Die ware gesig van Zuma se ‘bose CIA-agent’

'LUCIANO'

Die ware gesig van Zuma se ‘bose CIA-agent’

‘Luciano’, die ‘CIA agent’ wat glo saamgesweer het om Jacob Zuma te laat vervolg, is toe eintlik ’n stigter van die Skerpioene en ’n invloedryke internasionale sakepersoonlikheid. André Pienaar het eksklusief uit Washington met MAX DU PREEZ gepraat.

André Pienaar
André Pienaar
Image: VERSKAF

JACOB Zuma en sy regspanne sê al jare lank dat André Pienaar ’n sinistere buitelandse agent is. Verskeie Suid-Afrikaanse joernaliste het hom as ’n skaduagtige intelligensie-operateur voorgestel.

Pienaar haal Franklin Roosevelt aan toe ek hom vra hoe hy hieroor voel: “Judge me by my enemies, not my friends.” Hy het nog nooit vir of namens die CIA gewerk nie.

Pienaar is die stigter en besturende vennoot van C5, ’n beleggingsgroep met hoofkantore in Londen en Washington wat in tegnologie spesialiseer. Hy is ’n gerekende internasionale figuur in kuberveiligheid en in die kernkrag- en ruimtenywerhede.

Dié seun van ’n Afrikaanse dominee is dalk die Suid-Afrikaanse entrepreneur met die mees uitgebreide internasionale netwerke. Navorsing oor sy lewe toon dat mense soos die gewese Amerikaanse en Britse ministers van verdediging, genl. Jim Mattis en Liam Fox, senior lede van die Britse koningshuis en die Tory establishment en die Amazon-grootbaas, Jeff Bezos, onder sy persoonlike kennisse en vriende tel.

Pienaar is ’n stigterslid van die Limitless Space Institute en dien in die rade van verskeie kuberveiligheidmaatskappye. Hy is ’n lid van die adviesraad van die Amerikaanse regering se Institute of Peace en het al in die presidentsraad van die International Crisis Group gedien.

Sy vrou, Teresa Carlson, is president van die tegnologiereus Splunk nadat sy naam gemaak het as die hoogs suksesvolle hoof van ’n filiaal van Amazon Web Services. Die egpaar is een van Washington se “power couples” en het onlangs op die voorblad van die tydskrif Washington Life gepryk.

Pienaar se media-skuheid is verstaanbaar as ’n mens kyk na wat al oor hom gepubliseer is. Die tydskrif Noseweek het hom ’n “mysterious and some say dangerous freelance intelligence operator” genoem wat in allerlei onderduimshede betrokke was, terwyl ander berigte hom óf as lid van Zuma of sy eksvrou se binnekring voorstel wat die berugte Zuma Spy Tapes uitgelek het, óf as ’n agent van die CIA en/of MI6 en sommer van Thabo Mbeki ook beskryf.

'n Lid van die polisie se beskermingseenheid sê op 21 Augutus 2005 vir 'n lid van die Skerpioene om Jacob Zuma se huis te verlaat.
'n Lid van die polisie se beskermingseenheid sê op 21 Augutus 2005 vir 'n lid van die Skerpioene om Jacob Zuma se huis te verlaat.
Image: GREG MARINOVICH

Zuma en sy regspan probeer al lank om sy vervolging weens korrupsie uit die hof gegooi te kry omdat Pienaar kwansuis as CIA-agent met die destydse hoof van die Skerpioene, Leonard McCarthy, teen Zuma saamgesweer het. Zuma het dit onlangs weer beweer in sy saak om adv. Billy Downer as aanklaer te probeer verwyder en sommer bygevoeg dat McCarthy geskenke van Pienaar ontvang het. Iemand in die intelligensiedienste het destyds McCarthy se selfoon onwettig afgeluister en teksboodskappe tussen Pienaar en McCarthy was deel van die Spy Tapes-transkripsie.

Pienaar vertel sy storie in groot besonderhede.

Sy pa was ’n dominee by gemeentes in die Suid- en Oos-Kaap. Pienaar het ’n regsgraad aan die destydse Universiteit van Port Elizabeth behaal en daarna strategiese studies aan die Universiteit van Wallis gaan studeer, waar hy deur die maatskappy Kroll, wat op korporatiewe ondersoeke en risikokonsultansie gefokus het, gewerf is.

Kroll is deur Visa International gevra om die gevaarlike toename in kredietkaartbedrog in Suid-Afrika ná 1994 te ondersoek. “Almal het skielik onthou ek is ’n Suid-Afrikaner en ek is as ’n 26-jarige na my moederland gestuur.” Dié sending sou ’n betekenisvolle nadraai vir Pienaar inhou.

Hy het ’n ontmoeting met pres. Nelson Mandela en sy adjunk, Thabo Mbeki, gehad om sy sending te verduidelik. Hulle het ingestem en Visa gevra om Pienaar se verslag met hulle te deel.

Georganiseerde misdaad op steroïede

Pienaar se ondersoek het bevind dat “georganiseerde misdaad op steroïede” in Suid-Afrika was. Mandela het hom gevra om die destydse minister van veiligheid en sekuriteit, Sidney Mufamadi, sowel as Joe Nhlanhla van intelligensie, Dullah Omar van justisie en Ronnie Kasrils van verdediging oor sy verslag in te lig.

“Mandela het georganiseerde misdaad en korrupsie as die grootste bedreiging vir nasionale sekuriteit van ’n demokratiese Suid-Afrika gesien,” sê Pienaar. “Hy en Mbeki was diep bekommerd oor die impak van georganiseerde misdaad op die ANC en was deeglik bewus van die impak daarvan op ander bevrydingsbewegings soos dié in Angola en Zimbabwe.” Hulle was ook besorg oor die ondermynende rol wat elemente in die ou apartheidsregime moontlik kon speel.

Mandela en Mbeki het Pienaar en Kroll toe gevra om hulle regering by te staan om kapasiteit te bou om georganiseerde misdaad te kan beveg. “Hulle het gesê ons wil hê jy moet die heel beste en mees ervare geregsdienaars, ondersoekers, aanklaers en intelligensiespesialiste in die wêreld vind en hulle na Suid-Afrika bring om ’n groep ANC-leiers in sleutelposisies in wetstoepassing en intelligensie op te lei, en dan ’n groep middelbestuurders.”

Pienaar sê Mandela het hom en Kroll gevra om die inisiatief te lei omdat hulle “die proses wou beheer”; iets wat dalk nie moontlik sou wees as hulle ’n regering of regeringsinstansie van buite sou gevra het nie.

Heel beste spesialiste gewerf

Pienaar het toe onder die vaandel van Kroll “van die heel, heel beste spesialiste” in veral Amerika en Brittanje gewerf. Al die ministers in die Mandela-kabinet se veiligheidsgroep het die ooreenkoms onderteken. Die proses is deur ’n interdepartementele bestuurskomitee met die betrokkenheid van al die relevante direkteurs-generaal bestuur. Dertig senior bestuurders en omtrent 60 middelbestuurders is aanvanklik opgelei.

Die projek was nie ’n geheim nie en Mandela, wat baie trots daarop was, het gesê daar behoort publisiteit daaraan gegee te word. Berigte het toe in Financial Times in Brittanje en Sunday Times in Suid-Afrika verskyn wat die opleidingsprojek verduidelik en genoem het dat gewese CIA en MI6-offisiere ook onder die opleiers was.

Die volgende stap was om die mense wat opgelei is, in ’n nuwe, onafhanklike wetstoepassingsliggaam te laat werk wat georganiseerde misdaad en korrupsie sou beveg. Die uiteinde was die Skerpioene, wat deur ’n wet van die parlement in die lewe geroep is. “Ons het nie net ’n nuwe model vir die bekamping van georganiseerde misdaad geskep deur aanklaers, speurders en intelligensie in een organisasie te kombineer nie, ons het ook die beste internasionale praktyke in wetgewing vasgelê. Ons idee was om ’n organisasie te stig wat onder die burgers geliefd en onder die misdadigers gevrees sou gewees het. Ons het ’n baie sterk fokus op etiek gehad.”

Pienaar het tot in 2004 as raadgewer vir die Skerpioene gedien, maar hy was in Londen gebaseer. Hy het in dié tyd ook die regerings van Ghana en Kenia gehelp om gesteelde bates in die buiteland op te spoor en het die VN se veiligheidsraad gehelp om Unita se bates op te spoor nadat die VN besluit het om sanksies op dié Angolese rebellebeweging toe te pas.

So waar kom sy bande met McCarthy en “Luciano” in die prentjie in?

Hoof van Skerpioene

Pienaar sê McCarthy was een van die senior mense wat in sy projek opgelei is en later die hoof van die Skerpioene geword het. Hulle was albei Afrikaanssprekend en het gou vriende geword, van 2002 af al – “ons was huisvriende, ook sy vrou, Margaret, wat ’n polisie-offisier was, en sy seun Ben”.

Die druk op McCarthy het in die aanloop tot die ANC se Polokwane-koferensie in 2007, waar Zuma vir Mbeki as ANC-leier uitgestof het, kwaai toegeneem. Pienaar sê hy het geweet van twee aanslae op McCarthy se lewe en was deur sy eie werk bewus hoe gevaarlik dit is om korrupsie te ondersoek. “Ek was baie bekommerd dat Leonard vermoor sou word.”

Net voor die ANC se konferensie het Pienaar ’n “beangste” SMS in die middel van die nag van McCarthy ontvang. “Ek was bekommerd oor my vriend en het gevoel ek moes antwoord.”

Hy het toe, soos later uit die Spy Tapes-transkripsies geblyk het, twee SMS-boodskappe aan McCarthy gestuur. Die een was ’n Bybelvers – “Leonard was ’n toegewyde Anglikaan en ek het geweet hy sal dit verstaan” – Markus 12:17: “Gee aan die keiser wat aan die keiser behoort, en aan God wat aan God behoort.” Die ander SMS was ’n Latynse frase wat lui dat ’n mens altyd jou eie familie se veiligheid voorop moet stel.

In sy antwoord daarop het McCarthy vir Pienaar “Luciano” genoem. “Dit was sommer net ’n grappie. Leonard het ’n ondeunde sin vir humor,” sê Pienaar. ’n Tyd voor dié boodskappe het McCarthy hom in Londen besoek en hulle het saam by ’n restaurant by St James met die naam Luciano gaan eet, ’n ete wat McCarthy baie geniet het.

Vriende in hoë posisies: André Pienaar saam met Bill Clinton, Amerikaanse oudpresident.
Vriende in hoë posisies: André Pienaar saam met Bill Clinton, Amerikaanse oudpresident.
Image: VERSKAF

Pluimpie vir Suid-Afrika

“Ek het nog nooit ’n kodenaam in my lewe gehad nie en het nooit met Leonard deur kode gekommunikeer nie, want ek het nooit enige ander verhouding met hom gehad as ’n persoonlike vriend en destyds die openbare adviseur vir die Skerpioene nie. Daar was nooit enigiets klandestien tussen ons nie. Ek het nooit enige geskenke aan hom gegee soos nou beweer word nie. En nee, ek het nog nooit vir of saam met die CIA gewerk nie, dis sommer nonsens,” sê Pienaar. (McCarthy is later as die mees senior anti-korrupsie-amptenaar van die Wêreldbank aangestel, “wat ’n moerse pluimpie vir Suid-Afrika was”.)

Die drie teksboodskappe tussen Pienaar en McCarthy wat waarskynlik onderskep en aan Zuma gelek is deur die Zuma-lojalis Arthur Fraser, wat toe nog by die nasionale intelligensiediens was, is die somtotaal van die getuienis dat Pienaar en McCarthy teen Zuma geheul het. Die boodskappe het uiteraard geen invloed op Zuma se vervolging gehad nie.

Pienaar sê Zuma, wat die adjunkpresident tussen 1999 en 2005 en dus deel van die kabinet se veiligheidsbondel was, weet presies wie hy is, hoe hy by die Skerpioene betrokke geraak en presies wat hy gedoen het – hulle het ’n hele paar persoonlike ontmoetings gehad. Pienaar sê dit is belangrik om te onthou dat die Skerpioene nie die wapenskandaal ontbloot het nie, maar dat dit deur Patricia de Lille se dossier aan die parlement en ’n ouditverslag deur die maatskappy Arthur Anderson op die lappe gekom het.

Sterk doel in die lewe

Pienaar sê die skinderstories oor hom en die CIA-etiket het hom erge skade berokken en sy gesin in gevaar gestel. “Maar ek glo, soos die Holocaust oorlewende Viktor Frankl gesê het, dat jy alle aanslae kan verduur as jy ’n sterk doel in die lewe het. Ek het ’n sterk sin van doelgerigtheid in my lewe en “purpose makes suffering bearable”. En dan haal hy Winston Churchill aan: “You have enemies? Good, it means you have stood up for something sometimes in your life.”

Toe Kroll in 2004 verkoop is, het Pienaar die risiko-ontledingsmaatskappy G3 met die beleggings van onder andere die welgestelde Fleming-familie begin, familielede van die beroemde bankier Robert Fleming en skepper van James Bond, Ian Fleming. Hy het G3 later aan die Sweedse maatskappy Kinnevik verkoop en die C5 gevorm.

“Ons is ’n waagkapitaalfirma wat in kuberveiligheid en ruimtenavorsing belê, en die kombinasie van die twee het daartoe gelei dat ons ook in gevorderde kernkrag en groen energie belê het.”

C5 is deel van Axiom Space Inc, ’n maatskappy in Houston wat ruimte-infrastruktuur ontwikkel, en X-energy, ’n private ontwerper van kernkragreaktors. Pienaar is opgewonde om saam met Suid-Afrikaanse kernwetenskaplikes by X-energy te werk, die mense wat die korrelbed- modulêre reaktors in Suid-Afrika ontwikkel het.

Hy is gretig om dié revolusionêre tegnologie na Suid-Afrika terug te bring – “klein modulêre reaktors wat jy op ’n trein of ’n trok kan vervoer en op enige plek kan ontplooi waar dit stabiele, veilige, skoon en effektiewe energie kan lewer”. Die Amerikaanse regering het $1.2 biljoen in die tegnologie belê.

André Pienaar en sy vrou, Teresa Carlson, op die voorblad van Washington Life.
André Pienaar en sy vrou, Teresa Carlson, op die voorblad van Washington Life.

Die plaas Westminster

Pienaar sê sy wye internasionale sosiale en sakenetwerke is grootliks te danke aan sy vennote in die Fleming-familie en in sy lang verbintenis en vriendskap met genl.maj. Gerald Cavendish Grosvenor, die 6de Hertog van Westminster. Die hertog het ’n groot liefde vir Suid-Afrika en het as jongeling heelwat tyd op sy familie se plaas in die Vrystaat deurgebring. (Die plaas en gehuggie daar rondom heet steeds Westminster en is sowat 100 km oos van Bloemfontein. Dit is deur Grosvenor se oupa se broer, wat ’n offisier in die Anglo-Boereoorlog was, aangekoop.)

Pienaar het al saam met Prins Charles en sy seuns Harry en William aan hulle bewarings- en gesondheidsprojekte gewerk en was ’n gas by William en Kate Middleton se troue. Hy is ’n trustee van die Britse David Shepherd Wildlife Trust en ’n direkteur van die International Centre for Missing and Exploited Children.

Ek vra Pienaar of hy homself primêr as ’n waagkapitalis sien. Hy lag. As kind het hy aan huis eintlik net oor die Bybel en Afrikanerpolitiek gepraat en van sake niks geweet nie. Maar sy ma se pa, wie se naam hy dra, was ’n tabakhandelaar in Patensie en dit het hom darem geprikkel. Hy gee die oorspronklike Vrye Weekblad krediet daarvoor dat dit hom dieper en wyer oor sake laat dink het.

“Ek dink meer aan myself as ’n missie-kapitalis, want ek is sterk gemotiveer deur die missies van die maatskappye by wie ek betrokke is; my missie is om die wêreld ’n veiliger en meer stabiele, vreedsame plek vir die volgende geslag te maak.”

Tipiese Calvinis

’n Tipiese Calvinis, dus? Pienaar bars uit van die lag. “Jy het dieselfde Calvinisme-geen as ek – ons moet ’n roeping hê, ons moet ander dien, ons moet die wêreld beter maak. My vrou het ook die geen; sy kom van ’n piepklein plekke in Kentucky met die naam Nancy – ons kinderjare was baie dieselfde.”

Pienaar is al drie dekades lank in die buiteland – met my Zoom-gesprek met hom is hy in Washington, maar die afspraak is gemaak toe hy nog in Londen was. En tog is sy Afrikaans vloeiend en aksentloos, hy soek net so nou en dan na die Afrikaanse weergawe van tegniese terme. “Ek praat so gereeld as wat ek kan Afrikaans, ek skryf Afrikaans, ek lees baie Afrikaans, ek bid in Afrikaans en ek vloek in Afrikaans. Ek probeer in Afrikaans dink.”

Sy hart lê nog in Suid-Afrika. Hy is diep onder die indruk van die besondere Suid-Afrikaners wat hy al ontmoet en saam met wie hy gewerk het en glo onwrikbaar aan die land se toekoms. Maar die staat sal baie beter moet doen om menslike veiligheid te verseker, sê hy, asook basiese dienste soos skoon water en energie.

“Ons moet net ophou om te verwag dat die regering alles vir ons gaan doen. Ons moet elke moontlike inisiatief onderneem, plaaslik en in ons streek, om ons probleme self op te los. Ek wil in jong entrepreneurs belê wat ons probleme kan help aanpak.

“Ek glo in Ons, die Mense,” sê Pienaar.

♦ VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer, of klik regs bo as jy op die app is. Ons hoor graag van jou!


Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.