Die wêreld is steeds verlore, met steeds geen kuur nie

NUWE ALBUM DEUR OU MEESTERS

Die wêreld is steeds verlore, met steeds geen kuur nie

FRED DE VRIES skryf hy het ‘grootgeword' met Robert Smith, stigter van die Britse punkgroep The Cure, wat reeds op 21 jaar besluit het die lewe is nie die moeite werd nie. Moenie bekommerd wees nie, op 65 sorg die mymeringe oor dood, afskeid en angs steeds vir musiek wat jy oor en oor wil speel.

EK en Robert Smith van The Cure het saam grootgeword. Dit wil sê, ons is in dieselfde jaar gebore, 1959 (hy is omtrent drie weke ouer), en ons is albei getransformeer deur die wilde energie en eindelose moontlikhede van punk. Ons het albei 'n band gestig wat nie regtig punkrock was nie, maar beslis punkgeïnspireerd. Myne het twee jaar gehou, syne gaan nou al van ongeveer 1976 af aan – amper 'n halfeeu. My band het omtrent niks bereik nie (drie snitte op 'n kompilasie), hy het 'n lang string seminale songs geskryf, insluitend my persoonlike gunsteling, “Lovesong”, subliem in sy eenvoud en melancholie. Ek het musiek laat vaar om te skryf, terwyl The Cure 'n fenomeen geword het, behoorlik ’n nasionale Britse skat, soos The Kinks en The Who.

Smith het van die neerdrukkendste stukke gekomponeer wat jy ooit sal hoor (luister maar na “The Figurehead (https://www.youtube.com/watch?v=eaFVhEFZzT4)” of “Siamese Twins (https://www.youtube.com/watch?v=50E9YNI3J0E)”), maar ook super-aansteeklike popdeuntjies soos “Friday I'm In Love (https://www.youtube.com/watch?v=mGgMZpGYiy8)” en “Just Like Heaven”. En nou, ná 'n onderbreking van 16 jaar, het Smith en sy band die nuwe Songs of a Lost World, hul langverwagte 14de ateljee-album, uitgereik. En diegene wat al die jare gewag het, sal saamstem: Dis fantasties, 'n diep en skrikwekkende duik by die donker wêreld van Robert Smith in, wat al die songs geskryf het.

Om terug te gaan in tyd: Ek het The Cure vir die eerste keer in September 1979 gesien toe hulle by die New Pop-fees in Rotterdam gespeel het. Hulle was toe nog 'n driemanskap wat 'n paar enkelsnitte en een album uitgereik het. Hulle het begin in Crawley, 'n onbeduidende New Town, halfpad tussen Londen en Brighton. Smith is in Blackpool gebore, maar sy ouers het na Crawley getrek toe hy drie was. Hy het 'n noordelike aksent gehad en is op skool genadeloos daaroor gespot. Dit het waarskynlik nie sy buitestander-gevoel enige skade berokken nie. Die mede-Cure-stigter en tromspeler Laurence “Lol” Tolhurst het Crawley “grys en oninspirerend, met 'n ondertoon van geweld” genoem...

Slegs Vrye Weekblad-intekenare kan hierdie artikel lees.

Teken nou in vir volle toegang tot alle Vrye Weekblad-inhoud.

Reeds ’n intekenaar? Kliek “Meld aan” om voort te gaan

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 082 897 2721 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.