Die droom van SA as ’n model Afrika-staat is aan flarde

MAANDAG MET MAX

Die droom van SA as ’n model Afrika-staat is aan flarde

Die visie wat Madiba vir ons gehad het, is aansienlik verwyder vanwaar ons vandag is, skryf MAX DU PREEZ.

Wanneer ons Suid-Afrikaners die stand van ons nasie takseer, kom twee problematiese benaderings telkens na vore.

Die eerste is dat die regerings sedert 1994 liederlik gefaal het - die land was duidelik beter af tydens apartheid. Die swartes kan maar net nie 'n moderne demokrasie en ekonomie behoorlik bestuur nie, sê dié denkrigting.

Die tweede is dat die ANC nie anders kon as om te faal nie, want die skade wat kolonialisme en apartheid die land aangedoen het, was te diepgaande om binne 'n paar dekades te herstel. Apartheid duur inderwaarheid steeds voort en wit mense moet die meeste van die skuld kry vir die gemors waarin Suid-Afrika vandag is, lui dié redenasie.

Maar daar is 'n derde problematiese siening. Dit is welmenende mense wat, byvoorbeeld, vandag vir Cyril Ramaphosa aanprys omdat hy nie 'n ras-populis is nie, nie Jacob Zuma is nie, goed Engels kan praat en kwansuis sy beste probeer om die land onder moeilike omstandighede reg te ruk.

Dit is, dink ek, die sonde van the soft bigotry of low expectations. Dit is die verskynsel waar 'n mens minder van 'n sekere groep (swart/bruin mense) verwag; waar jy só 'n groep ag as nie inherent in staat om dieselfde prestasies as wit Westerlinge te lewer nie, maar jy wil nice wees met hulle.

Kom ek vertel vir jou 'n storie.

'n Paar dae na sy vrylating op 11 Februarie 1990, dit is dié week presies 34 jaar gelede, kry ek 'n oproep van Nelson Mandela in die oorspronklike Vrye Weekblad se nuuskantoor. Mandela sê vir my sy lyfwagte wil nie hê hy moet na ons kantoor in Breëstraat in die Johannesburgse middestad toe kom nie, so sal ek omgee om na sy huis in Soweto uit te ry vir 'n gesprek?

Hy wag vir my in die deur van sy beskeie rooibaksteenhuisie in Vilakazistraat, Orlando-Wes; groet my met 'n groot glimlag in Afrikaans (en vra om verskoning vir sy “Xhosa-aksent”) en ons gaan sit in die sitkamer.

Hy verduidelik dat hy my ope brief aan hom in Vrye Weekblad van 14 Julie 1989 gelees het met die opskrif “Vat die hardekwas-Boere met jou saam!” – ek het geweet hy het Vrye Weekblad by hom in die tronk laat aflewer. Die tronkowerhede wou hom nie toelaat om op my brief te reageer nie, en daarom die ontmoeting.

(“Die Boere is 'n hardegat-klomp,” het ek in die brief geskryf. “Dis lekkerder om hulle aan jou kant te hê as teen jou.” Afrikaners gaan nooit saam met die ANC toyi-toyi nie, maar “ten spyte van hulle praatjies is hulle desperaat om ook vrede en voorspoed in hulle land te geniet – en om sonder vrees of skaamte hulle mede-Suid-Afrikaners en die res van die wêreld in die oë te kyk”. Ja, dit was Julie 1989.)

Mandela het eers 'n lesing oor die Afrikanergeskiedenis afgesteek en my verseker dat hy Afrikaners as mede-Afrikane eerder as setlaars sien; dat hy hulle vrese gaan aanspreek en al hulle talente en patriotisme wil inspan.

En toe skets Mandela vir my in breë trekke wat sy visie vir die Nuwe Suid-Afrika was – hy het duidelik geweet hy sou kort daarna die eerste demokratiese president wees. Ek onthou dit asof dit gister was.

Ja, hy het geweet sy eerste taak was 'n vreedsame oorgang en stabiliteit, so die wit minderheid, die wit soldate en polisiemanne, die sakesektor en die Weste moes gerus gestel word.

Maar dit was net ter voorbereiding van die bou van 'n nuwe, regverdige en oop samelewing; die herstel van die menswaardigheid van die swart meerderheid, die bemagtiging van die swart jeug.

Sy groot visie was van 'n model-Afrika-demokrasie onder etiese swart leierskap; van vinnige industrialisering wat armoede kon hokslaan; skoon en effektiewe administrasie, van die oopgooi van die ekonomie sodat almal volledig daarin kon deelneem.

“Dis rus op ons skouers om aan die hele bevooroordeelde wêreld te bewys dat Afrika demokraties en ekonomies kan floreer,” het hy gesê.

Mandela het gesê hy hou nie van die benaming affirmative action nie, hy verkies die Afrikaans: regstellende aksie – “Want ons moet die foute van die geskiedenis regstel, dis ons grootste taak,” het hy in Afrikaans gesê.

Die man wat ek daardie dag in Vilakazistraat ontmoet het, met wie ek vier keer as president televisie-onderhoude gedoen en nog twee keer privaat ontmoet het, was 'n formidabele visionêr en denker wat oor ander wêreldleiers van sy tyd uitgetroon het.

Mandela het as president ook sy foute gehad (hy was nie erg hands-on nie), maar elke keer as 'n swart wildejakkals of wit rassis sy nalatenskap beledig of 'n ANC-politikus verskonings vir hulle mislukkings soek, wens ek ek het 'n bandopname van dié gesprek gehad om vir hulle te speel.

Wat my by die hede bring.

Kinders wat in die jaar van ons bevryding gebore is, word vanjaar 30 jaar oud. Die meeste van hulle is waarskynlik ouers.

Sowat die helfte van hulle is werkloos, lewe van klein sosiale toelaes en woon waarskynlik in plakkerskampe met beperkte toegang tot water, sanitasie en mediese sorg. Baie van hulle se kinders is ondervoed. Min van hulle het uit die laer werkersklas ontsnap, veral omdat die onderwys van swart jeugdiges in die townships en die landelike gebiede heeltemal onvoldoende was.

In 2010 het meer as 'n miljoen kinders vir gr. 1 ingeskryf. 'n Kwart van hulle het voor matriek uit die onderwysstelsel geval.

Nelson Mandela se visie van 'n modelstaat in Afrika is aan flarde.

Nie omdat die ANC-regerings van die laaste 30 jaar meestal swart was nie. Elders in die wêreld maak regerings wat nie swart is nie, nog meer droog - Argentinië, Lebanon, Iran, Venezuela, Tajikistan, ens. is voorbeelde.

Nie weens #witmonopoliekapitaal nie. Nie weens Westerse imperialisme nie.

Ons kan net die leierskap van die ANC sedert 2008 en die kultuur van patronaatskap, korrupsie, entitlement en selfverryking daarvoor blameer. Hulle skreeu vandag nog rewolusie en sosialisme, maar lewe soos vet kapitalistiese rent-seekers wat op die sakesektor steun om die land aan die gang te hou.

Ja, die ANC het 'n lelike hobbel met die “nege verloor jare” van Jacob Zuma geslaan.

Toe word een van ons land se mees belowende “sons of the soil”, die bekwame en innemende Cyril Ramaphosa, in 2012 adjunk-president en in 2018 president. A, die Nuwe Daeraad wag toe op ons.

Hy en sy binnekring het toe nié die ANC-regering vernuwe nie. Die kultuur van patronaatskap, korrupsie, rent-seeking en laissez-faire regering, van die bemagtiging van net 'n klein elite en die verwaarlosing van die massas, woed onverpoos voort terwyl die verval van infrastruktuur versnel het.

Die sekuurste taksering van Ramaphosa se staatsrede kom van iemand wat eens in die ANC-binnekring was, wat as senior regeringswoorvoerder die masjinasies eerstehands ervaar het, die oud-joernalis Ayanda Allie:

Ek het die ANC-binnekring en die UDF-leierskap al in die vroeë 1980’s van nader leer ken en 'n lang pad saam met baie van hulle geloop. Ek het die laaste vier dekades vele swart en bruin leiersfigure, in die politiek, die sakewêreld en die akademie,  ontmoet wat in enige ander gemeenskap ter wêreld die kruin sou bereik het.

Ons hét die potensiaal gehad – het stééds die potensiaal – om 'n hoogs suksesvolle land te word wat die geleentheid aan almal bied om tot die beste van hulle vermoëns te ontwikkel.

Om die Ramaphosa-administrasie nou te loof omdat ons darem nog 'n grondwetlike staat met 'n funksionerende regbank is en nie in 'n burgeroorlog verval het nie, is soos om 'n man aan te prys omdat hy nie sy vrou te hard slaan nie.

Ons, die mense, verdien beter. Ons verdien die beste.

Max


Opsomming

Tot dusver kom dit eenvoudig hierop neer:
jy het verduur wat jy geprogrammeer
was om vanaf die aanvang te deurstaan
en benader nou die einde van jou baan.
'n Skroothoop nietighede skep ballas,
daarmee sou jy 'n hele koffer vol
kon stop om sonder omkyk te verkas,
met rym – indien moontlik – steeds in 'n verfraaiende rol.

- Elizabeth Eybers

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikels kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.