Ons hou boekefees in Stilbaai!

KOM KUIER SAAM

Ons hou boekefees in Stilbaai!

Vrye Weekblad hou 'n boekefees in Stilbaai die naweek van die 25ste tot 27ste Februarie. Ons gaan heerlik informeel kuier met van die grootste name in Afrikaans. Maak sommer 'n wegbreeknaweek daarvan – die lieflike dorpie en omgewing bied lang strande vir stap en swem en lekker drink- en eetplekke. Hier is die program en aanwysings van hoe om jou kaartjies aanlyn te koop. Met spesiale dank aan Matchbox Trading Store & Coffee Shop, Oudewerfskloof Olive Farm, Karee Manor Guesthouse, Spectacle World in Goodwood & Swier-aanlynwinkel.

  • 25 Januarie 2022
  • Vrye Tyd
  • 3 min om te lees
Image: ANGELA TUCK

Vrydag 25 Februarie

Waar: Die Baptiste-kerksaal, Panoramasingel, Stilbaai-Oos.  
Koste: Gratis

18:00 Ons skop Vrydagaand af met ’n gesprek tussen Max du Preez, Anneliese Burgess en Anastasia de Vries van Vrye Weekblad. Hulle gaan gesels oor lewe aan die Suidpunt en hoe “ons survive met ’n helse lot pyn in hierdie land” – soos Johannes Kerkorrel dit meer as 20 jaar gelede al gestel het. 


Saterdag 26 Februarie

Waar: Baptiste-kerksaal, Panorama-singel, Stilbaai-Oos.
Koste: Saterdag se gesprekke kos R75 elk, of koop die Saterdag-pakket vir net R300 en woon alles by. Boeke sal hier te koop wees en skrywers sal dit vir jou teken.
Klik hier om kaartjies te koop.

10:00 Deborah Steinmair en Frederik de Jager praat oor skryf en die boekebedryf. Hoe kan jy jou manuskrip onweerstaanbaar maak? Hoe weet jy ’n boek is publiseerbaar? Kan ’n mens iemand leer skryf?  Sy is ’n skrywer, boekjoernalis en redakteur by Protea Boekhuis. Hy is ’n gewese uitgewer, nou manuskripleier en mede-eienaar van The Talking Table wat skryfkursusse in Suid-Afrika en Griekeland aanbied.

11:00 Juliana Coetzer het in 2015 die eerste keer die aandag getrek met Bloedvreemd, die verhaal van hul dogter, Anneke, wat op sewe breinskade opgedoen het weens ’n virus. In 2021 skryf sy Die kind se naam is Anneke. Sy is nou in haar dertigs en woon in ’n tehuis vir gestremdes. Anastasia de Vries gesels met Juliana.

12:00 Irma Venter en Sidney Gilroy gesels met Max du Preez oor hul nuutste boeke. Irma se krimi’s in haar S-reeks was almal blitsverkopers. Sy is die eerste Suid-Afrikaanse skrywer wat internasionaal uitgegee is deur Amazon Crossing. Sidney se tweede krimi, Middernag, is in 2021 met die kykNET-Rapport-filmprys bekroon.

14:00 P.P. Fourie, professor in politieke wetenskap aan die US, se 'n Hart is so groot soos 'n vuis het verlede jaar groot opspraak gewek. Hoewel hy dit as ’n roman geskryf het, is dit die ware verhaal van hoe sy pa hom en sy ma afgeknou en verneder het. Elna van der Merwe gesels met hom.

15:00 Ingrid Jones en Annake Müller gesels oor die kookboek The Lockdown Recipe Storytelling Book wat tydens grendeltyd as 'n Facebook-groep begin het met die uitnodiging om gunstelingresepte en -stories te deel. Ingrid is uitvoerende direkteur van Mikateko Media, ’n TV-persoonlikheid en sakevrou. Annake se eerste kookboek as onafhanklike uitgewer, Geure, is in 2020 met 'n goue Pendoring bekroon. Hul gespreksleier is Wicus Pretorius, redakteur van Tuis.

16:00 Marita van der Vyver sê sy het ’n band met Stilbaai nog lank voor dit so ’n gewilde dorp geword het. Van haar familie lê selfs in Riversdal begrawe. Stilbaai speel ’n rol in onder meer Griet skryf ’n sprokie, Dinge van ’n kind, Wegkomkans en haar jongste boek, ’n Baie lang brief aan my dogter. Elna van der Merwe vra haar uit.


Sondag 27 Februarie

Waar: Matchbox-restaurant, Stilbaai-Wes
Koste: Sondag se kos-en-kuier kos R100. Gaste ontvang ’n geskenkbewys van R1,500 van spectacleworld.co.za en ’n voorskoot van swier.co.za. Boeke sal hier te koop wees en skrywers sal dit vir jou teken.
Klik hier om kaartjies te koop.

10:00 Kom kyk en luister hoe gesels Lientjie Wessels en Marinda Engelbrecht met mekaar terwyl hulle van hul geregte demonstreer.

Van hul lekkernye sal aan gaste voorgesit word – so kom proe saam! Marinda het bekend geword ná haar deelname aan die eerste Kokkedoor-reeks en het twee resepteboeke op die rak: Marinda se koskas en Marinda se kinderkombuis. Lientjie was voor haar deelname aan Kokkedoor 3 bekend vir haar dekorwinkel Li-Bel in Pretoria en daarna vir haar restaurant, Albizia, in Cullinan. Sy gesels oor haar kosboek, Geure.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.