As ’n geliefde ma wegval

DINSDAG MET ANESCA SMITH

As ’n geliefde ma wegval

ANESCA SMITH skryf oor die groot verlies as 'n ma wegval.

Skaars 'n dag nadat ek in Kaapstad aanland, moet ek na 'n begrafnis gaan. Een van my oudste vriende se ma is 'n paar dae gelede oorlede en die begrafnis is by 'n kerk in Strandstraat.

Ons vriendskap is van daardie soort waar jy mekaar miskien 'n paar jaar nie sien nie, maar met die herontmoeting is die liefde meteens weer innig en ráák – asof jy nooit weggegaan het nie.

Die Bybel sê jy moet jou naaste liefhê soos jouself, maar ons almal weet mos daar is naastes wat dit bitter moeilik maak om hulle lief te hê. Met my vriendin, Lynn, is dit anders. Dis byna onmoontlik om nie lief te wees vir haar en sommer ook verlief op haar te raak nie. Tyd en afstand maak geen verskil nie.

Daarom is dit seer toe ek verneem dat haar ma op 63-jarige leeftyd oorlede is. Iemand het een keer geskryf: “Nie al die woorde in die dikste woordeboek kan presies vertel watse fokop dit is as mens se ma dood is nie. Weg. Vir altyd. Soos in absoluut weg vir die res van my lewe.”

In die weke daarna ontmoet ek ander vriende en familielede. Een se ma ly aan demensie en het heeltydse sorg nodig, 'n ander se ma het suikersiekte en is halfblind en byna stokdoof. En so gaan dit aan.

Die wêreld soos ek hom laas in Suid-Afrika gelaat het, staan op sy kop. Dis 'n fokop, dis 'n fokop.

Soos baie mense, weet ek ook nie altyd wat om aan die naasbestaandes te sê wanneer iemand sterf nie. Goed soos “Sterkte” en “Sy het 'n mooi, lang lewe gehad” klink nie vertroostend in my eie ore nie. Maar íets lomp sê is beter as niks sê nie.

By die begrafnis is Lynn die ene energie. Sy maak seker iedereen het agterna genoeg om te eet, maak 'n praatjie met almal. Lag, gesels. Haar man kom gee my 'n drukkie waar ek in my onvanpaste vakansieklere staan. (Ek het te laat uitgevind ek sou na 'n begrafnis kom.) Hy noem terloops dat hy bekommerd is omdat sy so besig is. Ek onthou toe my kind oorlede is en sê ek was presies op daardie selfde weird high. Die trane sou later kom.

'n Week later gaan ons hele uitgebreide familie vir 'n naweek na Pearly Beach aan die Suidkus.

Sondagoggend vroeg raak ek wakker. My ma is siek. Bitter siek. Ek jaag na die naaste hospitaal – die Mediclinic op Hermanus. Ná wat voel soos 'n eindelose administrasieproses word sy opgeneem in die noodeenheid. 'n Jong arts, ene dr. Du Toit, is aan diens. Daar is 'n saal vol ander pasiënte, maar hy neem sy tyd met haar, doen 'n deeglike ondersoek en weet meteens wat die probleem is. Reël dat sy die volgende oggend vroeg al op die chirurg se lys staan. Jy sou sê hy doen maar net sy werk, maar nogtans oorval 'n groot dankbaarheid teenoor dié man my wese.

In al die chaos van die wêreld en die drukte van die besige noodeenheid met mense wat om ons lê en kreun en skreeu bly hy rustig, presies en bowenal nie haastig nie. Ongeag wat daar buite in die wêreld aangaan, vir nou, dít, was alles goed gereël in hierdie man se hande.

Mooi week.

Anesca


Sport

Life
For him
Must be
The shivering of
A great drum
Beaten with swift sticks
Then at the closing hour
The lights go out
And there is no music at all
And death becomes
An empty cabaret
And eternity an unblown saxophone
And yesterday
A glass of gin
Drunk long
Ago

– Langston Hughes

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.