Afrikaans is groter as Afrikaans is Groot

AFRIKAANS IS SOOS DIE WEDUWEE SE KRUIK

Afrikaans is groter as Afrikaans is Groot

Wanneer ʼn kulturele figuur soos Steve Hofmeyr in die bek geruk word, spring sy volgelinge op hul perdjies en skree wolf (askies tog vir die vermenging van metafore). Maar die feit dat iemand standpunt inneem teen onverdraagsaamheid, beteken nie dat hulle een groep se kultuur en taal aanval nie. Want Afrikaans behoort nie net aan ʼn sekere groep mense nie, skryf RIKU LÄTTI.


VOLKSNASIONALISTE sit die pot mis as hulle dink dis ʼn aanval op hul kultuur en taal wanneer hul kulturele leiers op nasionale platforms verbied word omdat hulle verdelingspolitiek pleeg.
Natuurlik is dit weer Steve Hofmeyr en die Ghoemas wat ter sprake is. En die Kommersiële Wit Afrikaanse Kultuur (Kwak).
Weens die onregverdige voordeel wat wit Afrikanerkultuur onder apartheid geniet het, staan Kwak steeds kop en skouers uit bo die kulturele aanbod van ander Afrikaanse gemeenskappe. Soveel so dat Kwak-aanhangers dikwels onder die wanindruk verkeer dat hul kultuur die geheelbeeld van Afrikaanse kultuur uitmaak.
Maar Afrikaans is in ʼn groot mate die skepping van inheemse mense en slawe vanaf die tyd van Jan van Riebeeck wat 'n taal moes vind om met die Hollanders in die Kaapkolonie te kon kommunikeer. Dis deel van hoe Afrikaans gevorm is. Die Hollanders het dan reeds Nederlands as hul eie taal gehad. As daar nie aanraking met bruin mense in die Kaap was nie, sou die taal veel meer op oud-Nederlands getrek het as die Afrikaans wat ons vandag ken.
Soos die weduwee se kruik
Die realiteit is dat Afrikaans gesamentlik behoort aan al die sprekers wat dit praat. Geen spreker of groep het meer reg op Afrikaans as ʼn ander nie.
Afrikaans is groter as Afrikaans is Groot.
Afrikaans is die pragbruid in Eugène Marais se gedig “Die dans van die reën”. So mooi dat ʼn mens kan verstaan dat van haar sprekers haar tot die dood toe wil beskerm.
Maar sy het nie daardie beskerming nodig nie, want die bruilof is groot en daar is genoeg van haar vir almal wat met haar wil trou. Sy is soos die weduwee se kruik, ʼn onuitputbare bron wat net aanhou gee en gee en gee. Heilig.
Jy laat die taal groei deur dit weg te gee, nie deur dit vir jouself te hou nie. En as jy haar weggee, dan gebeur die wonderwerk: Jy kry meer van haar terug.
Want (soos met die Bybelse vertelling) toe Jesus sien die mense op die berg is honger, vra hy vir Johannes en Petrus: Wat het julle? ʼn Paar vissies en ʼn bietjie brood, antwoord hulle, en hy sê: Kwaai, gaan gee dit vir dáái tannie, want sy lyk honger.
En hulle doen dit, en almal sien dit, en Pieter en Thabo en Fatima sê: Ek het biltong; ek het bier; ek het niknaks en ’n paar tjoppies; en almal begin deel, en woepsklaps is almal deel van die partytjie en daar’s genoeg vir almal. Twaalf mandjies vol. Dit klink soos ʼn droom, maar dis wat Jesus gedoen het.
As jy lief is vir jou taal, is dit lekker om te hoor ander mense praat dit. Dis lekker om te dink daar is nou dudes in Kalifornië, Argentinië of waar ook al wat Afrikaans praat, maar daar is ook Afrikaanssprekendes hier reg onder ons neuse wie se eksotiese wêrelde en kulture nog vir baie mense onontdek bly.
Isolasie vereng. Om slegs te klou aan wat jy ken, gaan jou net verarm, want alles vergaan op die ou end. As jy jou Afrikaans deel en vir almal gun, dan maak jy jouself relevant vir andere. Jou deure tot die wêreld gaan oop, jy ontvang nuus en kultuur van alle oorde, in jou eie taal, en jy word op die ou end ryker deur net te gee.
Eerste Skryfafrikaans
Die eerste geskrewe Afrikaans was in Arabiese skrif. Dit het in die 1830's in die Bo-Kaap gebeur toe Moslemgodsdiensleiers dit in die Moslemgodsdiensskole in Kaapstad begin gebruik het. Lees ʼn bietjie oor “Arabiese Afrikaans” (van geleerde mense, meestal uit die Ooste gesteel om in die Kaap onder dwang as slawe te werk): In daai jare het wit mense aan die Kaap nog in Hollands en Engels geskryf.
Nie net het die Moslems in die 1800’s Afrikaans geskryf nie, hulle was ook die eerste gemeenskap wat in Afrikaans skoolgehou het. In die onlangse taaldebatte is gehoor dat eerstetaalonderrig ʼn belangrike aspek vir die behoud van daardie taal is. In daardie geval behoort die Moslemgemeenskap heelwat meer erkenning te kry vir die bestaan van Afrikaans.
Eerste Afrikaners
Die eerste mense wat na hulself as “Afrikaners” verwys het, was ook glad nie wit nie. Voor 1710 al het ʼn groep afstammelinge van Khoena en slawe hulself die Orlam-Afrikaners genoem. (Lees gerus verder oor die eerste bruin Afrikaners, en kyk na die pragportret van die groep deur Cobus van Bosch.)
Afrikanernasionalisme
Dis eers in 1875 toe die Genootskap van Regte Afrikaners (GRA) in die Paarl gestig is dat die term “Afrikaner” van bruin mense toegeëien is om na wit boere te verwys. Hierdie groep het die koerant Die Afrikaanse Patriot gestig wat in “Afrikaans” geskryf is omdat die meeste boere nie meer suiwer Hollands magtig was nie.
In 1881 verrys ʼn boereprotesaksie, die Zuid Afrikaansche Boerenbeschermingsvereeniging (BBV), onder leiding van Jan Hendrik (Onze Jan) Hofmeyr. Hierdie groep smelt later saam met die GRA om die politieke party die Afrikanerbond te vorm.
Afrikaans as taal van die boer is in 1933 gevestig, toe C.P. Hoogenhout, A. Pannevis en S.J. du Toit die Bybel vir die eerste keer in Afrikaans vertaal het. Daarna, met die opkoms en groei van Afrikanernasionalisme, het wit mense, met die wetboek onder die arm, daadwerklike stappe geneem om bruin mense se “kombuistaal” finaal vir die wit nageslagte toe te eien as “Afrikaans”, en in dieselfde asem hulle die weersinswekkende naam “kleurling” te gee.Lang storie kort: Nóg die taal, nóg die naam “Afrikaner” het oorspronklik aan die wit mens behoort. Is dit nie effens ironies dat die “volk” wat vandag die hardste vir die terme “Afrikaans” en “Afrikaner” baklei ook dieselfde gemeenskap is met ʼn oordrewe trots op hul Europese wortels nie? Die nie-sogenaamde Europees-Afrikaner?Dis in pas met die res van hul grypkultuur dat hulle meer aanspraak maak op die naam “Afrika” as enige ander inheemse volk van die vasteland. Apartheid het nie net rasse van mekaar geskei nie. Swart en bruin mense is van hul grond, waardigheid en ryk geskiedenis onteien.In retrospek is dit maklik om te sien dat iets soos apartheid nóóít sou kon werk nie, en tog meen die Afrikanernasionalis vandag: “Maar ons het dit dan so goed reggekry.”Hoeveel keer het ʼn mens al gehoor: “Die swart man was beter daaraan toe onder apartheid”?Wel, as dit die geval was, hoekom stem hulle nie nou nog vir die NP nie? Die ware geskiedenis van Suid-Afrika is onder ʼn mat ingevee, en dis nodig dat dit die lig moet sien, want die absolute gebrek aan empatie vir mekaar gaan ʼn mens verstand te bowe.
Partytjie vir almal
Vandag word die volksnasionalis van nasionale platforms onttrek weens verdelende uitsprake. Met groot kabaal teken hy protes aan teen “sensuur” en “die aanval op sy taal en kultuur”.
Maar daar is ʼn rykdom van Afrikaanse kultuur wat nie van die volksnasionalis afkomstig is nie. Hy word die partytjie verbied, nie omdat die nuwe grootbaas Afrikaanse kultuur wil onderdruk nie, maar omdat daar nou ook ander Afrikaanse mense by die partytjie teenwoordig is en sy “alles vir my”-houding strydig is met die “alles vir almal”-beleid waarvolgens die partytjie van nou af gaan verloop.
ʼn Aanval op volksnasionalisme is nie gelykstaande aan ʼn aanval op Afrikaans nie. Steve Hofmeyr is nie ʼn kryger vir Afrikaans nie. Hy is ʼn kryger vir die voortbestaan van ʼn wonderbaarlike leefstyl soos dit geniet is deur wit Afrikaners gedurende apartheid. Daarvoor is Steve bereid om die posisie van martelaar te beklee vir sy volk.
Verarm en kwynTe oordeel na die taalgebruik en spelfoute van Steve-aanhangers op sy blad (sy eie seun Devon Hofmeyr ken nie die verskil tussen die woorde “kinderlik” en “kinderagtig” nie) is dit veilig om te sê dat Steve se mense veel liewer is vir hom as vir Afrikaans. Sy posisie as volksmartelaar is heeltemal te lonend vir Steve om nou versoeningsretoriek te verkondig.Wat die res van Suid-Afrika sê, is: Daar is nie meer plek vir apartheid hier nie. Die “logiese” antwoord daarop is: Wel, dan hou ons apartheid op ons eie. En Suid-Afrika sê: Fine, maar julle kry nie dié keer al die land se hulpbronne nie.En die volksnasionalis sê: Fine, ons breek sommer ons eie skottels om die transaksie te beklink. En só verarm en kwyn die uitverkore volk in ʼn selfopgelegde kulturele en ekonomiese Orania in.Steve se volk kyk op na hom om namens hulle standpunt in te neem. Steve se standpunt verarm sy volk, al sien hulle dit nie só nie, en hy word verryk daardeur.Onderdruk onverdraagsaamheidDie volksnasionalis voel miskien sy taal en kultuur word onderdruk, maar dis nie waar nie. Wat wel deesdae onderdruk moet word, soos dit hoort, is onverdraagsaamheid. Ek’s nie ʼn rassis nie, maar ...Jy dink dalk nie jy is ʼn rassis nie, maar as jy rassisme duld en jou met rassiste assosieer, is jy op die ou end ook maar ʼn rassis, want jy bevind jouself in onverdraagsame geselskap. Suid-Afrika kan nie meer bekostig om dit te verduur nie.Die laaste ding wat Afrikaans nou nodig het, is om laer te trek om haar (onverdraagsaamheid) te beskerm. Sy het reeds ʼn onverdiende slegte naam. Ek sê: Maak haar los; deel haar aan almal uit; omarm al haar eksotiese fasette, sodat sy kan versprei so wyd soos die wind en dan lêplek vind in elke hart en mond wat haar lief het.En dan, as jy skielik oop is vir ʼn ding, dan val iets so mooi soos dié in jou skoot: ʼn Afrikaans wat ons almal se taal en kultuur verryk. Luister gerus na Churchil Naudé se Praat Saam My.
Hoor net hoe vrylik word daardie woorde gebuig om te bult. Is dit Afrikaans? Indien Afrikaans slegs wit volksnasionalisties is, dan definitief nie. Maar as jy dit kon verstaan, vra jouself af: Wanneer het ek hierdie ander taal bygeleer? Sal ʼn Engelsman dié kan verstaan? Jy het hierdie boodskap in Afrikaans ontvang.

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.