Hier kom VryeWeekblad 3.0 #Kanniedood

MAANDAG MET MAX DU PREEZ

Hier kom VryeWeekblad 3.0 #Kanniedood

MAX DU PREEZ deel die nuus van Vrye Weekblad se hergeboorte.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre vriende

Onuitroeibaar. Soos Kaapse fynbos wat ná elke brand herleef en gedy.

Die lesersgemeenskap van Vrye Weekblad het met groot geween en gekners van tande gereageer op die onlangse nuus dat die koerant dalk sal moet sluit. Dit mag nie gebeur nie, was die kreet.

Wel, dit gaan nie gebeur nie.

Vrye Weekblad gaan vanaf 7 Oktober 2022 deur ’n nuwe maatskappy, die Nuwe Vrye Weekblad Mediagroep, met ’n nuwe visie en ambisieuse nuwe planne uitgegee word.

Die uitgewersooreenkoms met Arena Holdings, wat vryeweekblad.com sedert April 2019 uitgegee het, verval op 30 September.

Die laaste uitgawe onder die Arena-vaandel word op dié Vrydag, 30 September 2022, uitgegee. Die Vrydag daarna verskyn ons eerste uitgawe as ’n onafhanklike mediahuis.

Max du Preez sal steeds die hoofredakteur wees met Anneliese Burgess as mede-redakteur. Ander senior redaksionele aanstellings sal binnekort bekend gemaak word.

Die ervare oudredakteur en digitalemediaspesialis Andrew Trench is die groep se bedryfshoof.

Die nuwe maatskappy is moontlik gemaak deur ’n belegging van ’n waagkapitaalkonsortium onder die leiding van die invloedryke internasionale sakeman André Pienaar. Hy het wye sakebelange in die VSA, Brittanje en Afrika.

Die nuwe mediagroep sal sorg dat Vrye Weekblad se onafhanklike, onverskrokke stem sterker in die Afrikaanse en breër Suid-Afrikaanse gemeenskappe gehoor word.

Afrikaans hoort nie in ’n ghetto van bleekvelliges nie, dit hoort tuis in die hoofstroom van al die Suid-Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe.

Vrye Weekblad 3.0 wil help om die aanvaarding deur ander taalgroepe van Afrikaans as ’n ryk, warm inheemse taal en ’n nasionale bate te bevorder en die Afrikaanssprekende gemeenskappe beter met die res van Suid-Afrika te integreer.

Die publikasie ondersteun geen spesifieke ideologie of politieke party nie. Ons is pragmatiste en konstitusionaliste. Ons staan vir ’n oop gemeenskap, menswaardigheid, vooruitgang en skoon en effektiewe regering.

Vrye Weekblad is ’n markplein vir idees en menings en ’n betroubare bron van inligting, ontleding en konteks wat lesers help om hulle eie menings te vorm.

Vrye Weekblad 3.0 sal steeds op Vrydae op dieselfde huidige digitale platform gepubliseer word, maar daar sal van 3 Oktober af ook ’n daaglikse aanbieding aan intekenare wees.

Ons beplan om later ook van ons redaksionele inhoud in Engels beskikbaar te stel, en by geleentheid ook in ander inheemse tale.

Vrye Weekblad 3.0 is die nuwe groep se kernbesigheid, maar ons beplan later ook ander media-inisiatiewe.

André Pienaar het gister gesê:

“As ’n belegger in tegnologie lei ek graag saam met ’n groep engelbeleggers ’n waagkapitaalbelegging in die Nuwe Vrye Weekblad Groep, ’n innoverende digitalemediaplatform onder Max du Preez se leierskap wat onafhanklike beriggewing in Afrikaans doen.

“Dit is my tweede tegnologiebelegging in Suid Afrika ná die verkoop van ParcelNinja, die wolk-logististiek-startup wat ons in 2020 aan Imperial Logistics verkoop het.

“Ek is ’n toegewyde leser van die Afrikaanse media. Ek lees en geniet al die beskikbare aanlyn publikasies, insluitend Netwerk24, Maroela Media en LitNet. Ek is opgewonde dat Afrikaanse joernalistiek aanhou groei. Dit is wêreldklas in kwaliteit.

“Ek het Vrye Weekblad reeds as ’n tienderjarige van 1988 af gelees en weer in sy digitale formaat sedert 2019. Onder Max en sy span se leierskap is Vrye Weekblad geliefd by haar lesers en wyd gerespekteer vir haar integriteit, nuuskierigheid en onafhanklikheid.

“Met die waagkapitaalbelegging in die ontwikkeling van die Nuwe VWB sien ek ’n opwindende kombinasie van digitale wolkinnovasie en ervare en gerekende joernalistiek om ’n volhoubare oop gesprek vir die toekoms te help ondersteun.”

(As jy meer van André te wete wil kom, hier is ’n onderhoud wat ek in Oktober verlede jaar met hom gevoer het, toe ons nog knus in die Arena-stal was.)

Andrew Trench is die veelbekroonde gewese hoof van Media24 se ondersoekspan en oudredakteur van News24.com, Daily Dispatch, The Witness en die Times. As die redaksionele hoof van Tiso Blackstar, Arena Holdings se voorganger, was hy daarvoor verantwoordelik dat Vrye Weekblad in 2019 as ’n digitale publikasie herleef het.

Trench het gister gesê: “Dit is die grootste eer van my loopbaan. Die etos en visie van Vrye Weekblad en Max se onwrikbare toewyding tot ons beroep het my nog altyd geïnspireer.

“Ek sal alles in my vermoë doen om dié ideale te steun en te verseker dat dit iets word wat besondere en betekenisvolle joernalistiek vir komende geslagte volhoubaar maak, in Suid-Afrika en oor ons landgrense.

“Ons gaan ’n verskil maak.”

Wat beteken dit vir ons huidige lesers en intekenare?

Omdat vryeweekblad.com na ’n nuwe maatskappy skuif, sal elke leser (al was jy ’n intekenaar) wéér op die webwerf moet registreer.

Subskripsies (abonnement, die Franse woord wat ook in Nederlands gebruik word, is ’n veel lekkerder woord) mag nie na die nuwe maatskappy oorgedra word nie.

Prakties sal dit só werk:

  • Vir die maand van Oktober sal alle artikels op die webwerf gratis wees, ook die hele argief sedert April 2019.
  • Al wat jy sal moet doen, is om weer met jou e-pos te registreer om ’n lesersprofiel te skep. Dit kos jou niks.
  • Jy sal outomaties gevra word om dit te doen as jy op ’n enige artikelskakel klik.

Arena Holdings het onderneem om baie gou ná 30 September alle uitstaande intekenaargelde aan huidige intekenare terug te betaal. Ons hoop julle, en vele ander, gaan tydens die gratis maand weer op Vrye Weekblad inteken, wat dan van 1 November sal geld. Ná 1 November sal net ’n paar artikels maandeliks gratis wees, soos tot nou die geval was.

Ons wil jou hartlik uitnooi om dié nuwe avontuur saam met ons aan te pak.

Ons belowe dat Vrye Weekblad 3.0 jou iets gaan bied wat jy nêrens anders sal kan kry nie, iets wat jou lewe sal verryk.

Vriendelike groete

Max

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.