Goeiemôre
Ek kyk gister hoe 'n klein seuntjie 'n geweldige tantrum gooi in 'n winkel in Somerset-Wes. Dit was skouspelagtig. Hy was moeg en gatvol en niks lus vir enigiets verder nie, en hy wou hê sy ma moet dit baie mooi verstaan. Dit was 'n tot-hier-toe-en-nie-verder-nie tantrum. Ek was baie beïndruk. Ek dink tantrums is geweldig underrated.
Ek voel self gereed vir 'n paar tantrums. Miskien nie heeltemaal die lê-op-die-vloer-en-skop-jou-bene-in-die-lug weergawe van die snaakse dwergie gister nie, maar miskien 'n effe meer elegante neerlê van grense.
Dit bring my met 'n ompad na my een en enigste Nuwejaarsvoorneme. Ek het besluit dat ek hierdie jaar gaan probeer om niks te doen wat ek nie wil doen nie. Ek wil hierdie jaar nie meer tyd afstaan aan goed wat nie vir my vreugde bring nie.
Ek gaan nie ja sê, as ek nee voel nie. Ek gaan wegloop van negatiewe energie. En ander mense se drama. Ek wil myself omring met mense wat deernis het vir ander en die kosbaarheid van ons klein tydjie op die aarde raaksien.
In 1961 skryf die wonderlike Joan Didion 'n essay vir Vogue oor selfrespek. Hierdie aanhaling is iets wat ek met 'n vet, swart koki oor die venster van my hart wil skryf:
Character - the willingness to accept responsibility for one’s own life - is the source from which self-respect springs.
Daar is 'n konsep in kognitiewe wetenskap, The Illusory Truth Effect,
wanneer mense valse inligting begin glo as hulle oor en oor daaraan blootgestel word.
Ek dink die laaste ruk nogal baie aan die leuens wat ons vir onsself vertel. Aan hoe die Illusary Truth Effect uitspeel in mens se interne dialoog.
As jy vir jouself herhaaldelik vertel dat jy nie iets kan doen nie, sal jy dit natuurlik uiteindelik glo. En sal jy ophou probeer.
As jy jouself herhaaldelik vertel dat jy nie in staat is om lief te hê nie, of dat jy nie verhoudings kan “doen" nie, sal jy dit glo. En sal jy uitmis op een van die groot misterieuse wonders van die lewe.
As jy jouself herhaaldelik vertel dat jy nie grense kan stel nie of nie kan nee sê nie, gaan jy aanhou om die gal te proe wat kom om 'n vloerlap wees.
As jy jouself herhaaldelik oortuig van jou eie vrese, gaan jy nooit kan vreesloos wees nie.
As jy jouself herhaaldelik vertel dat jy 'n statiese entiteit is, sal jy nie meer probeer groei nie.
As jy jouself herhaaldelik doop in die sous van 'n slagofferskap gaan jou pyn uiteindelik jou gemaksone word.
Ek het hierdie week my dogter op Stellenbosch afgelaai. Die grootmenslewe lê voor haar soos 'n blink meer. Woensdag vlieg ek terug na die stilte van my Oos-Kaapse stoep, en die kosbare alleenheid van my eie nuwe hoofstuk.
Ek gesels volgende Sondag verder met julle oor my idees vir die “Jaar van Ja". Kom saam met my op die reis.
Daarmee groet ek.
Salige Sondag.
Anneliese
In Passing
How swiftly the strained honey
of afternoon light
flows into darkness
and the closed bud shrugs off
its special mystery
in order to break into blossom:
as if what exists, exists
so that it can be lost
and become precious
– Lisel Mueller, uit die bunderl Alive Together
♦ VWB ♦
NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.
Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.
Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.