Dis met 'n swaar hart wat ek hier skryf. Dis byna 100 dae sedert Israel Palestina binnegeval het en meer as 20 000 mense is intussen dood.
Kom ons los die politieke ontleding van dié oorlog vir die kenners. Hierdie raak nou ’n menslike oorlog. Die dodetal styg by die dag. Wêreldleiers spoel hulle monde uit. Draadsitters “Ja, maar Hamas…” hulle weg deur die hele ding en dít terwyl die bomme net aanhou val. Mens is skrikkerig om soggens na die nuus te kyk, want watter bebloede kindergesig gaan jy dié keer sien?
My idee vir hierdie nuusbrief was om die name van die meer as 20 000 mense wat al dood is hier te lys sodat ek en jy daardie name hardop kan lees en kan besef (indien jy nog nie besef het nie) dat dít wat in Gaza afspeel niks anders as ’n volksmoord is nie. Maar daar is te veel name – en dít moet vir ons iets sê. Die 20 000+ is ook net diegene waarvan ons weet. Ek glo die situasie op die grond is veel erger as dit.
Die “ja, maar” moet stop. Deur te erken dat onskuldige mense afgemaai word, vat nie weg van die wete dat dít wat Hamas gedoen het, onverskoonbaar is nie.
Gesprekke oor die oorlog het byna alle sosiale geleenthede oorheers wat ek oor die feesseisoen bygewoon het. Menige erken dat hulle nie weet wat om te doen en wat om te voel nie. Dit voel asof hierdie oorlog ’n oorlog van reg en verkeerd is en hoe kan óns, leke en feilbares, oor reg en verkeerd beslis? Maar die dood van onskuldige mense bly verkeerd. En dit is verbysterend om selfs hierdie sin hier te moet tik, want wat anders???
Terwyl ek vandeesweek die nuus gelees en die reaksie in die media en op sosiale media dopgehou het, was dit asof die diepste depressie tot nog toe oor my gesak het.
Wat my diep binneslaan, is hoe die Palestynse joernalis en Al Jazeera-verslaggewer Wael Al-Dahdouh sy laaste oorlewende seun moes groet, en dít nadat hy vroeër sy vrou en ander twee kinders ook moes begrawe. Die kyk op sy gesig. Die mismoedigheid in sy oë. Die moegheid in sy stem. Niemand, niemand, niemand moet deur soiets gaan nie.
Ons kan nie wegkyk nie. Derduisende onskuldige mense word voor ons oë afgemaai. Suid-Afrika het sterk standpunt ingeneem deur die Internasionale Geregshof te nader. Dan is dit interessant om te sien hoe die DA mense in die Kaap afraai om die Palestynse vlag en Palestynse simbole op hulle mure te verf. Teleurstellend, maar g’n verrassing nie.
Dit voel surrealisties om te moet voortbeur terwyl onskuldige mense daagliks omkom. Hoe kan ons aanhou? Hoe hou ons net aan om te werk en ons lewe te leef? Fokkit.
punt
ek skryf jou af en eindig
ons verhaal met 'n punt
agter jou naam.
finaal.
maar dis altyd so met my
as ek my weer kom kry
is daar nog twee punte by
...
– Bibi Slippers
Uit: Fotostaatmasjien
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.