Betogers raak slaags oor Gaza op UCLA-kampus

DONDERDAG MET MERCY

Betogers raak slaags oor Gaza op UCLA-kampus

MERCY KANNEMEYER het haar mes in vir mense wat laag daal. WILLEM KEMPEN is duidelik vies oor hy gister op Werkersdag moes werk, en daar is weer sewe goed wat jy vandag wil weet.

Goeiemôre!

1. Geweld het vroeg gisteroggend op die kampus van die University of California in Los Angeles (UCLA) uitgebreek, waar pro-Palestynse betogers 'n tentkamp opgeslaan het in solidariteit met die mense van Gaza. Net ure nadat die owerhede die kamp as “onregmatig en strydig met universiteitsbeleid" verklaar het, het 'n groep pro-Israeliese betogers op die kampus aangekom en probeer om die versperrings rondom die kamp af te breek, het die Los Angeles Times berig. Oor die volgende paar uur het gevegte glo herhaaldelik uitgebreek. Soortgelyke tentkampe by Fordham University, die City College of New York en Columbia University is vroeër deur die owerhede afgebreek.

2. LP's het gister hulde gebring aan die nyweraar dr. Sam Motsuenyane, wat Maandag in die ouderdom van 97 oorlede is. Motsuenyane was onder meer een van die stigters van die National African Federated Chamber of Commerce (Nafcoc). 

3. Die ANC-veteraan Mavuso Msimang, wat in November opslae gemaak het deur eers uit dié party te bedank en dit toe weer terug te trek, het aan News24 gesê hy is teleurgesteld dat soveel ANC-lede wat by staatskaping betrek is, steeds op die kandidatelys vir die komende verkiesing verskyn. Msimang is oorreed om sy bedanking terug te trek met die belofte dat hy deel van die span sou wees wat die lys saamstel.

4. Donald Trump het 'n bykomende 36 miljoen aandele ter waarde van $1,8 biljoen ontvang in Trump Media, die eienaar van Truth Social, as 'n bonus omdat die maatskappy se aandeleprys sekere teikens gehaal het. Daarmee besit hy nou 64,9% van die maatskappy, maar dit sal niks vir sy kontantvloei beteken nie omdat hy nie nou al die aandele mag verkoop nie.

5. Die Fed se beleidskomitee oor monetêre sake (FOMC) het die Amerikaanse sleutel-rentekoers gisteraand (SA tyd) onveranderd gehou.

6. 'n Zimbabwiese pa, Tendai Sibanda, eis meer as R3 miljoen se skadevergoeding van Ethiopian Airlines omdat hulle nie sy seun op 'n vlug van Johannesburg na Egipte wou toelaat sodat hy aan die Africa Junior Champions-tennistoernooi kon gaan deelneem nie. Sibanda sê die lugdiens het sy seun, die 17-jarige Mengezi Sibanda, sodoende van 'n deurbraak in sy tennisloopbaan beroof.

7. Die geniale ingenieur en ontwerper Adrian Newey het bevestig dat hy Red Bull se F1-span vroeg volgende jaar gaan verlaat, maar hy sal nie by Ferrari aansluit soos druk bespiegel is nie. Newey, wat 'n groot rol gespeel het in die sukses van die driemalige wêreldkampioen Max Verstappen, gaan elders onder die Red Bull-vaandel aan sy RB17-hipermotor werk.


Daar is weer 'n waarskuwing vir toestande wat 'n hoë brandgevaar inhou vir dele van Limpopo en die Kaapprovinsies. Laasgenoemde en KwaZulu-Natal kan ook oggendmiskolle verwag en dit sal in sommige dele deels bewolk wees. Dis vandag warm in die binneland en uiters warm in verskeie gebiede, behalwe in Gauteng en die Vrystaat.

Kliek hier vir meer.

Maksimum temperature: Pretoria 29°C • Johannesburg 27°C • Mahikeng 30°C • Mbombela 27°C • Kaapstad 23°C • Durban 26°C • Kimberley 30°C • Bloemfontein 28°C • Polokwane 29°C • Upington 34°C • Gqeberha 25°C • Oos-Londen 25°C.


Willem Kempen | Die dag ná die ANC

Gister se “Werkersdag" voel nogmaals soos 'n siek grap in 'n land waar so baie mense nie werk het nie. Baie mense het nie eens meer hoop op 'n werk nie. Miljoene Suid-Afrikaners verwag niks anders as ellende en hopeloosheid van die toekoms nie.

As jy nie 'n werk het nie, het jy waarskynlik nie gister die luukse van 'n rusdag gehad nie. Jy kon ook nie 'n bietjie ekstra geld verdien het deur in elk geval by jou werk op te daag nie. As jy 'n besigheid van jou eie bedryf, het jy dalk selfs 'n langer dag as gewoonlik ingesit, want 'n vakansiedag beteken hoër as die gewone uitgawes en nie noodwendig meer geleenthede vir inkomste nie.

Die amokmakers en die politici was ook gister op die strate, maar ver van mekaar af. In Johannesburg was groot dele van die stad sonder krag nadat infrastruktuur langs die besige M1 vermoedelik weens brandstigting beskadig is. In Kaapstad het iemand die teer in Baden Powell-weg op een plek in 'n netjiese sloot oopgekap. Vir wat?

Hoe gaan sulke dinge enigiemand se lewe beter maak, of maak dat hulle gehoor word as niemand nou na hulle luister nie? Of is dit bloot saboteurs aan die werk?

Iemand skryf op Facebook: “Ons het iemand nodig wat meer kan doen as mooi stories vertel. Mooi stories is lekker om na te luister, maar ons luister al dertig jaar na mooi stories. Dis dieselfde stories oor en oor. Die laaste stories het ons in 2021 gehoor toe ons raadslede verkies het. En ons probleme is nog steeds ons probleme. Presies dieselfde mense vertel ons vandag presies dieselfde stories as in 1994 en in 2021. En ons probleme is nog steeds ons probleme."

Die president het nie eens by mooi stories uitgekom toe hy gister 'n Cosatu-saamtrek in Athlone toegespreek het nie. Baie daarvan sou hy in 2021 of 1994 ook kon gesê het: “We need to deal with the damage that was done by apartheid; we still need to return the land to those who work the land. We still need to provide our people with basic requirements for a decent life. We still need to undo the effects of Bantu education. We know that we still need to tackle high unemployment."

Natuurlik moet ons al daardie dinge doen, maar die president sê nie vir ons waarom daar so baie agteruitgang en so min vordering daarmee is nie. Nuwe maniere word alewig uitgedink waarop die staat geld kan bestee om die stemvee op kraal te hou, maar ons hoor min oor hoe die staat die belasting gaan invorder om daarvoor te betaal. Of oor hoe ons die belastingbetalers – individueel én korporatief – hier gaan probeer hou wat die land in groeiende getalle wil verlaat. Dis mos genoeg om uit te wys hoe ondankbaar daardie mense is vir al die voorregte wat hulle oor die dekades hier geniet het, of dat die gras nie groener is daar oorkant nie.

Die president dink skynbaar ook nie Cosatu se lede is die soort mense wat dinge moet hoor soos watter slag dit vir die Suid-Afrikaanse ekonomie gaan wees as Anglo American vir spotgoedkoop deur 'n Australiese maatskappy oorgeneem word nie. Nee, dis beter om hulle ewe neerbuigend te laat voortleef in daardie fantasiewêreld waar uitbuitende groot korporasies altyd deel van die probleem is en nooit deel van die oplossing nie. 'n Besef van die harde werklikhede hou ons vir ons gesprekke in agterkamers waar ons die aaklige kapitaliste moet smeek om ons uit die moeilikheid te help terwyl ons hulle in die openbaar slegsê.

Die res van ons maak maar vrede met dit alles, want ons kan nie wegkom van die verlammende vrees dat iets nog veel erger op ons wag die dag as ons die ANC uitstem nie.

As genoeg van ons op 29 Mei weer só gaan dink, moet ons nie kla as The Devil We Know die dag daarna weer die land regeer nie.


VWB se tweede Cullinan-boekefees is om die draai! Jy kan luister hoe Mercy met Zelda Nel-Bezuidenhout en Henriëtta Gryffenberg gesels oor die verfilming van Zelda se boek Die dekonstruksie van Retta Blom. Kom ontmoet ons redaksie en jou gunsteling-skrywers die naweek van 10-12 Mei in Cullinan.


Smoor vieslikheid in die kiem 

Dis ’n geweldige ydele idee om die ander wang te draai, om nie te daal tot op húlle vlak nie; om die groter, beter mens te wees.

Daar is vir seker iets te sê vir hoe die meeste van ons grootgemaak is met ’n bepaalde sosiale kode waar ons nie uitgaan en sommer net PK’s uitdeel wanneer iemand ons ontstel nie. Die meeste van ons wil tog sekerlik gesien word as goeie, wetsgehoorsame, selfs godvresende vir sommige, aktiewe burgers in die breër samelewing.

Ons wil daai bure wees wat soggens en saans die mense langsaan ons groet. Ons wil ons vullis sorteer sodat die vullismanne nie hoef te sien hoeveel bottels wyn ons dié week uitgedrink het nie. Ons vegan-bure moet om hemelsnaam ook net nie sien hoeveel koeimelk ons eintlik per week verteer nie. Punt is – die meeste mense gaan nie uit en kies om drolle te wees nie.

Lees die volle brief hier.


Kraaivlug

Eens het kraaie oor die aarde regeer.
Hulle het ontsnap uit die ark van ’n vreesaanjaende god,
met snawels soekend na die aas gebore uit vloedgolwe.

Hierdie swart susterskap,
aanbidders van alles wat vloeibaar is,
met ’n bloedlus vir die bedorwe,
kon vloed in vrugwater omskep.

Hulle was uitboorders van oë,
sodat ongesiene uitsigte kon ontvou,
terwyl hulle met onheilige kryse doofheid genees.

Hulle snawels kon die toraks uitryg,
knippend deur die laaste drade
van wat mens met aardse stof verbind.

En toe leer hulle daardie geslepe Gilgamesj
’n les wat sy saad stééds probeer peil:
vlug is nie vlieg nie.

- Emma Bekker

Van: Versindaba

VWB


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.