Moet die doodstraf teruggebring word?

DONDERDAG MET MERCY

Moet die doodstraf teruggebring word?

Wie is die mens nou om te besluit of iemand doodgemaak moet word of nie? vra MERCY KANNEMEYER.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre, hoe gaan dit?

Op Dinsdagaand se episode van Prontuit op kykNET was daar ’n gesprek oor die doodstraf. Die invalshoek, vir diegene wat dit nie gekyk het nie, was die grusame misdade wat in Suid-Afrika plaasvind, en optogte of oproepe vir die doodstraf om heringestel te word vir hierdie einste misdade. Hulle het onder meer oor ons land se Grondwet en alternatiewe vir misdaadbekamping gesels.

Die gaste op Prontuit met Kabous Meiring as anker was ons eie Anneliese Burgess (wat asseblief meer op televisie moet wees!), Ian Cameron van Action Society wat so lekker vir Bheki Cele in die bek geruk het, en die Johannesburgse prokureur en grondwet-ghoeroe Bouwer van Niekerk.

Nou kyk, die doodstraf is vir sommige ’n morele dilemma, want mense is feilbaar. En wie is die mens nou om te besluit of iemand doodgemaak moet word of nie? Vir ander is die doodstraf weer swart op wit – jy het ’n aaklige aaklige aaklige daad gepleeg wat ’n mens of mense hulle lewens gekos het, so jy verdien ook om jou lewe te verloor.

Dit maak totaal en al sin dat daar mense is wat ten gunste van die doodstraf is; nie net ten gunste van nie, maar mense wat nie ’n alternatief vir gruweldade sien nie. Die enigste manier waarop wrede misdadigers uit die samelewing verwyder kan word, is as hulle van die aardbol af verdwyn, voer hulle aan.

Image: GALGFOTO'S: ANGELA TUCK

Die ander argument maak ook sin – ons kort beter misdaadbekamping. Maar hoe?! Hoe gaan misdaad in Suid-Afrika beter bekamp word as die regering nie omgee nie? Hoe gaan misdaad beter bekamp word as ons voor sovéél uitdagings staan in ’n land wat as een van die ongelykstes ter wêreld gesien word?

Daar is natuurlik mense op voetsoolvlak wat besig is om hulle gemeenskappe te beveilig en besig is om die werk te doen wat die polisie nie wil doen nie. Maar is dit hulle plig? Is dit die burgerlike samelewing se werk om in te spring waar die regering misluk?

Sommige sou sê ja. Ons moet dinge in ons eie hande neem. En ander sal sê nee – ons moet die regering aanspreeklik hou en nie hulle werk vir hulle doen nie.

Dit voel soos ’n maklike uitweg om te sê ja, bring die doodstraf terug. Maak mense dood wat ander doodmaak. En wanneer dit by die dood kom, wil ek om hemelsnaam nie soos ’n optimis klink nie – maar, is daar nie ander maatskaplike, politiese, ekonomiese, psigologiese en regeringsmislukkings waaraan ons eerder moet aandag gee voordat ons die Grondwet herskryf en/of eie reg gebruik nie?

In die gebied waar my ouers in Mosselbaai woon, bodder die mense nie om die polisie te bel wanneer daar ’n misdaad plaasgevind het nie. Ons gehegte gemeenskap sorteer die misdadigers self uit. En daar is baie sulke voorbeelde waar vigilante justice, of mob justice, aan die orde van die dag is.

Netelige kwessie. So, moet die doodstraf teruggebring word? Laat weet in die kommentaar onderaan, asseblief?


Prince Myshkin

ek sê vir my therapist
die medikasie doen niks

ek sê vir hom
soms is ek Prince Myshkin
en ander tye is ek Jack Torrance
hy sê ek praat te literary

hy sê ek is defensive
ek sê hy het hobbies

hy vra my waarom ek so stubborn is
ek vra hom hoeveel van sy patients
suicide commit het

hy vra of ek lief is vir enige iets
ek sê ek is lief vir baklei

– Ronelda S. Kamfer

(Uit: Chinatown)

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.