In hierdie dae sleep ek myself uit die bed. Daar is sand in my oë en dit lyk asof my skerm se ink besig is om op te raak – die woorde is dof.
Ek vra ChatGPT om ’n kwatryn te skryf oor moeg wees. Sonder ’n oomblik se aarseling spoeg hy (ek dink altyd aan hom as manlik) uit:
In shadows cast by weary sun,
Fatigued souls, their day is done.
Heavy lids in twilight's embrace,
Rest calls softly, a tired grace.
Het hulle hom te veel classics gevoer? Hoekom is die woorde altyd so geyk, hoogdrawend en outyds? Dis formulaïes. Alles rym en die metrum hou tyd. Hy hou vas aan die letter van die wet, maar die gees gaan hom verby.
Ek wonder ook altyd oor daardie blokkie wat jy moet tiek dat jy nie ’n robot is nie. As ’n bot kan lees, waarom kan hy nie die blokkie merk nie?
En die foto waarin jy ’n verkeerslig moet identifiseer. Ek het dit nageslaan: Dit word ’n CAPTCHA-uitdaging genoem (Completely Automated Public Turing test to tell Computers and Humans Apart). As jy saamspeel, help jy Google om hulle KI-masjien op te lei deur voorwerpe in foto’s uit te wys wat rekenaars nie noodwendig kan herken nie. So help jy hulle om beter met beeldherkenning te word, wat hulle sal help om CAPTCHAS in die toekoms te fnuik. Ons kan nie wen nie, lankal nie meer nie.
Ek onthou die fliek Blade Runner toe ek jonk was, hoe aangrypend dit was dat daar robotte was (genaamd replicants), wat net soos mense lyk en voel, maar emosies moet naboots. Daar was selfs een replicant wat glo sy is ’n mens. Nou is ons daar. Soos politieke grappies word wetenskapfiksie altyd waar.
Wat my pla van KI: ek sien die hele leërskare as een man met grys skoene van Tekkietown. Hy het nie ’n sin vir humor nie en vertolk alles letterlik. Hy het nie ’n kreatiewe haar op sy kop nie. Hy snap nie nuanses nie. Hy het boeke vol taalreëls en ensiklopedieë gememoriseer en verwar kennis met wysheid. Hy kan om die dood nie ’n gedig skryf nie.
Ek stem met Elon Musk saam: Daar is niks soos menslike bewussyn nie. Met al ons mankemente, ingeboude verslyting, grootheidswaan, dranksug en wollerigheid is ons manjifieke skepsels. Menslike denke is verstommend en dit word uitgedruk in woorde, my verslawing. Op my lessenaar is ’n lamp wat in die rekenaar prop, met ’n blou lig wat die woord “WOORDE” uitspel. My oudste dogter het dit vir my gegee.
Wat my in waansinnige dae aan die gang hou, is die woorde van mense. Ek noem ’n paar wat my laat moed skep:
En ek was so verskrik en so verskriklik lief vir jou
– Gert Vlok Nel
O treurig die wysie
op die ooswind se maat,
soos die lied van ’n meisie
in haar liefde verlaat
– Eugène Marais
God se toweragtig verganklike fratsappelkoos
– T.T. Cloete
kyk, hierdie is die soom van jou lewe
losgetorring al langs die plooi
van oorlewe
ter wille van vérder te wil bewe
totdat die teef jou inhaal
en jou doderok verskeur…
– Breyten Breytenbach
’n afskeidnemende wêreld is al wat priem
tussen soveel opgesaalde woorde
ag, my verspilde taal en afgrondvers
die klokke van die westerkerk
galm soos soetanes deur die nat
– Antjie Krog
gebak deur anna wat my grootgemaak het
totdat ek self ’n perd kon teken en droom
die maan is ’n emaljebak met roeskolle
vol mageu wat anna brou
en om en by die maandeind bars anna se sog uit die hok
en vreet die maan weer op
– Dominique Botha
… wat het ek met my dae gemaak?
hoeveel tyd het op my uitgeloop terwyl my vinger
teen ’n skerm op geskuur het, hoeveel ure
het oorryp geraak in die af yskas van my siel?
– Bibi Slippers
En dis maar enkeles. As botte só kan skryf, omhels ek KI.
Nagwaak
Ek gaan slaap, word nanag wakker met ’n bejaarde oor
veel ouer as my gesig. ’n Behaarde skulp soos ’n koolblaar
sprei oor die sloop. Dié oor hoor in ’n ander register, ander goed
as onmiddellike en verbeelde gevare: gevroetel in ’n sleutelgat
die knip van ’n slot. Dié oor wat ingestel is op meer as inbreek
en betreding – dis nie die trilling van stewel in stiebeuel
van hamer op aambeeld wat die slakkehuis laat ril
nie – die voorspooksels die omens van die ouderdom vrese
wat my voorlê in hinderlae lei die onvermydelike afwen van alles:
om nie meer wal te gooi teen wanhoop nie om mateloos te twyfel.
Dis dié goed wat koolblaar registreer dis die seine van slip
die vasdraai die pad wat eindig in ’n slop.
– Johan Myburg
Uit: Uittogboek
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.