As jy nog nooit in jou lewe oorsee was nie en die geleentheid duik op, sal jy mos spring, nie waar nie?
So is ek toe in Den Haag en Amsterdam van 22 November tot 1 Desember. Ek gaan nog vir lank oor die algehele ervaring kan skryf, maar hiermee my tremstorie.
Van Schiphol-lughawe per trein tot by Den Haag Centraal. By Den Haag Centraal moet ek per trem na my hotel.
Eerstens – die treinrit was besonders. Betyds. Woeps waps. Ondergronds. Deur die tonnel. Anderkant die tonnel uit. Vinniger en skoner as die Gautrein. Die landskap waarna ek by die treinvenster uitgestaar het, was Heidi-in-die-berge-agtig. Klim van die trein af en gaan na my tremstasie. Trem 17 na Zoutmansstraat, Den Haag.
Op die trem bel een van my vriendinne uit Suid-Afrika om te hoor of ek al veilig aangeland het. Ons maak geselsies oor die lekker kos op Emirates, hoe ek in Dubai se lughawe rondgeloop het om te probeer kyk of ek net ’n glimmer van die hoogste gebou ter wêreld, die Burj Khalifa, kan sien (spoiler alert – ek het nie), en hoe kinderlik opgewonde ek was toe ons uiteindelik op Schiphol land.
In ’n stadium sê my vriendin: “Mercy, jy weet jy moet die knoppie druk vir die trem om te stop, nè?” Ek het dit hoegenaamd nie geweet nie; ek was te besig om te kyk en te gesels om op te let wat gebeur wanneer mense afklim.
Right. Ek is amper by my stop. Ek berei voor om op te staan, my bagasie te vat en die knoppie te gaan druk.
Zoutmansstraat. Dis my stop! Ek hop op. Druk die knoppie… druk weer. Druk nog ’n keer. Die deur gaan nie oop nie. Die trem ry verder!
Ek dink: okay, fine. Ek kan by die volgende stop afklim en net terugstap. My tas het gelukkig wieletjies, so dit sal nie moeilik wees om by die hotel te kom nie.
Tweede stop. Berei voor. Gaan na die deur. Die deur gaan weer nie oop nie! Dalk druk ek die verkeerde knoppie. Dalk moet ek my trempas scan. Ek scan. Die deur bly bot toe! Die trem ry voort!!! Ek begin 'n klein bietjie paniekerig raak.
Ek vra my mede-passasiers om hulp. Die een ou beduie in Engels dat ek my hand oor die STOP-knoppie moet hou, dan sal die deur oopgaan. By stop nommer drie maak ek toe so aan die regterkantse deur. Die deur aan die ander kant skiet oop! Ek gryp my tas, maar dit sit tussen die sitplekke vas en die deur slaan toe. Die trem ruk met ’n perdespoed vorentoe, my sak trek my terug en ek val pens en pootjies in ’n trem in ’n straat in Den Haag waarvan ek nie die naam kan onthou nie.
My mede-passasiers lag. Ek, properse Amsterdamsel in distress, sê toe net: “Please don’t laugh, help me. I’m from South Africa.” Dalk sou hulle my genadig wees as hulle weet ek is nie van daardie land nie, het ek gedink.
By die vierde stop besluit ek om nie af te klim nie. Die stasie het stil gelyk; netnou is dit gevaarlik.
By die vyfde stop wys ’n vrou vir my hoe die deur werk en ek klim uit.
By die vyfde stop probeer ek die bordjies lees, maar nou is ek so rigtingbedonnerd dat ek nie eens suid van noord kan onderskei nie.
By die vyfde stop kom ’n man met ’n tattoo op sy gesig en nek aangestap. Hy steek ’n sigaret langs my op. Wat ek volgende gaan sê, is nie polities korrek nie, maar hey, ek is ’n onvolmaakte mens, okay?! My eerste gedagte was: “Watse wit gangster is dit dié hier in Den Haag?”
En net daar leer ek dat ’n mens nooit ooit ooit die man op sy tatoeëermerk moet takseer nie. Ek vra of hy vir die trem wag. Hy sê ja. Ek vra of hy weet waar Zoutmansstraat is. Hy sê ja. Ek vertel hom ek het nie geweet hoe om die deur oop te maak nie en ek het my stop gemis. Hy lag. Hy sal my wys hoe om die deur oop te maak. Die trem kom. Die man met die tattoo op sy linkerooglid en 'n ander tattoo neffens die hoofslaggaar in sy nek klim saam met my op die trem, vat my na my stop en stap saam met my tot voor my hotel.
Ek kon hom nie genoeg bedank nie. Ek hoop hy is okay. En gelukkig. En ek hoop ek (en sommer jy ook) loop meer sulke mense in die lewe raak – mense wat jou wildste verwagtinge oortref en jou feilbaarheid as mens aan jou openbaar ten einde van jóú ’n beter mens te maak. Selah.
Jong kat
Die katjie het gegroei
sy peertjies is baie rond
hy lek homself ongeduldig
en skeep die wassery af:
hy skuifel rusteloos rond
sy neus is gevoeliger
hy wil uit nou, snags
sy vlammetjie is aan die brand:
in sy rugmurg kerm
honderde blinde katjies.
– Sheila Cussons
Uit: Die skitterende wond
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.