Nuwe hoogtes van emosionele ekstase

WOENSDAG MET WILLEM

Nuwe hoogtes van emosionele ekstase

WILLEM KEMPEN vind 'n manier om Barbara Cartland by 'n skouspel in die lugruim te betrek.

As ek nie geweet het hulle was waarskynlik daar nie, sou ek nie gister so oor middagete buite gestaan en opkyk het na die agt of nege sweeftuie wat hoog daar bo in die lug sirkel nie.

Daar was 'n goeie kans dat ek iets sou sien, want die nasionale sweeftuigkampioenskap vind op die oomblik hier in Potch plaas, en die vliegveld is net so 'n entjie van my huis af. Terwyl die byeenkoms  aan die gang is, hoor mens elke dag so teen laat die oggend of vroeg die middag die motore van die Cessna wat die sweeftuie met 'n kabel die lug in trek tot op 'n skaflike hoogte, dan afhaak en terugvlieg na die vliegveld om die volgende een te gaan haal.

Maar as die sweeftuie eers gelanseer is, word dit stil, want hulle het geen meganiese aandrywing nie, afgesien van die enkeles wat toegerus is met 'n enjin wat in 'n noodgeval kan uitvou sodat hulle darem weer die vliegveld kan haal as die lugstrome dalk nie gunstig is nie of iets anders skeefloop.

Ek was al 'n paar keer so gelukkig om 'n passasier in 'n sweeftuig te wees. Dis 'n besonderse ervaring; feitlik totale stilte, panoramiese uitsigte, die opwinding as 'n onsigbare lugstroom onder die lang, swiepende vlerke die energie laat opbou en die sweeftuig laat klim terwyl dit om en om boontoe kolk.

Dis net so lekker om ná 'n dag se vlieg die sweeftuigmense te hoor praat oor alles van sweef-ratio's tot by hoe lastig die afwesigheid van 'n toilet daar bo in die wolke kan wees tot by aanhalings uit Jonathan Livingston Seagull: “Instead of being enfeebled by age, the Elder had been empowered by it; He could outfly any gull in the Flock, and he had learned skills that the others were only gradually coming to know.”

Selfs Barbara Cartland het al in een van dié gesprekke opgeduik. Ja, dáái Barbara Cartland, die een wat in haar biografie van die 19de-eeuse Oostenrykse diplomaat Klemens von Metternich geskryf het: “He was a virile, experienced and satisfying lover ... Even the most sophisticated women felt as if in his arms they learnt something they had never known before. Every woman rose with him to heights of emotional ecstasy beyond the power of expression."

Maar Cartland was nie net bekend vir die ruim gebruik van smeermiddels in haar prosa nie; sy was teen die 1930's al 'n bedrewe sweeftuigvlieënier en word beskou as 'n lugvaartpionier (sy was ook 'n groot motorsportentoesias). In die Tweede Wêreldoorlog het die Royal Air Force een van haar idees ontwikkel om sweeftuie ook as troepedraers te gebruik, wat onder meer suksesvol tydens die Geallieerde inval in Normandië op D-Dag gebruik is.

'n Geval van jou passie na nuwe hoogtes neem, kan mens sê.


Breath for Metal

This a story
I’ve kept in soft
orange inside
my steel body. I’ve wanted

to wait until I’ve
cooled to hum, until
my touch wouldn’t burn.

I’ve practiced to gentle 

             not to be odd.   To remember
me a calm line transmitting        not artificial

sugar smile melts a rainy spring I do not want
to feel a tug       you wait again for what’s             
dissolved into scent for this week.

– Ching-In Chen

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.