-goddelikheidjie met die boepensie en die vier arms.

Ek sou ook die naam Sathya Sai Baba noem, want ek vermoed min ander lande ter wêreld kan iemand soos hy oplewer. En ou Baba laat my nou weer dink aan Moeder Teresa, want ek dink die twee van hulle het op ’n manier nogal heelwat gemeen.

Image: SONIKA AGARWAL

Nog iemand uit Indië wat ek nie maklik sal vergeet nie, is wie dit ook al was wat daai slag vir Edwill van Aarde langs die krieketveld (Eden Gardens?) met ’n lemoen teen die kop gepot het dat ons dit al die pad tot in Suid-Afrika kon hoor.

Sedert verlede maand is daar nog iets op my lysie: Indië se suksesvolle maanlanding as deel van die Chandrayaan-ruimtesending. Nog net drie ander lande kon dit regkry: die VSA, die destydse Sowjetunie, en China. Putin se Rusland het dit ook onlangs probeer, maar dit was ’n flop; Japan het ook sulke planne.

Op X vertel ’n Indiër van die eerste keer toe hy ná sy land se maanlanding deur doeanebeheer op Heathrow moes gaan, en pleks van die verwagte “What is the reason for your visit?” waaraan hy as ’n gereelde besoeker aan Brittanje gewoond geraak het, is hy begroet met “Congratulations on your country’s successful lunar landing, sir!”

Soos altyd is daar ’n dun lyn tussen nasionale trots en nasionalistiese chauvinisme, en premier Narendra Modi lyk gewoonlik of hy na laasgenoemde neig. En dan gebeur dinge soos toe die Daily Maverick onlangs onder ’n massiewe kuberaanval uit Indië deurgeloop het net ure nadat hulle berig het oor Modi se vloermoer omdat die minister wat hom vir die Brics-beraad op die Waterkloof-lugmagbasis sou gaan ontvang het, glo nie senior genoeg na sy sin was nie.

Verlede naweek by die G20-beraad in Nieu-Delhi het Modi en die Indiese president, Droupadi Murmu, albei heel ongewoon na hul land as “Bharat” verwys – ’n prekoloniale naam wat tevore hoofsaaklik net binnelands gebruik is. Beteken dit Indië oorweeg ’n naamsverandering, soos Türkiye en Eswatini gedoen het met Turkye en Swaziland?

Indië sit met heelwat probleme wat vir Suid-Afrikaners bekend sal klink: eens uitstekende infrastruktuur wat besig is om in duie te stort, werkloosheid, ongelykheid, besoedeling en gebrekkige sanitêre infrastruktuur, swak onderwys, hoë vlakke van ongeletterdheid. Is dit die soort land wat geld aan ruimteprojekte behoort uit te gee?

Dít is ’n vraag wat ook in Brittanje as die ou koloniale heerser gevra word, veral teen die agtergrond van die handelsooreenkoms wat Rishi Sunak se Konserwatiewe regering nou al amper twee jaar lank met Indië probeer onderhandel. Lawaaimakers soos Nigel Farage en andere aan die regterkant van die Tories beskuldig graag vir Sunak daarvan dat hy te veel toegewings aan Indië wil doen oor dinge soos visums vir besoekende studente, maar vergeet gewoonlik dat so ’n ooreenkoms soveel makliker sou gewees het as dit nie was vir die historiese flater bekend as Brexit wat hulle self veroorsaak het nie. Dit sterk nie noodwendig sy saak in dié geledere nie dat Sunak ’n Hindoe is met voorsate wat maar ’n generasie of drie gelede uit Indië geëmigreer het (via Kenia en Tanzanië in sy ouers se geval).

Ook in die VSA is daar ’n jong politikus aan die regterkant van die spektrum wie se ouers uit Indië geëmigreer het: Vivek Ramaswamy, ’n woelwater wat gaan probeer om die Republikeinse party se benoeming vir die stryd om die presidentskap te wen.

Waarmee ek eintlik maar net wil sê: My lysie word al hoe langer.


beeld

hoe godloos stil het die nag geword
alleen opgekrul
in die dubbelbed die lakens klamkoud
teen my kaal boude
sou wou vaar na 'n vreemde landskap
waar die rivier die digte rye bome
met sy hande oop van mekaar trek
sit jou hut soos 'n prostaatklier
die baai 'n rektum
wat oopplooi
voor my skip vol in mas
met proviand

– Marius Crous

(Uit: Brief uit die kolonies)

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.