Die Spil van Revolusionêres maak reg om die regering oor te neem

GEKONKEL IN DIE SKADU’S

Die Spil van Revolusionêres maak reg om die regering oor te neem

Daar is 'n spil wat beheer wil verkry oor die Reserwebank, die nasionale tesourie, ekonomiese beleid, en van Ramaphosa en sy bondgenote ontslae wil raak – maar eers sal hulle die kommissies moet stop, skryf ISMAIL LAGARDIEN.

Agter die skerms is daar 'n verbete stryd tussen die ondersteuners van die president en adjunkpresident.
Agter die skerms is daar 'n verbete stryd tussen die ondersteuners van die president en adjunkpresident.
Image: FOTO: DIE PRESIDENSIE

DIT voel absurd, amper soos ’n sameswering, maar Suid-Afrika was al voorheen waar hy nou is. Dit was in die vroeë 1990’s toe die Nasionale Party sy greep op die regering en sy ondersteuners begin verloor het (hulle het in elk geval nooit meer as 20% van die stemme gehad nie), en toe die land op die rand van burgerlike onrus en moontlike staatsineenstorting was. Dit blyk dat ons nou weer dáár is.

Die regerende party is besig om sy greep op die regering van die land te verloor (staatsinstellings en -agentskappe het verswak); die verdeling in die regerende alliansie verswak die regering; volgehoue diensleweringstakings en byna sistemiese wetteloosheid sit beleggers af, bedreig die veiligheid van gemeenskappe en put die staat se hulpbronne uit. En die EFF dreig dat hulle geweld sal gebruik om beheer oor die land te kry.

Kommissies van ondersoek

Die enigste bietjie hoop is die verskeie kommissies wat korrupsie, wanadministrasie en staatskaping ondersoek. Dit hang egter daarvan af of ons dit sien as ’n proses van uitdrywing of as bewys van hoe sleg dit eintlik gaan.

’n Mens kan jou indink dat die instellings wat ons moet beveilig, en wat ons aanvaar as ’n soort derin devlet of “staat-binne-’n-staat”, hul hande vol het en nie weet wanneer om terug te staan of vorentoe te beur nie.

Intussen hou almal, van die president en sy raadgewers af, die huidige ondersoekkommissies fyn dop, veral die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping en die Mpati-kommissie se ondersoek na ongerymdhede by die Openbare Beleggingskorporasie (OBK) – met een oog op die konsolidering van die nasionale vervolgingsgesag (NVG) onder die nuwe leiding van adv. Shamila Batohi.

Die lyn van korrupsie

Vir die doel van ’n ontleding kan ’n mens ’n soort lyn trek tussen die kommissies wat deur regter Raymond Zondo gelei word; die Mokgoro-kommissie wat deur die afgetrede regter van die grondwetlike hof, Yvonne Mokgoro, gelei word; die SAID-kommissie se ondersoek na belastingadministrasie en -bestuur deur die Suid-Afrikaanse Inkomstediens; en die Mpati-kommissie.

Dié lyn loop feitlik parallel met die amptelike verwydering van Jacob Zuma op 14 Februarie 2018, en die begin van Ramaphosa se presidentskap net daarna.

Dis ’n lyn wat beweerde korrupsie en moontlike misdade, tot en met Zuma se vertrek, skei van pogings om toekomstige korrupsie en wanadministrasie te voorkom – veral in die OBK. Daar is vir seker baie geld in die OBK, en daar sal vinnig teen enige korrupsie opgetree moet word.

Die kommissies is presies dít wat ’n mens reeds omtrent hulle weet, maar in sommige gevalle ook ’n soort ingrypende veranderlike in die skaduspel van die politieke magstryd in Suid-Afrika.

Daar is heelwat bewyse – wat reeds onthul en in die openbaar bespreek word – wat dui op ’n proses om Ramaphosa as president te ondermyn of te verwyder. Daar word beslis vuil gespeel en die hoofrolspelers is nie partylojaliste nie; hulle kan slegs as “goed” of “sleg” (of “vuil” en “minder vuil”) beskryf word.

Progressiewe pogings

Die prentjie lyk amper só: Ramaphosa en sy binnekring (van wie nie almal ANC-leiers is nie), maar veral Pravin Gordhan, verteenwoordig ’n gesamentlike en progressiewe poging teen die verrotting wat tydens Zuma se termyn ontstaan het.

Ramaphosa en sy bondgenote fokus hoofsaaklik op makro-ekonomiese en finansiële stabiliteit, om die staatsdiens as beroep te bevorder, en om die land se ekonomiese basis in die algemeen te versterk.

Om hierdie dinge te laat slaag, is dit vir Ramaphosa en sy bondgenote noodsaaklik dat die kommissies hul werk afhandel, en die NVG enige regsprosesse moontlik kan voorberei.

Spil van Revolusionêres

In opposisie hierteen is daar ’n losse affiliasie – kom ons noem dit die Spil van Revolusionêres. Dié spil kan die grootste verloorders in die kommissieproses wees, want dit sal die einde van die plundery beteken en enige verdere misdrywe en oortredings keer. Van die hooflede van die spil is al met onwettige of onetiese aktiwiteite in die Vrystaatse regering, SAID, Eskom, die SAUK en verskeie ander staatsagentskappe verbind.   

Dit bestaan grootliks uit lojale Zuma-aanhangers en word skynbaar gelei deur die ANC-sekretaris-generaal, Ace Magashule. Daar is gerugte dat Nkosazana Dlamini-Zuma en (waarskynlik) David Mabuza agter die skerms betrokke is.

Dan is daar die EFF; die klein, maar oproerige Black First Land First (BLF); die Nasionale Unie van Metaalwerkers van Suid-Afrika (wat ook relatief klein is, maar potensieel groot ontwrigting kan veroorsaak); en verskeie ander kleiner groepe soos die Instituut vir Ekonomiese Geregtigheid; ’n handjievol invloedryke openbare intellektuele; en mense soos Tom Moyane, Hlaudi Motsoeneng, Brian Molefe, Mzwanele Manyi, en die openbare beskermer, Busisiwe Mkhwebane, wat, ons moet byvoeg, “net haar werk doen”.

Wat almal bymekaar hou, is die teenkanting teen “witkapitaalmonopolie”, ’n ideologiese geloof in die nasionalisering van die Reserwebank, ’n intense afkeer van die fiskale versigtigheid van die nasionale tesourie, ’n gevoel van verlies nadat Zuma weg is, grondonteiening sonder vergoeding en die besetting van grond.

Hoewel dit moeilik is om enige intellektuele diepte of ideologiese klaarheid by iemand soos Motsoeneng te vind, word daar baie gesteun op Marxisme-Leninisme, maar dit maak nie regtig saak nie.

Toevallige lede

Toevallige lede, met duidelike ideologiese verskille, is die Demokratiese Alliansie, wat die ANC teenstaan, maar veral wil hê dat Ramaphosa moet bieg.

Hieroor steun die DA die EFF, wie se leier volhou dat Ramaphosa nie sy termyn as president sal uitdien nie en adj.pres. David Mabuza gereed is om oor te neem.

Die afgelope week het Malema die lus gesluit wat die EFF in die spil hou, maar gesê die land moet voorbereid wees op ’n Mabuza-presidentskap. Om bande verder te versterk, het Malema verwys na Ramaphosa se “korrupsie” en hy het Mabuza se eerlikheid geprys.

“Om elke draai word DD (Mabuza) korrup genoem, maar daar is niks tasbaars teen die man nie, nie eens intelligente dinge nie ... maar daar is iets tasbaars teen Cyril; daar is R500,00 en R400 miljoen in CR17 se rekening. Kan jy dít sê van DD, niemand kan nie. Met DD is dit alles toiletgerugte  en as jy dit op ’n behoorlike platform sou herhaal, sal DD jou aanvat en jy kan nie daarin slaag nie,” het Malema gesê.

Eers sal hulle die kommissies moet stop

Indien ons al die elemente saamtrek, kom ’n prentjie na vore van ’n spil wat beheer wil verkry oor die Reserwebank, die nasionale tesourie, ekonomiese beleid, en van Ramaphosa en sy bondgenote ontslae wil raak – maar eers sal hulle die kommissies moet stop.

Ramaphosa en sy bondgenote sal wil sien dat die kommissies hul werk voltooi; die NVG sake voorberei teen diegene wat by misdadige aktiwiteite betrokke is; makro-ekonomiese en fiskale stabiliteit tot stand gebring word; beleggers gelok en werk geskep word. En goeie diens en goedere voorsien word. Wat die uiteindelike verantwoordelikheid van die regeringshoof is.

Om dus op te som, ons het ’n president met ’n baie vae greep op die regering en sy ondersteuners, met ernstige tekorte in dienslewering,  persoonlike regs- en politieke uitdagings,  en ’n aggressiewe opposisie wat wag om met die eerste teken van ’n vakuum oor te neem – selfs, soos Malema gewaarsku het, as dit wapens vereis om die revolusie van die spil te voltooi.

PRAAT SAAM: Gaan na heel onder aan dié bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.