Treurkos, onthoukos, koesterkos

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Treurkos, onthoukos, koesterkos

ANNELIESE BURGESS sê kos is die lint tussen ons harte en ons herinneringe.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre uit die Moederstad

Die wêreld voel na 'n verskriklike hartseer plek op die oomblik. Uit 'n deel van die wêreld wat permanent in die skemer van oorlog verkeer, ruk die beelde van dood en vernietiging aan albei kante van die konflik my aan die strot.

Daar is nou meer as 1 200 Israeli's dood en oor die  1 500 Palestyne.

Ek het hierdie week oor begrafniskos in die Midde-Ooste gelees, want die toestand van ons harte bly op soveel maniere met kos verwortel. 

Seudat Havra’ah is die tradisionele maaltyd wat Joodse roubeklaers eet wanneer hulle van die begraafplaas terugkom. Dié “maaltyd van meegevoel" is eenvoudige kos, onder meer hardgekookte eiers en lensies. Die rondheid van die eiers en die lensies simboliseer die sirkel van die lewe. Dis ook hoekom gekookte mielies by Xhosa-begrafnisse bedien word.

Mansaf en Qidreh is twee eenvoudige Palestynse disse. Variasies op dieselfde tema – gebakte lam met rys en neute. Eenvoudige kos wat met kontreibestanddele gemaak word. Dié disse wat gereeld by begrafnisse bedien word, word in grootmaat gemaak en as 'n simboliese daad van samesyn geëet.

Die drink van swart koffie sonder suiker is ook gebruiklik tydens die routydperk, het ek gelees.

Dit is mooi tradisies, maar met die groeiende koskrisis in die afgesnyde Gazastrook stel ek my voor daar is onder gewone mense nou net sprake van oorlewingskos. Ná die Hamas-aanvalle en die daaropvolgende oorlogsverklaring deur Israel is die toevoer van krag, water, brandstof en kos na Gaza afgesny. Dit voel byna onbetaamlik om oor kos te skryf as mens dink aan die desperate situasie wat daar ontvou.

Lensies
Lensies

Koesterkos

Anyway, terug by die huis.

Ons koesterkos is vervleg met ons herinneringe van ons kindwees, miskien 'n gevoel van geborgenheid.

My dogter vra vir slangetjies–spaghetti met Ouma Wiesie se soet tamatiesous. Vir kollega Elmari is dit om een of ander rede Hellman's mayonnaise. Piet het 'n ding vir pap en kaiïngs. Max weet ek het 'n swakplek vir vanilla-roomys en sjokoladesous. Vir my en my broers is dit umphokoqo (krummelpap) en amasi (suurmelk) of stampmielies en afval. Die kos waarmee ons grootgeword het. En ons onthou al drie hoe my ma dit soms vir ons in een groot bak opgeskep het en ons dit dan in 'n kringetjie met lepels geëet het. 

As kind was ek verbaas oor die heerlikhede in dorpsmaatjies se yskaste. Coke. Polonie. Melrose-kaas... In ons yskas was vars melk die toppunt van opwinding. En die dikmelkkaas wat my ma altyd in 'n kaasdoek oor 'n skottel in die yskas gehang het. En miskien was daar 'n blok cheddarkaas vir Vrydagaand se macaroni. Van koeldrank was daar geen sprake nie. Oros, miskien, op ’n verjaarsdag. Ons groot bederf was pap. Bokomo se Maltabella. En Kreemymeel. Met baie botter. En bruin suiker. 

In Suid-Afrika kom pap in 'n vele gedaantes voor. Die Oos-Kaapse umphokoqo is 'n baie droër en baie meer krummelrige affêre as die een op die foto, maar ek kan dink dat hierdie ook lekker met amasi sal smaak.
In Suid-Afrika kom pap in 'n vele gedaantes voor. Die Oos-Kaapse umphokoqo is 'n baie droër en baie meer krummelrige affêre as die een op die foto, maar ek kan dink dat hierdie ook lekker met amasi sal smaak.

Hartseerkos

In die laaste swaarkry-maande van my pa se lewe het ek baie vir hom gekook. My pa se liefde vir poeding het uit sy kinderjare gekom. Ouma se liefdestaal was kos. My ma het vertel dat Ouma vir haar gevra het om te sorg dat Oupa steeds ’n bakkie soet ná aandete kry as sy voor hom sou wegval (wat sy toe ook het). Ouma was 'n uitstekende bakster, maar Oupa se gunsteling-poeding was ingelegde koejawels met vla.

In my pa se seer, deurmekaar, demensie-deurdrenkte laaste maande het hy aand ná aand gevra vir Koo-perskes (een woord, asof dit die enigste tipe ingelegde perskes is). Of die geblikte fruit cocktail, met die rooi kersies. Dít was die bederfkos in sy laaste tyd. Geëet met ’n bewende hand. Sous wat by sy ken afrol. Noudat my pa weg is, is Koo-perskes vir my dubbele herinnerkos. Aan my pa. Maar ook aan my vriendin Karima Brown, vir wie dit ook 'n koesterkos was. In 'n bakkie, met 'n riviertjie Ideal-melk, soos hulle albei daarvan gehou het.

Kleintydkos

My oupa het gepraat van “elevenses". Teetyd, met 'n klein versnapering daarby.

In ons huis was daardie versnapering dikwels Marie-beskuitjies. Gedoop in jou tee (as daar nie besoekers was nie). Twee op mekaar, met botter tussenin. Ek sien hulle op die skinkbord, langs die teepot, onder Vergenoeg se groot bloekomboom. In my pa se padkosmandjie as hy soggens lande toe gegaan het. Sondagoggende as ek en my dogtertjie tee in die bed drink. En vandag druk ek dit steeds in my tee (en vis dit dan uit met 'n teelepel, want dit breek altyd halfpad na jou mond toe).

My oupa se winkel het na stof en vloerpolitoer geruik. Daar was die haberdashery-en-klerekant, waar my ouma agter ’n klein lessenaartjie gesit het. En dan was daar die kruidenierskant, waar my oupa met sy opgerolde moue “orders” in bokse gepak het.

Ons het gehou van Oupa se kant, want dít was waar die lekkers was. Hy't vergeet dat Wilson-toffies sulke “tooth destroyers" is, sê my broer nou die dag toe ons vir ons elkeen een by die hoekkafee in Cathcart koop. Hy hou van die klassieke swartes. Piesang is my gunsteling. Meteens was ons weer 10 en in Oupa se winkel met die glashokkie-vertoonkas. Chappies. Suurwurms. Soetblits. 

Nostalgiekos

Peppermint Crisp.

Trotters-jellie. In uitgeholde lemoenskille vir verjaarsdae. Framboos of kersie, maak nie saak nie. Nes Rowntree se Fruit Pastilles en Kool-Aid is die rooies altyd die lekkerste.

Karringmelkbeskuit. Met koffie. By ’n piekniekplek onder peperbome. Met eerste lig in die Karoo.

Smarties. 

'n Dik sny bully beef – die rooi blikkie met die sleuteltjie waarmee jy die boonste deel affrommel. Opgewarm in ’n kastrol met baked beans. Op ’n blikbord. Met ’n lepel. In ’n tent, aan die Wildekus met wind wat aan die flappe torring.

Kos is die lint wat ons harte en ons herinneringe snoer.

Salige Sondag.

Anneliese

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.