Jakkalsies wat nie die wingerd verniel nie (en ’n pak boeke...

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Jakkalsies wat nie die wingerd verniel nie (en ’n pak boeke vir 3 gelukkige lesers)

In haar laaste Sondag-geselsbrief vir 2023 deel ANNELIESE BURGESS ’n random lys goeters wat in haar kop lê, en sy het ’n groot boekegeskenk vir drie gelukkige lesers!

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Ek groet van 'n stil Bannockburn af. Dit is die mooiste tyd van die jaar vir my hier op die familieplaas. Alles is lowergroen. Die damme is vol. En die lug ruik na rapuis en rooigras.

Hierdie is my laaste skryfsel van die jaar. En dan gaan ek vir twee weke hier tussen die berge stil raak in my kop.

Vandag deel ek sommer 'n lys random woorde, gedigte en gedagtes (en 'n video) wat ek in my dagboek aangeteken het die afgelope jaar:

1. Gökotta. Dit kom van die Sweedse woorde gök (klank van 'n koekoek) + otta (vroegoggend). Letterlik vertaal is dit die  “vroegoggend-roep van die koekoek". Gökotta gaan oor die innerlike oergevoel van dankbaarheid vir die eenvoudige plesier wat in die natuur voorkom, veral voëlgesang. Dit is 100% ons Salige Sondag-vibe!

2. Ons ry gister plaas toe. Net ander kant Cathcart sak die pad af na 'n diep vallei. 'n Dam wit wolke lê voor ons uitgestrek. “Yun hai!" roep my vriendin Emma, wat lank in Taiwan gewoon het. Yun hai (雲海) beteken “see van wolke". Dit beskryf 'n verskynsel wat bo in die hooggebergte van Sentraal-Taiwan plaasvind. In die middag sak die wolke laer as die bergpieke en bedek die land met 'n kombers van mistigheid. Die atmosferiese uitwerking is belangrik vir teeprodusente van hierdie hoogliggende gebied. Die dou en vog skep 'n klimaat wat die tee sag, geurig en delikaat maak.

Image: ILKE KING EN ANGELA TUCK

3. Hierdie week kon ek uiteindelik 'n storie oor my gunsteling-kookboeke van die jaar skryf, en ek het 'n spyskaart vir 'n feesmaal daaruit opgestel. Laat weet wat julle daarvan dink!

4. Ek verwonder my nou al maande lank oor die diepe eenvoud van hierdie gedig. Dis geskryf deur Izumi Shikibu, een van Japan se sogenaamde “onsterflike digters” uit die tiende eeu. (Sy is in 976 gebore.) Hier is die Engelse vertaling deur Jane Hirshfield en Mariko Aratani.

Even if I now saw you
only once,
I would long for you
through worlds, worlds

5. En 'n ander een, deur die Victoriaanse Skotse digter George MacDonald:

The Shortest and Sweetest of Songs
Come
Home.

6. Ek vind prêriewolwe (coyote) fassinerend. Hierdie video van 'n prêriewolf wat wag vir sy vriend die das (badger) het my laat glimlag.

7. My gunsteling-boomversiering vanjaar is dié jakkalsies. En dit inspireer my gedig van die dag, van Mary Oliver – oor 'n jakkals (scroll nog 'n bietjie verder af daarvoor).

My geskenk aan julle

Ek sluit af met 'n dankie aan elkeen van julle wat Sondae hierdie brief lees. En elkeen wat Vrye Weekblad lees. Daar is iets omtrent ons gemeenskap wat my diep roer. Ek het die laaste paar jaar met 'n hele paar Salige Sondag-lesers diep vriendskappe gesmee. Marietjie, Erwin, Dan, Hester en Lies (dankie vir my lieflike bad wat ek by julle op McGregor kom haal het het) en Rudolf en Beer uit Mauritius. En al die ander wat met my gesels in die kommentaarseksie of WhatsApp of e-pos. Ons is meer as net 'n gemeenskap van lesers: Ons is 'n familie.

Ek het drie geskenkpakkies van 10 boeke elk vir Sondag-lesers. Al wat ek vra, is dat jy Vrye Weekblad aan een persoon voorstel wat nog nie ingeteken het nie. En met ingeteken bedoel ek natuurlik gratis geregistreer. Stuur asseblief die persoon se naam na anneliese@vryeweekblad.com. En ek stuur vir drie van julle 'n pakkie van my gunstelingboeke in die nuwe jaar!

Daarmee volstaan ek vir 2023.

Salige Sondag
Anneliese


A Fox in the Dark

A fox goes by
in the headlights
like an electric shock.

Then he pauses
at the edge of the road
and the heart, if it is still alive,

feels something –
a yearning
for which we have no name

but which we may remember,
years later, in the darkness,
upon some other empty road.

- Mary Oliver, 2010

(Uit: Swan: Poems and Prose Poems)


Luister 

Image: ANGELA TUCK

VWB ♦

NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.