Misty Waters meer as net ’n musiekfees: dis ’n kulturele oase

SKEPTIES IN SECUNDA

Misty Waters meer as net ’n musiekfees: dis ’n kulturele oase

Secunda laat jou dalk dink aan die vaal in die ou Transvaal, maar dis die tuiste van die Misty Water-musiekfees in Mpumalanga. 'n Fees van uitreiking en oorbrugging. RIKU LÄTTI en Die Wasgoedlyn was daar, waar hulle die groenste groen – en verskeie musikale juwele – ontdek het.

DINK aan Mpumalanga, en jou eerste gedagtes is dalk ou Oos-Transvaal, Nelspruit, Graskop, Pelgrimsrus, Krugerwildtuin, mooi provinsie. Dink dan ʼn bietjie aan Secunda, en ʼn mens skrik dalk effens: Ja, dis ook daar in Mpumalanga, maar dis in die vaal deel tussen die kragstasies, myne en fabrieke. Nie juis almal se eerste idee vir ’n vakansiebestemming nie. Trouens, dit beklemtoon die vaal in die ou Transvaal.
Maar Google Earth vir Lake Umuzi en kliek op die “satelliet”-opsie. Daar kan jy mooi sien: In die middel van die vaalste vaal is die groenste groen. Google sê vir jou daar’s ’n “kamp-oase” waar jy kan gaan tent opslaan. Dit lyk of daar interessante goed kan gebeur.

Ons het koers gekies na hierdie groen kol toe Die Wasgoedlyn by die Misty Waters-musiekfees gaan inloer het.
“Godverlate en vaal,” sê my vrou, Jackie, skepties toe ons Secunda binnery.  “Is ons seker die fees is hier?” Ek sê maar niks en kyk bekommerd na die wolk wat oor die Sasol-kragstasies hang.
Die GPS (mis)lei ons so ʼn paar keer en ons neuk verkeerd in doodloopstrate in die nywerheidsgebied in, en ná die lang rit uit Randburg uit raak die gemoedere so ʼn bietjie krapperig. Ons het in konvooi van Gideon (Die Wasgoedlyn-vervaardiger) en Ilze se huis af gery saam met Daniel Fisher, ons goedige kameraman.
Luuks in ʼn industriële woestyn
Uiteindelik kry ’n veiligheidswag ons op die regte pad en ons monde val behoorlik oop. Lake Umuzi is sowaar ’n oase in ’n tipe industriële woestynlandskap.
By die Merchant Hotel word ons vriendelik gegroet en na ons luukse verblyf gelei. Die hotel is so spoggerig ingerig dat ek twee keer moes dink: Is ons regtig by ’n musiekfees? Gewoonlik is dit tente, dun matrasse, slaapsakke, sand, roereier en spek uit papierborde by die feeste waar ons soort musiek speel.
Met “ons soort” musiek bedoel ek musiek wat nie in platemaatskappye se konferensiekamers of daai tipe Kwak (Kommersiële Wit Afrikaanse Kultuur) gebore word nie. Daai ouens het gewoonlik die geld; wat op dees aarde is hier aan die gang?
Ons pak uit en laai ons duisend kameras en gear (jammer vir die oordrywing, maar as jy soveel keer soos ons gepak het, voel dit soos meer) af by die feesterrein langs Lake Umuzi, waar die fees oor ’n paar uur afskop. Ons hoop om kunstenaars te verfilm wat gaan optree sodat ons hulle “aan die Wasgoedlyn kan hang”.
Die feesterrein is ’n lus vir die oog, mooi en opgedollie, met veelkleurige tente, stalletjies, bont piekniekkomberse, mense in karnavalklere, sportdrag, gotiese uitrustings en dramatiese grimering. ’n Ietsie vir elke smaak. Jy kan die kamera in enige rigting mik en dit lyk sommer kwaai.

Voor die fees was daar kritiek dat dit maar net nog ’n wit bymekaarkoms gaan wees waar mense “Die Stem” gaan sing. 
Die eerste groep wat optree, Zebra, het daai hele argument op sy kop gekeer. Soos hul naam suggereer, is daar swart en wit musikante in die groep, en dis beslis nie oppervlakkig nie. Elkeen speel ’n wesenlike rol in die groepsverband.
Hulle lied “Gugulethu” is speels en stout en kry die hele fees op hulle voete en aan die gang. Alles skop af op ’n hoë noot...

Registreer gratis om hierdie artikel te lees.

Hallo! Welkom by Vrye Weekblad. Ons inhoud is nou in Afrikaans én Engels beskikbaar.

Al wat jy hoef te doen om gratis te begin lees, is om met jou e-pos te registreer en ’n wagwoord te skep.

Om dit te doen, kliek eenvoudig op “REGISTREER”.

Reeds geregistreer? Kliek op “MELD AAN” om voort te gaan.

Vir nuwe VWB 3.0-navrae: WhatsApp 071 170 8927 (net vir teksboodskappe) of stuur 'n e-pos aan hulp@vryeweekblad.com.