Desember was genade

SALIGE SONDAG MET ANNELIESE BURGESS

Desember was genade

ANNELIESE BURGESS vertel van die twee weke op die familieplaas met haar drie broers en hoe die spesiale tyd haar laat onthou het hoe die lewe sin maak. Sy deel ook 'n gedig wat die feestydperk by haar vasgesteek het, en is terug met haar gewilde paar dit-en-dat aanbevelings.

Image: ANGELA TUCK

Goeiemôre

Desember was laatmiddag-donderbuie en groen gras. Dit was vure en whiskey in swaar glase. Dit was 'n rivier in vloed. En die reuk van wilde als. Dit was braaibroodjies. En Xalangapiek in die oggendmis. Dit was stap. En tee by die mielielande. Dit was bakke umphokoqo met amasi.

Dit was 'n swerm tieners op motorfietse. Dit was bollemakiesies in die dam. En wisteria wat blom. En turksvye. Dit was my ma se blou agapante. Dit was verlange en hartseer. En die groot vreugde van wees met jou bloedmense.

Dit was 'n Kersboom met strooisterre. Dit was stoepsit. Dit was my pa se leë plek. En my ma s'n. Dit was langtafeldek met die kinders. Daar was stoele vir oupa en ouma ook. En Krismis-crackers vir almal. Dit was soetdoringtakke in blompotjies. Dit was Kersfeesliggies in die moerbeiboom.

Dit was bollings somerwolke. En my ma se loopstok in my hand. Dit was heuwels rooigras en plate geel inchololo. En my pa se mooi Bonsmara-verse.

Dit was 'n rinkhals by die rondawels. En 'n rooikeelflap met 'n stert soos 'n vaandel hoop. Dit was margaritas met regte lemmetjiesap.

Dit was antwoorde wat gekom het in die stilte.

Dit was regpak en wegpak. En 'n gemis wat soms soos glas in my keel gesteek het. My pa se plaaskeppies in die voorportaal. My ma se linnekas. Die uitgerafelde Waverely-kombers oor hulle dubbelbed. My ma se laaste lysie op die swartbord in die kombuis: “Clean Bill grave, service bakkie, buy hose, cook jam, fix guttering."

Dit was die gespikkelde lyf van 'n reusevisvanger. En honger kinders. En baie skottelgoed. Dit was vroegoggendkoffie met room – net ons vier, voor die ander wakker word. En Samuel Emmet natuurlik. Want driejariges slaap nie.

Dit was hamtoebroodjies met growwe mosterd. En beurtkrag en kerse en paraffienlampe (en geen selfoonsein). Dit was om my pa te sien in my broers se hande. En 'n lakentent in die sitkamer. En die konsertinahek op die werf wat steeds so moeilik toemaak.

Dit was die mayonnaise-bottels wat nog in 'n kastrol op die stoof gestaan het vir daai jam-maak-plan. Dit was die kleinste nefie wat leer swem. Dit was 'n kalfie bottel gee. En tieners wat help skape bymekaar maak in die berg. Dit was die reuk van my pa se plaasoorpak in die kas. Dit was diesel vat lande toe. En water na die bergkamp. Dit was my ma se stapskoene langs haar bed. Dit was wors met umngqusho en botter. Dit was Campari en Prosecco en die berge wat altyd blou is.

Desember was vir my genade.

Daarmee groet ek. Mag 2024 vir ons almal die geskenk van liefde inhou. Want uiteindelik is dit die enigste ding wat sin maak.

Salige Sondag

Anneliese


Laaste kans om daai boekpakkies los te slaan ...

Ek sal hierdie week uitkom by die boekgeskenk wat ek in my laaste brief in Desember belowe het vir enigiemand wat Vrye Weekblad aan iemand bekendstel wat nog nie geregistreer is nie. Ek was verstom oor hoe baie e-posse ek ontvang het. Ek sal dit meer gereeld moet doen!

As jy nog nie jou naam in die hoed gegooi het nie, het jy nog 'n kans om een van die drie (moontlik vier, ek sal moet sien) boekpakkies van 10 boeke te wen. Stuur vir my 'n e-pos aan anneliese@vryweekblad.com met die naam en e-pos-besonderhede van ten minste een persoon wat jy dink Vrye Weekblad sal geniet en nog nie geregistreer is nie. Nóg beter, die naam van een nuwe persoon wat jy reeds oortuig het om te registreer.

Sometimes

Sometimes
if you move carefully
through the forest,

breathing
like the ones
in the old stories,

who could cross
a shimmering bed of leaves
without a sound,

you come
to a place
whose only task

is to trouble you
with tiny
but frightening requests,

conceived out of nowhere
but in this place
beginning to lead everywhere.

Requests to stop what
you are doing right now,
and

to stop what you
are becoming
while you do it,

questions
that can make
or unmake
a life,

questions
that have patiently
waited for you,

questions
that have no right
to go away.

- David Whyte

(Uit: Everything Is Waiting for You)


Weird feit

Burger King het verlede jaar kortliks 'n burger met net 20 snye American Cheese op hulle spyskaart in Thailand gehad. Dit het as “The Real Cheeseburger" bekend gestaan. Net brood en 'n homp geprosesseerde kaas. Geen vleis, sous of groente nie. Wat sou enigiemand besiel om dit te maak, of te eet? Bron.

Interessantheid

Die grootste musiekinstrument ter wêreld is ondergronds in 'n grot in Virginia. Lees hier oor die “Stalacpipe" Orrel. Dit fassineer my.

4 lekker lyste

Lekkerste resep van die vakansie

Loshande die lekkerste ding wat ek die vakansie gemaak het (trouens twee keer), kom uit die kookboek Mecsla, van Ixta Belfrage.

Dit was een van my top kookboeke van 2023.

Die resep is: “Bavette steak with tomatoes and maple butter", maar gebruik enige steak-snit wat jy in repe kan sny. Soos met enige minimalistiese resep, lê die geheim in die kwaliteit van die bestanddele. Ek het wonderlike grassfed steaks van die plaas gebruik. En ek het tamaties gehad van ons bure wat daarmee boer. Die enigste eksotiese bestanddeel is black lime wat ek toevallig gehad het, maar ek dink sumac en lemmetjiesap sal net so goed werk. As jy nie haar boek het nie, is hierdie verwerking van haar resep 'n goeie plek om inspirasie daarvoor te kry.

Luister 

VWB ♦


NEEM DEEL AAN DIE GESPREK: Gaan na heel onder op hierdie bladsy om op hierdie artikel kommentaar te lewer. Ons hoor graag van jou.

Speech Bubbles

Om kommentaar te lewer op hierdie artikel, registreer (dis vinnig en gratis) of meld aan.

Lees eers Vrye Weekblad se Kommentaarbeleid voor jy kommentaar lewer.